Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Netwerk24 in Nkandla: Verhoog word opgeslaan vir ANC-leiers se koms

Die matige wind wat Saterdagoggend in Nkandla in KwaZulu-Natal gewaai het, het net effense verligting teen die bloedige son gebring.

Senior nasionale ANC-leiers word later vandag hier by oudpres. Jacob Zuma se woning verwag.

Intussen is ’n verhoog binne die gronde opgeslaan.

Die party het Vrydag aangekondig hy stuur senior leiers om ’n “duidelike en beginselvaste leierskap” te kom gee aan die ontwikkelende situasie hier weens die tronkstraf van 15 maande wat oudpres. Jacob Zuma opgelê is.

Die ANC het sy NUK-vergadering, wat hierdie naweek sou plaasvind, uitgestel.

“Die nasionale amptenare (die topses leiers) was in hul besluit daaroor bedag op die situasie wat in KwaZulu-Natal ontwikkel en die behoefte vir die ANC om duidelike en beginselvaste leierskap te verleen om die handhawing van die oppergesag van die reg te verseker en om enige geweld, beserings en lewensverlies te vermy,” het Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, Vrydag gesê.

Teen Saterdag 10:30 het nog net een ampsvoertuig by Zuma se woonkompleks ingery. Dit kon nie bevestig word nie, maar die vermoede is Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, was in die motor.

Daar word ook steeds gewag op Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, om sy ondersteuning aan Zuma te kom betoon.

Oudpres. Jacob Zuma se Nkandla-woonkompleks.Foto: Mlungisi Louw

Daar het ’n rustige atmosfeer geheers nadat spanning laat Vrydagmiddag opgevlam het tydens ’n mediakonferensie van die Umkhonto we Sizwe-militêreveteranevereniging (MKMVA) buite Zuma se woning.

Carl Niehaus, woordvoerder van die MKMVA, het sy misnoeë te kenne gegee toe ’n joernalis gevra het hoekom Covid-19-maatreëls, met verwysing na die samedromming van MKMVA-lede, verontagsaam word.

“As dit julle pla, wat soek julle dan hier?” is na joernaliste se kant toe geskree. Verskeie mediahuise het toe dekking van die mediakonferensie kortgeknip om standpunt in te neem.

Geen ondersteuners van Zuma was Saterdagoggend buite Nkandla nie.

Saterdag is ook dag vier van die vyf dae-spertyd wat Zuma gegee is om by die polisie aan te meld om sy tronkstraf te begin uitdien.

Hy het die opsie om dit in Johannesburg of in Nkandla te doen.

Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat Zuma dit sal doen.

Sy stigting het bevestig hy sal Sondag in Durban ’n toespraak lewer, maar die tyd is nog nie bevestig nie.

Zuma het Vrydag die hooggeregshof in Pietermaritzburg genader om sy vonnis wat deur die konstitusionele hof in Johannesburg opgelê is, ongeldig te verklaar.

Zuma voer aan hy is gevonnis sonder ’n siviele of strafregtelike verhoor en dat tronkstraf nadelig vir sy gesondheid sal wees.

Volg Netwerk24 vir regstreekse dekking uit Nkandla.

Meer oor:  Demokrasie  |  Zuma-Vonnis  |  Partypolitiek  |  Politiek  |  Korrupsie  |  Koalisie  |  Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.