Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nampo: Kommer oor grond onnodig – of dalk nie

Moeletsi Mbeki, politieke ontleder, sakeman en boer, sê landbouers en grondeienaars hoef nie slapelose nagte oor grondonteiening sonder vergoeding te hê nie.

Hy het in ’n gesprek op die eerste dag van die Nampo-oesdag buite Bothaville gesê grondonteiening sonder vergoeding is “net ’n geraas van die ANC en ’n groot leuen”.

“Dit gaan nie oor grond nie, maar oor verlore stemme wat die ANC wil probeer terugwen om nie ’n verkiesing te verloor nie. Hulle dink hulle kan stemme terugkry deur wit Suid-Afrikaners aan te val. Grondonteiening word net as ’n dekmantel gebruik.

“Die ANC is in ’n doodloopstraat. Sy ekonomiese beleid werk nie. My raad aan wit mense en landbouers is om hulle bloot te ignoreer.”

Die paneellede van ’n gesprek oor grondonteiening op die Nampo-oesdag van links Moeletsi Mbeki (politieke ontleder), Roelf Meyer (oudminister), Mosiuoa Lekota (Cope-leier), John Steenhuisen (DA-hoofsweep) en Kallie Kriel (uitvoerende hoof, AfriForum). Foto: Mlungisi Louw

Mosiuoa Lekota, Cope-leier, deel dié siening.

“Ek verseker jou, die meeste swart mense stem nie daarmee saam nie. Pres. Cyril Ramaphosa is onder ’n wanindruk. Selfs in die ANC is daar baie mense wat nie daarmee saamstem nie.”

Roelf Meyer, oudminister, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê egter dit is nie so eenvoudig nie.

“Ons het dit al voorheen gesien - in Zimbabwe. Boere met wie ons daar gepraat het, sê hulle het ook gedink dit is net politieke praatjies wat sou oorwaai,” sê Kriel.

“Die realiteite laat ons besef daar is rede om dit ernstig op te neem. Ons weet (wel) die ekonomie sal verwoes word as die beleid deurgevoer word.”

Volgens die laaste finansiële state is net 2% van die besteebare begroting aan grondeise bestee. Meer geld het aan BBP-beskerming vir kabinetslede gegaan.
John Steenhuisen

Volgens Kriel het die staat meer as 4 000 plase teen R45 miljard gekoop, maar net 6% van dié aankope het op titelaktes uitgeloop. “As jy nie titelaktes vir jou eiendom het nie, kan jy nie finansiering kry om jou boerdery uit te brei nie.”

Meyer sê hy dink nie die grondkwessie sal voor of ná volgende jaar se verkiesing verdwyn nie. “Dit gaan deel van die debat bly; dit gaan oor ’n vlak van frustrasie onder werkloses en die kwessie word ook aan menswaardigheid gekoppel.”

Volgens Lekota sal grondhervorming misluk as grond net links en regs uitgedeel word en nie met opleiding gepaardgaan nie.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, sê die onsekerheid rondom grond hou baie beleggers terug.

“Hulle is nie bang vir risko’s nie, dis die gebrek aan sekerheid wat hulle daarvan weerhou om te belê. Gevolglik word die skep van baie moontlike werksgeleenthede in die landbou vertraag en maak die landbousektor nou net 5% van die land se indiensneming uit.”

Bykans al die paneellede het die regering se traagheid gekritiseer om grondeise te verwerk.

Steenhuisen sê die Grondwet kan nie as rede daarvoor voorgehou word nie, maar eerder die regering se mislukking in beleid en uitvoering.

“Volgens die laaste finansiële state is net 2% van die besteebare begroting aan grondeise bestee. Meer geld het aan BBP-beskerming vir kabinetslede gegaan. Dit sê iets van die regering se prioriteite.”

Meer oor:  Afriforum  |  Nampo-Oesdag  |  Kallie Kriel  |  Moeletsi Mbeki  |  Roelf Meyer  |  Mosiuoa Lekota  |  Bothaville  |  Nampo  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.