Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ná hofuitspraak vra al hoe meer vir kiesafdeling-verkiesings

Die uitspraak van die konstitusionele hof dat die Kieswet ongrondwetlik is, kan daartoe lei dat daar weer gekyk kan word na verkiesings op nasionale en provinsiale vlak volgens ’n kiesafdeling- en ’n proporsionele verteenwoordigingsbasis.

Só het prof. Erwin Schwella, ’n regeerkundige van die Universiteit van Tilburg in Nederland en die Hugenote-kollege in Wellington, gesê nadat die konstitusionele hof beslis het dit is ongrondwetlik dat onafhanklike kandidate nie aan verkiesings op dié twee regeringsvlakke mag deelneem nie.

Die Verkiesingstaakspan het in die 1990’s, ná ’n ondersoek deur die oud-opposisieleier wyle dr. Frederik Van Zyl Slabbert in opdrag van die regering van oudpres. Nelson Mandela, voorgestel dat verkiesings op ’n kiesafdelingsgrondslag plaasvind saam met die moontlikheid van proporsionele verteenwoordiging.

Dié plan het egter sedertdien iewers in die Uniegebou in Pretoria gelê en stof opgaar.

Dieselfde het gebeur met ’n soortgelyke voorstel van ’n paneel wat gelei is deur oudpres. Kgalema Motlanthe.

Die konstitusionele hof het die parlement Donderdag 24 maande tyd gegee om die Kieswet te herskryf om dit moontlik te maak vir onafhanklike kandidate om aan die verkiesing deel te neem.

Dié aansoek is gebring deur die nieregeringsorganisasie New Nation Movement en ander partye, nadat die hooggeregshof in Kaapstad vroeër ’n soortgelyke aansoek van die hand gewys het.

Die aansoekers het aangevoer politieke partye kan nie ’n monopolie op politiek in die land hê nie.

Die konstitusionele hof het saamgestem en bevind die Kieswet is ongrondwetlik.

Tot dusver kon onafhanklike kandidate slegs op plaaslike vlak aan munisipale verkiesings deelneem.

‘Mag moet terug na die kiesers’

“Dit is tyd dat die mag teruggaan na die mense (kiesers). Wat nou nodig is, is meer verantwoordbaarheid,” het die New Nation Movement se dr. Michael Louis kort ná die uitspraak gesê.

Hy meen dit is onvermydelik dat die kiesafdelingstelsel met die volgende algemene en provinsiale verkiesing terug sal wees.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het in ’n verklaring ná dié party se nasionale werkkomitee (NWK) se beraadslaging, gesê in die lig van die Grondwet se vereiste vir proporsionele verteenwoordiging het die NWK “die moontlike bekendstelling van elemente van ’n kiesafdelingstelsel” bespreek.

Die moontlikheid is ook bespreek dat die nasionale, provinsiale en plaaslike verkiesings in die toekoms op dieselfde dag sal plaasvind en dat kiesers voortaan elektronies sal kan stem.

‘Die helfte van parlementslede moet verkies word’

Herman Mashaba, stigter van die organisasie People’s Dialogue wat in Augustus as ’n politieke party geregistreer sal word, het gesê die hof se uitspraak is die ideale geleentheid om ’n gemengde kiesstelsel daar te stel.

Hy meen minstens die helfte van die 400 verteenwoordigers in die parlement moet regstreeks deur kiesafdelings verkies word.

Op dié manier sal die kiesers die parlementslede en lede van die provinsiale wetgewers wat hulle verkies het, verantwoordelik kan hou, meen Mashaba.

Die raad vir die bevordering van die Grondwet (Casac) het in ’n verklaring gesê daar moet opnuut na die verslae van Slabbert en Motlanthe gekyk word om die kiesstelsel te verander ten einde die verantwoordbaarheid van verkose lede te verhoog.

‘Pasop, dit sal die ANC bevoordeel’

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gewaarsku die konstitusionele hof se uitspraak moet met omsigtigheid benader word.

“’n Verandering aan die huidige kiesstelsel kan van so ’n aard wees dat dit die ANC kan bevoordeel en meer setels aan hom in die parlement besorg.”

Groenewald sê daar bestaan ’n wanindruk dat dit die kiesstelsel is wat die verantwoordbaarheid van parlementslede en provinsiale wetgewers moet verseker.

Hy sê Slabbert het dit destyds in sy verslag duidelik gemaak dit is die betrokke politieke partye wat moet seker maak dat hul verteenwoordigers verantwoordbaar is teenoor die kiesers. Die kiesstelsel kan dit nie doen nie.

‘Stel kiesers voorop, nie partye’

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), wat as ’n sogenaamde vriend van die hof deel was van die saak in die konstitusionele hof, sê die hof se uitspraak skep die geleentheid om “betekenisvolle” wysings aan die Kieswet aan te bring.

Dit kan daartoe bydra dat politieke partye en parlementslede nie meer die belang van hul party bo dié van die land se mense stel nie.

Die parlement het in ’n verklaring gesê hy berus hom by die uitspraak, terwyl Glen Mashinini, voorsitter van die Verkiesingskommissie (OVK), in ’n verklaring gesê het die OVK verwelkom “die duidelikheid wat die hofuitspraak bring”. Hy bestudeer nog die uitspraak.

Schwella het gesê dit sal “fyn dink- en regswerk” verg om die wysigings aan die Kieswet binne die 24 maande in plek te kry.

Die moontlikheid bestaan dat die wysigings opnuut in die konstitusionele hof getoets sal word om seker te maak dat “dit wesentlik voldoen aan die nou aanvaarde grondwetlike regsbeginsel van rasionaliteit”.

Hy sê die vraag as ’n nuwe kiesstelsel volgens kiesafdelings- en ’n proporsionele verteenwoordigingsbasis werk, in watter verdeling sal dit wees – met ander woorde hoeveel setels vir kiesafdelings en hoeveel vir proporsionele verteenwoordiging.

Volledige kiesafdelingverteenwoordiging sal minderheidsgroepe benadeel. Volgens die huidige proporsionele stelsel is oorsig en aanspreeklikheid moeiliker, want die aanspreeklikheid is teenoor die party eerder as die kiesers.

Schwella sê die konstitusionele hof het met sy uitspraak Donderdag opnuut sy onafhanklikheid bevestig

‘Dit sal nie ’n verskil maak aan magsbalanse’

Tensy ’n onafhanklike kandidaat “baie bekend of uiters charismaties is” sal dit vir hom of haar in die huidige kiesstelsel byna onmoontlik wees om op nasionale of provinsiale vlak verkies te word.

Dit is die mening van die politieke wetenskaplike dr. Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit.

Om in die nasionale verkiesing tot parlementslid verkies te word, sal die kandidaat waarskynlik sowat 40 000 op hom of haar moet verenig.

Die deelname van onafhanklike kandidate sal wel die deur oopmaak vir ’n informele koalisie van onafhanklike kandidate wat wegbreek van een van die groter politieke partye, sê Croucamp.

“Sowel die ANC as die EFF kan geteister word deur so ’n moontlikheid wanneer korrupsie-hofsake hulle sal dwing om ’n kartel van ‘gewondes wat nog kan loop’ van hul partylyste te verwyder.

“Dit (die uitspraak) skep nuwe spelreëls en die politiek sal mettertyd geboorte gegee aan interessante nuwe permutasies.

“Politiek kry dikwels ’n nuwe identiteit wanneer die spelreëls verander,” meen Croucamp.

Schwella meen alles in ag genome sal onafhanklike kandidate nie ’n wesentlike verskil aan magsbalanse maak nie.

“Dit mag wel simbolies en prinsipieel bydra tot die verbreding van ons grondwetlike bedeling.”

Só werk die verkiesings nou

Verkiesings word elke vyf jaar gehou.

Die plaaslike en nasionale verkiesing vind dieselfde dag plaas en die plaaslike verkiesing twee jaar later.

Elke party besluit vooraf op ’n lys van kandidate en setels word dan toegeken op grond van die getal stemme wat die party op hom verenig het. Dit hang af van die getal setels in die parlement en die nege provinsiale wetgewers.

Die proporsionele verteenwoordiging word toegeken op grond van die getal stemme wat die betrokke party in ’n bepaalde verkiesing gekry het.

Meer oor:  Konstitusionele Hof  |  Hofuitspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.