Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Net DA se model van grondhervorming werk – Maimane

Dit is onsin dat almal wat teen die EFF se mantra van grondonteiening sonder vergoeding is, gekant is teen grondhervorming, sê Mmusi Maimane, DA-leier.

Maimane sê die DA het teen die EFF se mosie in die parlement – dat die Grondwet gewysig moet word om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak – gestem omdat “dit niks sal doen om swart Suid-Afrikaners te bemagtig nie. Trouens, dit sal hulle armer maak.”

Mmusi Maimane, DA-leier, Woensdag saam met van die begunstigdes van die Bosman-Adama Werkerstrust in Wellington.Foto: JACO MARAIS

Hy en ander DA-hooggeplaastes het Dinsdag Werkersdag in Wellington gevier saam met plaaswerkers wat almal aandeelhouers in hul werkplek is deur die Bosman-Adama Werkerstrust van die Bosman Family Vineyards.

As deel van die skema is sowat R100 000 se aandele in 2008 aan elk van die sowat 260 plaaswerkers gegee wat sedertdien jaarliks dividende ontvang.

Dié skema is nie gegrond op populistiese uitlatings of ANC- en EFF-slagspreuke oor grondonteiening nie, maar bevoordeel individuele plaaswerkers daadwerklik op lang termyn.

Maimane sê dié soort aandeleskema het in ses uit tien soortgelyke grondhervormingsprojekte in die Wes-Kaap geslaag. Dit terwyl nege uit tien hervormingsprojekte van die nasionale regering misluk.

Mmusi MaimaneFoto: JACO MARAIS

Volgens hom gaan grondhervorming vir die DA daaroor om individuele begunstigdes op lang termyn te bemagtig. Daarenteen streef die ANC-regering net getalle na en laat begunstigdes aan hul eie heil oor.

Maimane sê die DA was teen die mosie omdat alle grond deur die EFF-model staatseiendom sal word met individue wat niks besit nie.

“Hulle noem dit nie in hul slagspreuke nie, maar hul plan is om almal, swart en wit, se grond te vat en almal permanente huurders van die staat te maak.

“Dit is nie bemagtiging nie, maar net nog ’n armoede-valstrik. En dit is ook ’n seker manier om enige en alle beleggings in hierdie land, wat broodnodige werkgeleenthede kan skep, weg te jaag.”

Die ANC het volgens Maimane die EFF se mosie gesteun “omdat hulle weet dat hulle grondhervorming die afgelope 24 jaar opgemors het” en ’n vinnige manier wou kry om die aandag en blaam weg te lei.

“Maar die ANC weet ook dit is ’n verskriklike idee omdat ’n mens vandag nie ’n reguit antwoord van hulle kan kry oor of hulle die Grondwet wil verander, grondonteiening sonder vergoeding steun of wil hê die staat of individue moet die grond besit nie.”

Volgens Maimane is dit net die DA se grondhervormingsprojekte wat op lang termyn suksesvol is omdat dit ware bemagtiging steun soos die huidige 450 heeltydse plaaswerkers deur die Bosman-Adama Werkerstrust.

“Hierdie projek het spanwerk vereis. Dit het ’n vennootskap tussen die oorspronklike eienaars van die Bosman Family Vineyards, die plaaswerkers en die (Wes-Kaapse) regering vereis. Die sukses daarvan hang van hierdie samewerking af.

“As ons ’n vooruitstrewende ekonomie vir almal wil bou, moet ons dit saam doen.”

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Anc  |  Eff  |  Werkersdag  |  Politiek  |  Da  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.