Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nehawu wil dienste in Noordwes tot stilstand bring

Lede van die vakverbond Nehawu beplan om vanaf 10:00 Woensdagoggend staatsgesondheidsdienste in Noordwes tot stilstand te bring.

Khaya Xaba, Nehawu-woordvoerder, het gesê Nehawu-lede sal vanaf 10:00 in Mmabatho begin vergader vir ’n optog wat tot 16:00 sal duur. “Ons wil ons ontevredenheid met die departement van gesondheid, maatskaplike ontwikkeling en Noordwes-regering te kenne te gee.”

Die hospitaal funksioneer gevolglik met tye net met die nodigste personeel. Slegs noodgevalle en kritiek siek pasiënte word hanteer.

Die lede is ontevrede oor werksomstandighede, lone en eis ook die kop van Supra Mahumapelo, Noordwes se premier. Hulle staak al sedert einde Februarie. Hul optrede het daartoe gelei dat staatsgesondheidsdienste in die provinsie feitlik in duie gestort het. Medisyne- en personeeltekorte word feitlik oral in die provinsie ondervind. Die Mahikeng-omgewing waar weermagpersoneel intussen ontplooi is om te help, is die ergste geraak.

Xaba sê die staking het nog nie die gewensde resultate opgelewer nie weens hul werkgewer se “arrogansie”.

“Ons wil met die optog ons woede te kenne gee met die feit dat die provinsiale regering nog nie ons griewe kon oplos nie.”

Noordwes se gesondheidsdepartement is onlangs onder administrasie van die nasionale regering geplaas. Parlementêre prosesse het reeds begin om die hele provinsie wat deur voortslepende onrus geteister word, onder nasionale administrasie te plaas. Dit sal die eerste keer sedert 1994 wees dat ’n hele provinsie onder administrasie geplaas word.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder vir Noordwes se gesondheidsdepartement, het teen 10:00 Woensdagoggend gesê hulle het nog nie gehoor dat alle hospitale en klinieke in die provinsie tot stilstand gedwing is nie. “Sover ons weet is die meeste nog funksioneel, met die voortslepende sporadiese probleme by sommige klinieke en hospitale wat steeds voortduur.”

Dié voortslepende probleme duur voort by die Tshepong-hospitaal in Klerksdorp waar personeel verwyder en mense verhinder word om die hospitaal binne te gaan. Die hospitaal funksioneer gevolglik met tye net met die nodigste personeel. Slegs noodgevalle en kritiek siek pasiënte word hanteer. In die Mahikeng-omgewing is sommige klinieke net met tye oop omdat personeel daar geïntimideer word om nie te werk nie, sê Lekgethwane. Daar word ook al geruime tyd sporadies by ander hospitale soos die Potchefstroomse provinsiale hospitaal betoog.

Brig. Sabata Mokgabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisie het teen Woensdagoggend nog geen berigte van erge onrus en misdaadvoorvalle by hospitale en klinieke ontvang nie.

Meer oor:  Nehawu  |  Noordwes  |  Staking  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.