Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nasionale tesourie gryp in by Mangaung-metro

Die nasionale tesourie het ingegryp by die sukkelende Mangaung-metro.

Die tesourie is vandeesweek in Bloemfontein vir ’n reeks samesprekings om ’n herstelplan vir die metro op te stel.

Die Vrystaatse provinsiale regering en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake is ook betrokke.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die Mangaung-metro.Foto: Dumelang News

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, sê die nasionale tesourie wil hê die metro moet wys hoe R800 miljoen in sy begroting bespaar kan word.

Hy sê ook die herstelplan wentel daarom om die agterstande in dienslewering in te haal. Om dit te bereik, is twee masjiene waarmee riole uitgesuig kan word, vandeesweek gekry, terwyl nog agt voertuie aangekoop is.

“Hieronder tel kompakteerders wat sal help dat vullisverwydering meer gereeld kan plaasvind. Daar is groot probleme met die stad se vullisverwydering omdat net enkele kompakteerders in werkende toestand is.”

Khedama sê die kompakteerders sal einde Junie by die metro afgelewer word.

Khedama wou nie reageer op gerugte dat Olly Mlamleli, die burgemeester, as ambassadeur na Indië gepos gaan word, of dat sy dalk die speaker van die Vrystaatse wetgewer gaan word nie.

“Dit is die ANC wat oor haar toekoms moet praat. Ons by die metro wil liefs oor administratiewe kwessies praat, aangesien dit die veld is waarin ons werk.”

Thabo Meeko, woordvoerder van die Vrystaatse ANC, was nie beskikbaar toe hy herhaaldelik hieroor gebel is nie.

DA-raadslede, onder wie Dulandi Leech, Hans Britz en Hardie Viviers, die DA-koukusleier, het vroeër vandeesmaand op ’n nuuskonferensie gesê watter stappe hulle gaan doen om die burgemeester en die munisipaliteit by die relevante owerhede te verkla.

Verskeie klagte is ook by die openbare beskermer (OB) se kantoor oor swak dienslewering ingedien.

Dié stappe kom nadat foutiewe en bedrieglike openbare prosesse na bewering gevolg is voordat die konsep- Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en die stad se begroting ter tafel gelê is.

Die DA beweer:

  • Die begroting is nie geloofwaardig nie en die bedryfsbegroting is vol onsekerhede. Daar is noodsaaklike inligting wat nie in die kapitaalbegroting is nie.
  • Daar was beleidsveranderings in die metro waaroor die publiek ingelig moes gewees het.
  • Riglyne van die nasionale tesourie vir die opstel van die GOP en die begroting, is geïgnoreer.
  • Die konsepbegroting het daarvoor voorsiening gemaak dat die enorme salarisrekening verder toeneem. Dit stel die volhoubaarheid van die metro in gevaar.
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.