Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nampo Kaap: Landbouers, staat ‘praat nou saam’

Die landbou het in die laaste paar maande ’n punt bereik waar hy met die regering oor die grondvraag praat en nie verby mekaar nie in die poging om volhoubare oplossings te vind.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê daar was vir’n lang tyd geen gesprek wat plaasgevind het nie, terwyl daar op grondvlak stappe gedoen is om hervorming en transformasie in die landbou te bewerkstellig

“In die laaste twee maande het ons die eerste keer met mekaar begin praat en dit het nuwe energie gebring om net te sê hoe vind ons oplossings vir ’n nuwe toekoms.”

De Villiers het Woensdag gepraat by ’n gespreksessie op die eerste dag van die Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp.

“My mening is dat ons dalk bloedspatsels van die kante af kan sien met die proses vorentoe, maar nie ’n bloedbad of ’n Zimbabwe-scenario nie. Alles word nie deur die media berig nie, maar hier is mense wat in die middel staan en ’n volhoubare oplossing soek. Daar is waardering vir waarvoor ons mee besig is; nou moet ons begin vertroue bou.”

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, het die gesprek – met die tema “Hoe skep ons nuwe energie in landbou?” – gelei.

Volgens Vorster is die debat oor die moontlike wysiging van art. 25 van die grondwet “soos ’n nat handdoek oor die landbousektor, waarin mense binne die gesprek vasgevang word”.

Van links is Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, Chris Burgess, die redakteur van Landbouweekblad, Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede en landbou, en André Uys, uitvoerende hoof van Acorn Agri & Food, tydens ’n gespreksessie op die eerste dag van die Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp. Foto: JACO MARAIS
Theo Vorster, die uitvoerende hoof van Galileo Capital, praat Woensdag by die Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp. Foto: JACO MARAIS

Hy het egter daarop gewys dat grondhervorming reeds vir meer as 20 jaar al beleid is en in die grondwet aangemoedig word.

Volgens De Villiers is daar mense met “ ’n klomp vrese en ander met ’n klomp woede oor die verlede”.

“Dit is twee emosies wat moeilik is om in ’n vergadering te bestuur en dit is waar die land nou is. Ons moet maar die bultjie uitklim.”

Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede en landbou, sê die droogte in die provinsie was waarskynlik die groot probleem vir die landbou, eerder as die gronddebat.

“As ek kyk na die syfers is ons as ’n gebied nog besig om te groei, daar is wynplase wat ek meen nog onder geweldige druk is.”

Jannie de Villiers, die uitvoerende hoof van Graan SA, praat Woensdag by die Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp. Foto: JACO MARAIS

Volgens Winde is daar egter “positiwiteit” in die Wes-Kaapse landbou ná die droogte, met ’n sterk groei in uitvoer na Afrika en China.

“Beleggings in sitrus was ongelooflik die laaste paar jaar en as jy kyk na bloubessies groei ons met 44%, en ons het nog net begin.”

Wat grondhervorming betref, het Winde verwys na die opstel van die nasionale ontwikkelingsplan waar daar gesê is dat die regering te veel wil betrokke raak en eerder net moet fasiliteer.

“Die landbou sal dit self kan regkry en ons moet sorg dat daai ondersteuning gereed is, want die landbou weet wat die risiko’s is.”

Vorster het die paneel ook gevra oor die mediaberigte dat ’n “tegniese resessie” aan swak groei in die landbou toegeskryf is, glo weens die gronddebat.

Alan Winde, die Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede en landbou. Foto: JACO MARAIS

De Villiers het dit verwerp en daarop gewys dat graanboere tans oes wat hulle in Oktober (verlede jaar) al geplant het, “toe die ANC nie eens dié beleid gehad het nie”.

“Ons het die afgelope jaar gesukkel – en selfs nou nog op plekke – om die mielies van die land af te kry. Dit het eenvoudig stadiger afgedroog en ons weet die oes was oor die algemeen ’n paar ton minder as die vorige rekordoeste.”

Dié oeste wat later plaasvind, is nog nie in berekening gebring toe die bruto binnelandse produk bepaal is nie.

Chris Burgess, die redakteur van Landbouweekblad, sê die onlangse grondberaad wat deur Landbouweekblad aangebied is, het weer eens gewys “hoeveel slim, kundige mense daar is wat ’n verskil kan maak”.

“Die groot probleem is die media in die land. Ek dink nie hulle stel daarin belang om die positiewe stories te vertel nie. Ek dink nie dit pas by hul agenda nie.”

Jackson Phendu van OVK wys hoe ’n skaap met ’n elektriese skêr geskeer word by die Nampo Kaap-landbouskou in Bredasdorp.Foto: JACO MARAIS
Marius Laban van Bredasdorp toets hoe sterk hy is, terwyl leerders van die Hoër Landbouskool Boland by die Nampo Kaap-landbouskou toekyk. Foto:JACO MARAIS
Wilru Burger van Hoër Landbouskool Boland toets sy krag by ’n uitstalling van die Nampo Kaap-landbouskou.Foto: JACO MARAIS
Besoekers aan die Nampo Kaap-landbouskou kyk Woensdag na die trekkers, stropers en ander masjinerie wat op Bredasdorp uitgestal word. Foto: JACO MARAIS
Tertius le Roux van Riversdal loop Woensdag by Nampo Kaap op Bredasdorp met een van die miniatuurperde waarmee hy op Paddavlei teel. Foto: JACO MARAISs
  • Die Nampo Kaap-skou duur tot Vrydag, met meer as 300 uitstallers. Teen 10:00 Woensdag was daar reeds 2 500 besoekers deur die hekke.

  • Die gesprekke by Nampo Kaap word regstreeks uitgesaai en kan hier gekyk word:

Meer oor:  Graan Sa  |  Theo Vorster  |  Alan Winde  |  Jannie De Villiers  |  Bredasdorp  |  Grond  |  Nampo Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.