Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Name op kiesrol ‘maak plaaslik meer saak’

Kiesersadresse is ’n belangrike beheermaatreël in enige verkiesing, maar dis minder belangrik in ’n nasionale en provinsiale verkiesing as in plaaslike verkiesings.

Dít is die mening van kenners soos Lawson Naidoo van die grondwet-waghondorganisasie Casac, en Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus.

Venter sê die kwessie oor kiesersadresse op die rol was nog nie tevore met nasionale verkiesings ’n twispunt nie. Dit het egter nou ’n kwessie geword nadat die nasionale kiesrol in 2016 ongeldig verklaar is toe dit tydens plaaslike verkiesings aan die lig gekom het net 34% van kiesers se adresse verskyn op die rol.

“Die gehalte van die kiesrol sal dus nou altyd bevraagteken word,” sê Venter. Hy meen egter al is die volle 18% van kiesers wie se adresse nog nie op die rol verskyn nie, teen die 2019-verkiesing steeds nie beskikbaar nie, sal dit nie ’n groot impak op die geldigheid en geloofwaardigheid van die verkiesing hê nie.

“Sowat 10 miljoen Suid-Afrikaners doen in elk geval nie die moeite om te registreer nie. Ek sou eerder op die positiewe fokus, naamlik dit wat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) reeds bereik het. Dit is inderdaad ook waar dat ’n mens in elk geval nie kan gaan stem by ’n stasie waar jy nie geregistreer het nie. Ekself is ’n voorbeeld van iemand wat selde provinsiaal kan stem omdat ek tydens verkiesings dikwels nie in my tuisstad is nie. Dan stem ek maar net nasionaal.”

Naidoo van Casac sê die 2019-verkiesing sal steeds kan voortgaan, al staan die konstitusionele hof die OVK se aansoek om uitstel toe. “Die kieserslys sal dan tydens die verkiesing gebruik word soos dit tans is. Adresse is baie belangriker in plaaslike en munisipale verkiesings, waar kiesdistrikte deur adresse bepaal word. Dit sou redelik vir die hof wees om die OVK se uitstel-aansoek toe te staan, maar binne streng tydraamwerk-beperkings.”

Lawson sê indien die konstitusionele hof nie die uitstel toestaan nie, sal diegene wie se adresse teen die tyd van die verkiesing nie bevestig is nie, van die kieserslys verwyder word en sal hulle nie kan stem nie.

Prof. Shadrack Gutto, ’n grondwetkenner aan Unisa, sê daar is niks fout daarmee dat die OVK om uitstel vra nie. “Dit is belangrik dat hulle die werk doen wat hulle gevra is om te doen en ons ’n geloofwaardige kiesrol het.”

Meer oor:  Nwu  |  Verkiesing  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.