Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ndudane weens diefstal afgedank, kry steeds toppos

Slegs vyf dae nadat Siphokazi Ndudane weens diefstal uit haar amp as adjunk-direkteur-generaal van die nasionale departement van landbou, bosbou en visserye afgedank is, het sy by ’n toppos in die Oos-Kaapse regering ingestap.

Oscar Mabuyane, premier, het Woensdag aangekondig dat Ndudane as die nuwe departementshoof vir landelike ontwikkeling en landbouhervorming aangestel is.

Die aanstelling kom slegs enkele dae nadat Ndudane se afdankingsbrief verlede Vrydag deur Mike Mlengana, direkteur-generaal van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, onderteken is.

Siphokazi Ndudane Foto: Argief

Luidens die brief is Ndudane ná ’n tugverhoor, wat van 25 tot 29 November geduur het, deur die voorsitter skuldig bevind aan die diefstal van drie ton perlemoen. Die perlemoen van sowat R7 miljoen is in Desember 2017 of Januarie 2018 by die departement se pakhuise in Paarden-eiland gesteel.

Opposisiepartye in die Oos-Kaapse wetgewer het reeds hul skok en kommer oor Ndudane se aanstelling uitgespreek.

Die African Transformation Movement (ATM) het die aanstelling as verraderlike optrede deur die ANC bestempel.

Volgens dié party het die optrede bewys die ANC is nie ernstig om korrupsie uit te roei nie.

“Die ATM het ’n kontrak met die kiesers van die land onderteken en onderneem om alle bedrog te beveg.”

Die ATM het die onmiddellike herroeping van Ndudane se aanstelling as departementshoof aangevra.

Retief Odendaal, DA-LPW en die DA se woordvoerder oor landelike ontwikkeling en landbouhervorming in die provinsie, het ook Donderdag ’n beroep op Mabuyane gedoen om Ndudane se aanstelling te heroorweeg.

Mvusiwekhaya Sicwetsha, Mabuyane se woordvoerder, het Donderdag by navraag gesê die premier het eers van die afdankingsbrief bewus geraak nadat Ndudane aangestel is.

Ndudane was aangestel nog voordat sy ’n tugverhoor bygewoon of haar voormalige werkgewer haar afgedank het, sê Sicwetsha.

“Sy was op ’n uitgerekte skorsing. Sy het die skorsing uit vrye wil tydens die onderhoud aan die paneel verklaar.”

Sy was op ’n uitgerekte skorsing. Sy het die skorsing uit vrye wil tydens die onderhoud aan die paneel verklaar.

Maar nadat die brief aan die lig gekom het, het Mabuyane vir Ndudane tot einde Desember tyd gegee om die situasie met haar voormalige werkgewer uit te klaar.

Volgens Sicwetsha sal die premier ook met Ndudane se voormalige werkgewer vergader om die verslag van die tugverhoor te bekom.

Odendaal het in reaksie gesê hy is geskok dat die paneel, wat die onderhoud gevoer het, steeds vir Ndudane as die beste kandidaat vir die werk gesien het. Hy meen selfs al was Ndudane ten tyde van die onderhoud nog nie afgedank nie, was daar baie ernstige aantygings teen haar.

“Ek daag die premier uit om aan die publiek en wetgewer te verduidelik hoekom die aanstelling nog blywend is.”

Intussen het Ndudane ’n lang verklaring uitgereik waarin sy beweer dat Mlengana haar vir twee jaar geteister het.

Sy sê dié sage is niks meer as ’n vendetta teen haar nie en sy oorweeg om binnekort regstappe te doen.

Volgens Ndudane het sy reeds in Oktober by die departement bedank en was November haar kennismaand.

Sy vermoed haar vorige werkgewer het van haar moontlike aanstelling in die Oos-Kaapse regering gehoor en daarom is haar tugverhoor van Februarie 2020 tot einde November vervroeg.

Ek daag die premier uit om aan die publiek en wetgewer te verduidelik hoekom die aanstelling nog blywend is.

“Dit was die motivering om te verseker ek word op die laaste dag van my kennismaand afgedank, om enige toekomstige werkgeleenthede te verhoed.”

Sy sê ook in die verklaring sy het nie meer ’n regsverteenwoordiger nie en dat sy tydens die tugverhoor siek was. Die voorsitter het blykbaar alle mediese sertifikate geïgnoreer en die tugverhoor het voortgegaan.

“Die voorsitter was duidelik vasbeslote om my te ontslaan, selfs al sou dit in my afwesigheid wees en sonder dat ek bewyse gelewer het.”

Ndudane sê sy het intussen prokureurs geraadpleeg wat beweer die tugverhoor was onderduims en het ten doel om haar naam te beswadder met aantygings van ’n sensasionele afdanking.

Meer oor:  Oscar Mabuyane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.