Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Net twee dae vir NGV se komitee

Die regering se eerste boublokke vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) het Woensdag omgeval toe hy moes terugkrabbel oor die aanstelling van ’n advieskomitee.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Benoemings vir die advieskomitee wat moet bepaal watter voordele die NGV gaan dek, sou Dinsdag sluit. Die departement van gesondheid het die proses teruggetrek omdat daar net twee werksdae geleentheid gegun is vir benoemings.

Rolspelers het met skok gereageer toe dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van die NGV, eers verlede Vrydag gevra het vir benoemings vir “gekwalifiseerde individue wat kliniese verenigings verteenwoordig” om sommer teen Dinsdag hul CV’s aan te stuur. Woensdag het ’n woordvoerder aan Rapport gesê die kennisgewing is teruggetrek en belowe om te verduidelik wat gebeur het, maar teen druktyd was daar nog geen verduideliking nie.

Die publiek het nog ’n maand om kommentaar te lewer oor die NGV-wetsontwerp wat by die parlement ingedien is.

Vorige DG se besware nou iets van die verlede, sê minister.

Die departement wou luidens Pillay se kennisgewing solank ’n advieskomitee as tussentydse komitee stel voordat die finale advieskomitee ingevolge die NGV-wetsontwerp tot stand kom.

Dié komitee het die allerbelangrike rol om te bepaal watter dienste, voordele en medikasie beskikbaar gaan wees onder die NGV. Die omvang van voordele bepaal op hul beurt watter “aanvullende rol” mediese fondse gaan speel en hoeveel die NGV gaan kos.

Die voordele-advieskomitee moet bestaan uit mense met tegniese kundigheid in medikasie, openbare gesondheid, gesondheidsekonomie, epidemiologie en die regte van pasiënte, lui die konsepwet.

Openbare sittings oor die NGV-wetsontwerp word van 25 tot 28 Oktober in Mpumalanga gehou en 1 tot 4 November in die Noord-Kaap.

Die departement van gesondheid gaan intussen volstoom voort met voorbereidingswerk om die NGV te implementeer.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die afgelope week in ’n parlementêre antwoord aan Armand Cloete, VF Plus-LP van die Vrystaat, gesê daar is nou ’n verenigde front in die regering oor die NGV.

Rapport het vroeër berig dat die tesourie ’n beswaarskrif aan die departement van gesondheid gestuur het oor die NGV-wetsontwerp. Ismail Momoniat, toe waarnemende direkteur-generaal van die tesourie, het in November geskryf die regering veroorsaak onnodig paniek met die wetsontwerp.

Volgens Mkhize is al dié besware nou iets van die verlede.

  • Die tesourie het gekla oor die “onnodige” beperking van mediese fondse. Mkhize sê dis uitgeklaar, want die regering het dit nou duidelik gemaak dat die “aanvullende rol” eers in werking tree wanneer die NGV “ten volle” geïmplimenteer is. Die amptelike teikendatum hiervoor is in 2026, maar die NGV-tydsraamwerk skuif voortdurend aan.
  • Die tesourie het gesê die regering kan nie die provinsies se R150 miljard per jaar vir gesondheid eensydig wegneem sonder om eers die onderskeie premiers te raadpleeg nie. Die NGV-wetsontwerp voorsien dat al die geld wat tans vir gesondheidsdienste in provinsies begroot word, in een groot super-mediesefonds, die NGV, gestort gaan word om dienste mee aan te koop.

Mkhize sê in sy antwoord hy het gekonsulteer met die Nasionale Gesondheidsraad, wat die LUR’e vir gesondheid insluit.

“Provinsiale premiers is nie regstreeks geraadpleeg nie, aangesien die premiers die verantwoordelikheid aan die LUR’e vir gesondheid gegee het.”

  • Die tesourie was bekommerd dat die NGV-wetsontwerp al die huidige funksies van provinsies wegvat. Volgens Mkhize is dit opgelos in die NGV-wetsontwerp. Rapport het vroeër berig die “oplossing” is dat die wet gaan bepaal die provinsies gaan die funksies hê waarop die nasionale minister besluit.
  • Die tesourie was besorg dat die NGV direk geld uit die staatskas sou ontvang sonder toesig. Mkhize sê dié beswaar is bygelê omdat die NGV ingevolge die nuwe weergawe van die wet geld via ’n parlementêre proses gaan kry.
  • Volgens die tesourie is daar groot onduidelikheid oor wat die NGV gaan kos. Mkhize sê die tesourie gaan binnekort self ’n kosteberaming doen.
  • Volgens Momoniat se brief is baie bepalings in die NGV-wet strydig met Wet op die Bestuur van Openbare Finansies en die Wet op die Verdeling van Inkomste. Mkhize antwoord hulle het die staatsregsadviseurs geraadpleeg en dit is nie so nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.