SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Politiek
NDOV: ‘Glynnis se DA-bande kan teen haar tel’
Adv. Glynnis Breytenbach Foto: Argief

Die voormalige veteraan-aanklaer adv. Glynnis Breytenbach se bevoegdheid om die nuwe nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV) te word, ly geen twyfel nie, maar hy is bevrees haar bande met die DA kan haar kelder.

So het dr. Llewelyn Curlewis, ’n strafregkenner, Donderdagmiddag gesê oor bespiegelinge dat Breytenbach een van die benoemdes vir dié pos is.

Sy is deesdae ’n parlementslid en die DA se woordvoerder oor justisie.

Die name van adv. Andrea Johnson, wat saam met adv. Gerrie Nel die aanklaers in Oscar Pistorius se moordverhoor was, adv. Andrew Chauke, die Suid-Gautengse direkteur van openbare vervolgings, en adv. Rodney de Kock, Chauke se Wes-Kaapse ampsgenoot, word ook genoem.

Twee afgetrede regters is na verneem word ook benoem om een van die belangrikste poste in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel te beklee.

Die presidensie het dit laat Donderdagmiddag in ’n verklaring benadruk die paneel wat pres. Cyril Ramaphosa gevra het om hom te help om die geskikte kandidaat te vind, is nog besig om ’n kortlys saam te stel.

Die kortlys sal bekend gemaak word sodra dié proses afgehandel is, lui die verklaring.

Breytenbach, Johnson en Chauke wou by navraag nie kommentaar lewer nie. De Kock kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Adv. Rodney de Kock Foto: Argief
Adv. Andrew Chauke Foto: Argief

Johnson het wel gesê sy het nie aansoek gedoen nie, maar weet nie of iemand haar benoem het nie.

Die pos van NDOV het vakant geraak nadat die konstitusionele hof in Johannesburg op 13 Augustus beslis het oudpres. Jacob Zuma se aanstelling van adv. Shaun Abrahams, die vorige NDOV, was ongeldig.

Die hof het Ramaphosa 90 hofdae gegee om ’n opvolger vir Abrahams aan te wys.

Die aansoeke vir die pos het verlede Vrydag gesluit.

Die paneel kundiges wat Ramaphosa aangestel het, sal ná onderhoude vroeg in Desember ’n lys van drie kandidate aan die president voorlê. Hy sal dan hieruit sy keuse maak.

Jeff Radebe, minister van energie, is die voorsitter van die paneel.

Die keuringsproses vind agter geslote deure plaas.

Prof. Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer, het vandeesweek gesê sy is deur die sekretariaat van die span kundiges in kennis gestel sy is ook een van die benoemdes. Sy stel egter nie in die pos belang nie.

Curlewis sê dit is te vroeg om nou al te bespiegel oor wie die nuwe NDOV sal wees, omdat die volledige lys van die benoemdes nog nie bekend is nie.

Dit is wel goed dat mense soos Chauke, Breytenbach, De Kock en Johnson wat reeds deel is of was van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), onder die moontlike kandidate is.

Adv. Andrea Johnson Foto: Argief

“Dit sal vir hulle makliker wees om hul voete te vind omdat hulle die agtergrond en ervaring het. Omdat daar die afgelope dekade baie interne politieke spanning in die NVG was, is dit allesbehalwe ’n maklike pos.

“Vir iemand wat van buite kom, sal dit waarskynlik lank neem om sy of haar voete te vind,” sê Curlewis.

“Ek weet nie of pres. Ramaphosa te vinde daarvoor sal wees om iemand soos Breytenbach met haar sterk DA-bande vir dié pos te oorweeg nie,” sê Curlewis.

Meer oor:  Glynnis Breytenbach  |  Ndov  |  Da-Bande  |  Aanstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.