Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Net O-Kaapse rade swakker as Vrystaat, N-Kaap – OG

Die swak toestand waarin Vrystaatse en Noord-Kaapse munisipaliteite verkeer, vereis dringende ingryping om dienslewering in die streek van verdere verval te red, het opposisiepartye gewaarsku.

Net die Oos-Kaapse munisipaliteite het volgens Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG) van Suid-Afrika, wat oudituitkomste betref swakker as dié twee provinsies s’n gevaar.

Kimi Makwetu Foto: Lindile Mbontsi

Makwetu het Woensdag in die parlement oor die oudit-uitkomste van Suid-Afrikaanse munisipaliteite vir die boekjaar 2016-’17 – ’n toonbeeld van verval – verslag gedoen.

Oor die Vrystaatse munisipaliteite het hy gesê ’n toenemende gebrek aan verantwoordbaarheid en leierskap in die Vrystaat is die groot rede dat plaaslike regering misluk.

“Dit het tot gevolg gehad dat Vrystaatse munisipaliteite opmerklik in oudit-uitkomste van die vorige jaar af agteruit geboer het. Sewe munisipaliteite het die afgelope jaar agteruitgegaan terwyl geeneen se oudit-uitkomste verbeter het nie.”

Makwetu lê die wanprestasie hoofsaaklik voor die deur van “swak leierskap wat nie die begroting in ag neem wanneer strategiese projekte aangepak word nie, asook munisipale bestuur wat nie die beste prys vir goedere en dienste betaal nie”. Geld word ook vermors as gevolg van swak beplanning.

Oor die Noord-Kaap het hy gesê die oorhoofse oudit-uitkomste van munisipaliteite in die provinsie bly dieselfde, met twee munisipaliteite wat van die vorige jaar verbeter het en twee wat versleg het.

“Die stagnasie in die Noord-Kaapse munisipaliteite is ’n bewys dat vorige jare se boodskappe aan burgemeesters, munisipale bestuurders en senior bestuurslui om mekaar en hul ondergeskiktes verantwoordbaar te hou, blatant geïgnoreer is. Dit het tot gevolg gehad dat dieselfde bevindings weer teen die munisipaliteite uitgebring moes word.”

Tammy Wessels, VF Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, sê Makwetu se oudit-uitkomste wys dat dié provinsie nie in goeie hande is nie.

Die premier, Sisi Ntombela, was die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, onder wie plaaslike regering val, in die tydperk waaroor die OG nou verslag gedoen het.

Sy sê onder Ntombela se leiding as LUR en weens die ANC se wanbestuur in die provinsie het alle Vrystaatse munisipaliteite volgens die OG nou ingryping nodig om totale finansiële ineenstorting te vermy.

Pakes Dikgetsi, Cope-lid van die Noord-Kaapse wetgewer, het in ’n nuusverklaring gesê die OG is bekommerd oor al 31 munisipaliteite in die provinsie waarvan 56% bankrot is.

Die OG het bevind dat twee Vrystaatse munisipaliteite, Matjhabeng (Welkom, Virginia en Hennenman) en die Mangaung-metro (Bloemfontein, Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus) onderskeidelik die “topposisies” in die land bekleë wat betref ongemagtigde uitgawes of oorbesteding.

Die ANC se plundering van die Vrystaat blyk nie ’n einde te hê nie met R640 miljoen se onreëlmatige uitgawes wat verband hou met betalings in dié tydperk.

Dié onreëlmatighede het plaasgevind terwyl konsultante R57 miljoen betaal is om die finansiële beheer te verbeter.

Die feit dat nie een Vrystaatse munisipaliteit ’n skoon ouditverslag kon ontvang nie, wys dat die ANC nóg daartoe in staat is, nóg daarin belang stel om die provinsie met finansiële dissipline te bestuur.

Drie Vrystaatse munisipaliteite, Maluti-a-Phofung (Harrismith en Qwaqwa), Mafube (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling) en Masilonyana (Brandfort, Theunissen, Winburg en Verkeerdevlei) is onder ANC-administrasie geplaas, maar kon steeds nie beter ouditmenings kry nie.

Pakes Dikgetsi, Cope-lid van die Noord-Kaapse wetgewer, het in ’n nuusverklaring gesê die OG is bekommerd oor al 31 munisipaliteite in die provinsie waarvan 56% bankrot is.

Hy sê net een munisipaliteit kon ’n skoon ouditverslag kry.

Cope is “teleurgesteld en kwaad oor die gevoellose en lakse houding” van die premier en haar uitvoerende raad wat betref die agteruitgang van Noord-Kaapse munisipaliteite.

Premier Sylvia Lucas en haar voormalige luitenant, Alvin Botes, moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die gemors in die provinsie se munisipaliteite.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.