Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Net 8 000 kommersiële boere teen 2030 oor?

Die getal kommersiële boere, wat die hoofbron van voedselsekerheid in Suid-Afrika is, het van 61 000 in 2006, 46 000 in 2012, en 38 000 in 2015 verminder. Die voorspelling is dat in 2030 net 8 000 oor gaan wees.

Foto ter illustrasie.

So het dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, Dinsdag gewaarsku.

Jankielsohn sê die Vrystaatse landboubedryf moet baie beter ondersteun word en moenie die plek vir negatiewe politiekery raak nie.

Landbou in die Vrystaat is ’n ernstige bron van kommer weens al die moeilikhede, onaangenaamhede en verleentheid in die bedryf.

“Dit is weens die vyandige omgewing en bedreigings wat veiligheid betref. Landbou word in ’n politieke domein bedryf met ’n negatiewe ekonomiese omgewing,” sê hy.

Jankielsohn sê die huidige hittegolf is nog ’n waarskuwing dat klimaatsverandering weens aardverwarming ’n werklikheid is.

“Daarmee saam het die ekonomiese omgewing ’n negatiewe uitwerking op die bedryf wanneer kommoditeitspryse verhoog wat nie in pas is met produksiekoste van byvoorbeeld brandstof, kunsmis, arbeid, en baie ander nie.

“Terwyl dit gebeur, word goedkoper ingevoerde goedere net ál geredeliker beskikbaar en het dit ’n groot invloed op die bedryf, spesifiek op die gebiede waar met suiwel en pluimvee geboer word.”

Vanuit politieke geledere eis die beleidsonsekerheid weens debatvoering oor die onteiening van grond sonder vergoeding ook sy tol.

“Dit lyk asof boere eerder gestraf word vir die regering se onvermoë om doeltreffende grondhervorming toe te pas. Dit het beleggersvertroue in die kritieke belangrike bedryf geskaad.”

Jankielsohn sê boere word ook toenemend die slagoffers van negatiewe politieke retoriek en gevaarlike plaasaanvalle. Sulke aanvalle is onmenslik wreed en sluit dikwels mishandeling en moord in.

“Ons bestaansboere is nie uitgesluit van die toestande nie. Volgens die jongste statistieke van die Suid-Afrikaanse kwartaallikse arbeidsverslag in Oktober het bestaansboere in die Vrystaat met 37 000 van kwartaal tot kwartaal verminder en met 25 000 van jaar tot jaar.

Dr. Roy Jankielsohn Foto: Netwerk24

Jankielsohn sê luidens die jaarverslag van die departement van landbou en landelike ontwikkeling van 2017-’18 het twee landbouprogramme, naamlik Boer-ondersteuning en Ontwikkeling en Gestruktureerde Landbou-opleiding, albei net 50% van hul doelwitte behaal.

Statistieke vir die eerste en tweede kwartaal van die jaar het soortgelyke syfers oor die departement weergegee. Dit dui op ’n tekort aan kapasiteit of gewilligheid in die departement om die boere te ondersteun.

“Ons moenie vergeet nie dat mense nie sonder kos kan leef nie. Ons provinsie en land kan dit nie bekostig om vol te hou met die destruktiewe optrede wat die landboubedryf bedreig nie.”

Jankielsohn sê as voedselsekerheid ’n prioriteit vir die groeiende stedelike bevolking is, moet politici geld daarin belê en die broodnodige ondersteuning aan boere bied.

Dr. Benny Malakoane, Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, het in die wetgewer gesê die saak moet in konteks gesien word. “Baie boere het hul veeboerderye soos skape en beeste verlaat om met wild te boer. Hulle het ook skuld omdat hulle hul tradisionele boerderypraktyke vir wildsboerdery gelos het.”

Jankielsohn het agterna gesê die paar “wit” wildboere kan nie die skuld kry vir die probleme in die landbou en die grootskaalse vermindering van boere nie.

Meer oor:  Roy Jankielsohn  |  Landbou  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.