Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nat kragkabels in NK-wetgewer se gebou ’n ‘tydbom’

Nehawu gaan klagte by die Valke indien oor vermoedens van korrupsie met die herstelwerk aan die gebou van die Noord-Kaapse wetgewer in Kimberley waar hulle onveilig voel.

Odirile Mashati, Lucky Sedisho en Ntsikelelo Tsandu, bestuurslede van Nehawu, is bekommerd oor ondergrondse water wat in die elektriese netwerk van die gebou instoot. Foto: Charné Kemp

Dit kom ná ’n ondersoek en verslag deur ’n beroepsveiligheidsmaatskappy waarin “verdoemende bevindings” oor die gevaarlike toestand van die gebouekompleks gemaak is.

Só sê Ntsikelelo Tsandu, voorsitter van Nehawu se wetgewertak, wat meen dat die swak toestand van die gebou ’n “tydbom” is.

Vakbondlede wat die verslag vandeesweek ontvang het, het Dinsdag vir werk aangemeld, maar weens vrese oor hul veiligheid die gebou verlaat.

Tsandu sê die gebou is ondanks onlangse herstelwerk van R30 miljoen steeds in ’n haglike toestand.

“Die vensterrame trek uit die mure, water sypel in die fondamente in, en betonwerk, elektriese kabels en die kragopwekker word nie gereeld nagegaan nie.

“Ondergrondse water stoot in die kelder op waar groot elektriese transformators is. Daar is nie elektriese werk gedoen nie. Wit merke waar die water insypel en teen die mure opkruip, toon dat die betonwerk verswak.

“Die lugversorgers werk nie en sekere badkamers het nie eens wasbakke nie.

Lede van Nehawu sê elektriese kabels in mangate lê in water wat van onder die grond opstoot. Foto: Charné Kemp

“Vir die eerste keer in ons demokratiese geskiedenis kos dit R30 miljoen om nuwe teëls en nuwe toilette te installeer.

“Daar word nie aan beroepsgesondheids- en veiligheidstandaarde voldoen nie. Werkers neem siekverlof weens die gevaarlike toestande.”

Werkers in die Noord-Kaapse wetgewer is bekommerd oor die onveilige toestande in die gebou, onder meer weens ondergrondse water wat elektriese kabels natmaak. Foto: Charné Kemp

Tsandu sê die regerende party en opposisiepartye is doodstil. “Ons gaan klagtes by die Valke indien.”

Pakes Dikgetsi, Cope-LW, sê die gebou is in so ’n swak toestand dat wetgewersittings steeds in die Frances Baard-munisipaliteit gehou word.

“Die ANC en die speaker moet verantwoordelikheid aanvaar. Hulle beantwoord sedert 2017 nie vrae of versoeke dat die verantwoordelike amptenare voor die reëlskomitee ondervra word nie.”

Nathalia Borchard, waarnemende uitvoerende bestuurder van komitees en openbare kommunikasie in die wetgewer, sê daar is al aan van die aanbevelings in die verslag van die beroepsveiligheidsmaatskappy uitvoering gegee.

“Die departement van arbeid het ons 60 dae gegee om die uitstaande probleme op te los. Daar is geen lewensbedreigende omstandighede nie. Die personeel en wetgewerlede is in veilige gedeeltes van die gebou teruggeplaas.”

Volgens haar styg die watertafel by tye, en nog ’n pomp sal in werking gestel en verdere herstelwerk gedoen word.

“Sommige lekkende dakke wat nie bevredigend herstel is nie, sal aandag kry. Die munisipaliteit sal ondersoek instel waarom die toilette lae waterdruk ondervind. Die toilethokkies is te klein, nie die toilette nie. Ons soek na ’n tussentydse oplossing.

Die vensterrame van die gebou trek uit die mure uit. Foto: Verskaf

“Die elektrisiëns sal binnekort aan die nat kabels werk en ander uitstaande werk doen. ’n Plaaslike kontrakteur sal intussen die kabels wat ontbloot is, toemaak.

“Sodra die werk aan die vensterrame voltooi is, sal ’n strukturele ingenieur ’n veiligheidsertifikaat uitreik.

“Die lugversorgers werk reeds en die brandblussers is versien. Die brandweerdiens is besig om ons geboue te inspekteer. Die veiligheidsplan word opgetrek.”

Volgens haar sal die kontrakteur vir substandaardwerk verantwoordelik gehou word.

Meer oor:  Nehawu  |  Noord-Kaap  |  Kimberley
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.