Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NDZ gekap oor ‘slaggereedheid’ vir munisipale verkiesing

Onlangse tussenverkiesings wys dat Suid-Afrika ten spyte van die voortslepende Covid-19-pandemie slaggereed is vir die munisipale verkiesing in Oktober, sê dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta).

Sy was Donderdagmiddag “vol vertroue” hieroor op ’n debat in die Nasionale Vergadering oor haar departement se begroting vir die 2021-’22-boekjaar.

Sy is tydens dié debat egter erg deur sommige opposisie-LP’s gekap oor munisipaliteite wat landwyd ineenstort weens die regerende ANC se beleid van kaderontplooiing, korrupsie, finansiële wanbestuur en plundery.

Munisipaliteite, die munisipale verkiesing én die regulasies van die huidige staat van inperking weens die pandemie val almal onder Dlamini-Zuma se departement.

Volgens haar is 147 tussenverkiesings onder streng Covid-19-protokol tussen November en Maart vanjaar in 133 munisipale wyke in alle provinsies gehou. Sowat 800 000 kiesers was daarby betrokke.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma Foto: Elizabeth Sejake

“Ons sal ook die tussenverkiesings van 19 Mei in 40 wyke en sewe provinsies gebruik om ons benadering te verfyn. Ons bly vol vertroue dat die bestaande regulasies, protokol en planne vir tussenverkiesings ’n omgewing vir ’n vrye en regverdige munisipale verkiesing (op 27 Oktober) sal skep.”

Sy het onder meer gesê dat meer as R100,8 miljard vir haar departement vir die huidige boekjaar begroot is. Hiervan is R96 miljard vir toelae en subsidies vir munisipaliteite.

Volgens Dlamini-Zuma het die pandemie verdere druk op dienslewering geplaas. “Ten spyte van die druk het ons internasionaal erkende reaksie op die pandemie egter die toets deurstaan.”

Sy het bygevoeg dat Suid-Afrika se reaksie op die pandemie, wat deur die Wet op Rampbestuur en die risiko-aangepaste strategie gelei is, versterk is “deur die opofferings wat miljoene Suid-Afrikaners gemaak het”.

Sy meen dat die “oorlog” teen die koronavirus nog nie gewen is nie en dat landsburgers meer as ooit moet voldoen aan die relevante gesondheidsmaatreëls.

Cilliers Brink, DA-LP, het op sy beurt gesê dat die swak stand van munisipaliteite aan foute toegeskryf kan word wat aan die begin van die demokratiese bedeling gemaak is. Volgens hom is dié foute die ANC se kaderontplooiing, rasgebaseerde indiensnemingsbeleid, swart ekonomiese bemagtiging en voorkeur-aankope.

Volgens Brink bemagtig dit nie gewone mense nie; dit bevorder eerder korrupsie, die verryking van die elite en die inploffing van dienslewering en infrastruktuur.

Hlengiwe Mkhaliphi, EFF-LP, het gesê korrupsie is die grootste probleem wat die meeste munisipaliteite verlam.

Die rede is nie ’n tekort aan geld of apartheid nie, maar die wanbestuur van geld en korrupsie.

Volgens haar beloop vermorste, onreëlmatige, ongemagtigde en vrugtelose uitgawes in munisipaliteite miljarde rand, “maar niemand word aanspreeklik gehou vir die plundery nie”.

Sy blameer die ANC vir die ineenstorting van munisipaliteite omdat hy geen “politieke wil het om korrupte ANC-ontplooides te verwyder nie”.

Ignatius Groenewald, VF Plus-LP, het gesê die werklikheid is dat plaaslike regering misluk. “Munisipaliteite is bankrot, skuld miljarde en basiese dienste soos waterverskaffing en vullisverwydering vind nie plaas nie.

“Die rede is nie ’n tekort aan geld of apartheid nie, maar die wanbestuur van geld en korrupsie,” sê hy.

Obed Bapela, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, het in reaksie gesê dat die departement met die distriksontwikkelingsmodel duidelike planne het om die probleme in munisipaliteite op te los en sukkelendes te ondersteun.

Dit sluit in die verbetering van swak regering en aanspreeklikheid, en die regruk van die wanfunksionele bestuur van munisipaliteite.

Verder sal kritieke senior vakante poste gevul word, agterstande met infrastruktuur uitgewis word en dienslewering verbeter word.

Meer oor:  Munisipale Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.