Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘NDZ-hulle gebruik pandemie om mat onder Cyril uit te ruk’ – DA-leier

Die faksie in die ANC wat ten gunste is van radikale ekonomiese transformasie, is besig om die Covid-19-pandemie te gebruik as rookskerm om die mat van regering onder pres. Cyril Ramaphosa se voete uit te ruk.

En dit lyk nie of Ramaphosa daartoe in staat is om dit te keer nie, sê John Steenhuisen, tussentydse DA-leier.

Hy het Woensdagoggend in ’n aanlyn boodskap gesê dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, word al hoe magtiger. Danksy die magte wat sedert die staat van inperking aan haar toegeken is, is sy vir alle praktiese doeleindes die de facto president.

Ramaphosa is net ’n toeskouer.

“Haar onversetlike weiering om die verbod op rookgoed te herroep, is haar manier om aan die president te wys wie is werklik in beheer,” sê Steenhuisen.

En, voeg die DA-leier by, Dlamini-Zuma is by magte om die ramptoestand onbepaald te verleng.

John Steenhuisen, waarnemende DA-leier. Foto: Felix Dlangamandla

Die “hoogs geheime” dokument waarin Dlamini-Zuma se departement onder meer ’n regeringstelsel soortgelyk as die huidige nasionale koronavirus-bevelsraad vir munisipale distrikte ná die pandemie voorstel, is niks anders nie as ’n poging om die magte van provinsiale en plaaslike regerings in die hande van enkeles te plaas.

“Om te sê dit is ongrondwetlik, is ’n onderbeklemtoning. Dit kom neer op ’n staatsgreep.

“Dit is ook ’n poging om nie-verkose nasionale politici in beheer van provinsiale en plaaslike regeringsfunsksies te plaas, wat teen die wil is van dié mense wat vir dié regerings gestem het,” sê Steenhuisen.

“Wat hier gebeur is dat die faksie in die ANC wat radikale ekonomiese transformasie steun, besig is om sy spiere aan die Ramaphosa-faksie te wys. En hulle voel gemaklik daarmee omdat hulle swak leierskap sien.

“Hulle gebruik die Covid-19-krisis as rookskerm om die mat van regering onder die president se voete uit te ruk. En dit lyk of hy nie die vermoë het om iets daaraan te doen nie,” sê Steenhuisen.

Hy sê Suid-Afrika het nou met die Covid-19-pandemie en die “nuwe normaal” die geleentheid om weg te stap van die mislukte poging om staatsmag te sentraliseer.

Dit is nou die geleentheid om die langverwagte hervormings aan die ekonomie aan te bring waaroor Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, baie praat, maar nie in werking stel nie.

Wat hiervoor nodig is, is ware leierskap en dit is ongelukkig nie iets wat die land gesien het sedert Ramaphosa op 23 Maart die staat van inperking aangekondig het nie.

“Ons het iemand nodig gehad wat die leiding moes neem. Wat ons gekry het is ’n president wat behep is met dialoog, uitreiking en konsensusbou.

“En dit is die verhaal van sy presidentskap tot dusver: Hy praat baie en maak beloftes, maar daar is min leierskap en aksie.”

Ramaphosa het die publiek se steun gehad toe hy die inperking afgekondig het, maar hy het dié kans vermors.

Sy besluiteloosheid het die politieke krisis meegebring wat die land nou beleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.