Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nasie in Gesprek: ‘Mense het vertroue in Ramaphosa’

Heelwat wit mense in Johannesburg het in die pas afgelope algemene verkiesing nasionaal vir die ANC gestem, het die oud-diplomaat Malcolm Ferguson, ’n lid van die gehoor, op Dinsdag se paneelbespreking Nasie in Gesprek op die Nampo Oesdag gesê.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het die bespreking met die tema “Landbou ná die verkiesing” gelei.

Ferguson sê mense het vir die ANC gestem omdat hulle vertroue in pres. Cyril Ramaphosa het.

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, en Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, was op die Nampo Oesdag deel van ’n bespreking oor landbou ná vanjaar se verkiesing.Foto: Alet van der Walt

Die paneellede was Roelf Meyer, direkteur van die In Transformasie-inisiatief, Konanani Liphadzi, hoof van Vrugte Suid-Afrika, Venter en Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad.

Venter sê die VF Plus het stemme na regs gewen, terwyl die EFF stemme na links gekry het. Die DA en ANC het stemme afgestaan.

Konserwatiewe Engelssprekendes het ook vir die VF Plus gestem, het Venter gesê.

Die “gatvol”-faktor by wit mense is baie hoog en die tyd sal leer of dié mense se verskuiwing na die VF Plus ’n neiging is wat gaan voortduur en of dit net eenmalig was, sê Venter.

Op ’n vraag van Venter wat Ramaphosa moet doen om landbou te ontwikkel, het Burgess gesê markte moet uitbrei, en dit is onaanvaarbaar dat wolboere deur die uitbreking van bek-en-klouseer geknou word.

Die regering moet toesien dat die landbou-omgewing gesond bly.

“Sagte lenings is nodig en uitvoermarkte moet ontwikkel word,” sê hy.

“Maniere moet gekry word om die platteland te laat herleef. Groot townships wat om klein dorpies gebou word, is nie volhoubaar nie.”

Boere moet die reg hê om sonkrag aan Eskom te verkoop, en herlewingslandbou is nodig om droogtes teen te werk, sê Burgess.

Hy glo ook besluite oor grondhervorming en hoe dit toegepas word, moet op grondvlak geneem word, omdat dit die mense is wat weet wat nodig is vir die bemagtiging van boere.

Meyer sê hy weet nog nie of daar ná die verkiesing enige winde van verandering begin waai het nie. “Ons sal moet sien wie is in die kabinet.”

Hy glo die verkiesing was die laaste waar die ANC dit as vanselfsprekend kon aanvaar dat hy sou wen.

Hy sê 20 sektore het planne aan Ramaphosa voorgelê oor hoe om die ekonomie te stimuleer en die onderskeie sektore te laat groei.

Liphadzi sê daar is ’n vakuum in die politieke middelgrond. Dit moet verander.

“Die stelsel moet verander word om die meerderheid mense te akkommodeer, anders gaan ektremiste al hoe meer word,” sê Liphadzi.

“Die regering moet toesien dat die stelsels daar is sodat die landbousektor nie buitelandse markte verloor nie,” sê sy.

Venter sê onteiening sonder vergoeding bly ’n groot vraagstuk en hy glo dit gaan nog lank duur om die grondkwessie op te los.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Theo Venter  |  Roelf Meyer  |  Politiek  |  Landbou  |  Stemuitslae  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.