Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nampo Kaap: Ons is hier om te bly, sê boere

Boere wat die eerste Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp besoek het, het aan Netwerk24 vertel dat hulle steeds positief oor die Suid-Afrikaanse landbou is en hier is om te bly.

Dié landbouskou het meer as 300 uitstallers gehad en altesaam 16 245 besoekers ontvang. Dit het van Woensdag tot Vrydag geduur.

Lourens Jonker, ’n “byna afgetrede” wynboer van Bonnievale, sê die “storie van onteiening sonder vergoeding is iets wat nooit in die praktyk sal kan werk nie”.

“Dit ontstel my nie, ek dink nie daar gaan enigiets van kom nie, want as ’n boerdery eers aan die gang is en doeltreffend bestuur word, sal hulle nie met jou lol nie.

Hennie Pienaar, ‘n merinoboer van Vleesbaai, is aangewys as wenner in die ope-afdeling en die algehele wenner van die BKB-Skaaptelkompetisie by die Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp. Deelnemers moet ‘n trop skape tel soos hulle verby die deelnemers in ‘n drukgang afhardloop. Foto: JACO MARAIS
Beeste word vertoon tydens ’n kompetisie Vrydag by die Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp.Foto: JACO MARAIS
’n Skou en kompetisie vir melkkoeie is Vrydag by die Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp gehou.Foto: JACO MARAIS

Dis net onmoontlik, want wat gaan met die banke gebeur?”

Jonker sê hy het al gereeld in die buiteland gereis en sal nie enigsins probeer om buite Suid-Afrika te boer nie.

“Ek sê altyd vir vriende: Ek bly op Bonnievale, kan my motor na Stilbaai toe vat, ek kan na die Kruger-wildtuin ry of enige plek in die land. Daar is net soveel verskeidenheid om te geniet.

“Ek weet daar is jongmense wat sukkel om geleenthede te vind en elders gaan soek, maar daar is ook van hulle wat wil terugkeer.”

Alfreda Mars, graan- en skaapboer op Middelpos by Moorreesburg, sê sy bly “baie positief oor die toekoms in die land”.

“Transformasie moet wel plaasvind, maar ek dink ons as boere moet versekering kry oor die grondkwessie. Wat jy opgebou het, kan niemand anders afbreek nie. Dis baie belangrik dat ons gemoedsrus het.”

Volgens Mars is daar nie groener weivelde nie. “Ons is almal Suid-Afrikaners, so die proses sal moet uitwerk.”

Sy het tot dusver nie probleme met misdaad gehad nie, maar sê die kwessie van plaasmoorde “is nie ’n ding wat goed afgaan by enige boer nie”.

“Sommige kere voel ’n mens jy kan uitbeweeg, maar nie as gevolg van die toestande in Suid-Afrika nie. Jy sien dalk daar is dinge wat jy beter kan doen en as ’n jonger boer lyk dit aantreklik, maar Suid-Afrika bly die plek waar ek wil wees.”

Een van die deelnemers aan ’n kompetisie vir melkkoeie staan Vrydag by die koei wat hy ingeskryf het met die laaste dag van die Nampo Kaap-landbouskou op Bredasdorp. Foto: JACO MARAIS
Die sonsopkoms Vrydag oor kanolavelde buite Bredasdorp, die gasheerdorp van die Nampo Kaap-landbouskou wat Vrydag tot ’n einde geloop het. Foto: JACO MARAIS

Whernit Dirks, ’n graan- en veeboer van Piketberg, sê hy is nie “gepla” deur sprake van grondonteiening nie en fokus eerder “op my plaas en om ’n sukses daarvan te maak”.

“Ek bly opgewonde oor die toekoms. Misdaad en plaasaanvalle is minder van ’n bekommernis as die situasie ná die droogte wat van die ergste in 100 jaar was en die bedryf onder spanning plaas. Ek is meer bekommerd oor die houding van die bank of agribesighede as onteiening of misdaad.”

Dirks sê hy het nog nooit gekyk na die geleenthede in die buiteland nie. “Hier is ek gemaak en gelaat staan. Hier wil ek boer, want ek voel veilig.”

Melanie Albertyn, ’n boervrou en die eienaar van die Nacht Wacht Restaurant buite Bredasdorp, sê ook dit help nie om groener weivelde te gaan soek nie. “Die lewensgehalte wat ons hier het, gaan jy nie elders vind nie.”

Hoewel die debat oor grondonteiening in hul agterkop bly, sê Albertyn sy is “baie positief oor die toekoms”.

“Dit gaan nie help om nou te gaan lê nie. Jy kan ook nie op jou louere rus nie en veiligheid bly belangrik, maar in dié omgewing ervaar ons nie so baie geweld of aanvalle as ander plekke nie”.

Volgens haar het elke land maar sy probleme en “ken ons ten minste die probleme hier”. “Die plaas is al van 1895 af in die familie. Dit is ons erfenis.”

Francois Viljoen, ’n saai-, skaap- en melkboer van Riviersonderend, meen die toekoms van die landbou in Suid-Afrika is rooskleurig, “jy moet net die wil hê om dit te doen”.

“Ek dink die nuwe storie van grondonteiening is baie polities gedrewe en oor ’n jaar sal baie van dit gaan lê. So, ek en my kinders is positief. Ons voel nog veilig en as jy proaktief in jou boerdery is, dan is jy ook veiliger.”

Viljoen sê daar is altyd die moontlikheid om in die buiteland te belê, maar die antwoord is nie om grond te koop nie. “Ek sal eerder hier grond koop, want daar is nou bietjie van ’n gaping in die mark. Almal is nou bietjie bang vir koop.”

Erik Odendal, ’n finalejaar-landboustudent by die Elsenburg-landboukollege, sê hy sien beslis ook vir hom ’n toekoms in die landbou. “Hulle sê dis onveilig, maar ek voel werklikwaar nie onveilig nie. So ek wil bly en werk in die landbou. Daar is dalk groener weivelde as jy bietjie wil gaan geldmaak, maar ek is hier om te bly. Aan almal wat vir my sê dat ek oorsee moet gaan, sê ek as ek moet gaan, dan sal dit as ’n vlugteling eerder as immigrant wees.”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.