Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ngubane sê hy praat nooit besigheid met Guptas

Dr. Ben Ngubane (79), veteraanpolitikus en oudvoorsitter van die Eskom-direksie, het verskeie sosiale geleenthede van die Guptas bygewoon. Hy is selfs genooi na die omstrede Gupta-troue by Sun City, en het aan huis by hulle in Saxonwold, Johannesburg, gekuier.

Maar hy het nie met hulle oor besigheid gepraat nie, want hy het niks te make gehad met die toestaan van tenders by Eskom nie.

So het Ngubane Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Hy het gesê hy is in Desember 2014 as lid van die Eskom-direksie aangestel. Hy het Zola Tsotsi einde Maart die volgende jaar as voorsitter opgevolg nadat Tsotsi uitgeskop is.

Dr. Ben Ngubane getuig Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

Ngubane het gesê hy is “uiters gewalg” dat daar na die direksie onder sy voorsitterskap verwys word as die “Gupta-direksie” en het getuig dat die aanstelling van die direksie ’n oop proses was.

Ngubane is gevra oor sy bande met Salim Essa, ’n regterhand van die Guptas. Hy het geantwoord dat hy Essa vanaf 2011 geken het toe hy (Ngubane) nog die voorsitter van die SAUK-direksie was. “Dit was ’n verhouding soos met enige ander mens wat ek ken.” Hulle het dit saam oorweeg om in 2013 in Wes-Afrika eksplorasiewerk vir olie te doen, maar die projek het deur die mat geval.

Ngubane ontken dat e-posse wat heen en weer vanuit sy Eskom-kantoor, asook sy persoonlike Gmail-adres, na ’n persoon net bekend as die “Sakeman” getuur is, in der waarheid aan en van Essa was.

Ngubane is gevra oor Suzanne Daniels, in daardie stadium sekretaris van die Eskom-direksie, wat in ’n tugverhoor deur Eskom aangekla is dat sy e-posse aan Essa gestuur het.

Hieroor het Ngubane getuig die persoon “Sakeman” is volgens hom nie Essa nie, maar die destydse direkteur-generaal (DG) van die departement van openbare ondernemings, Richard Seleke.

Ngubane is ook gevra waarom hy dan sy persoonlike Gmail-adres gebruik het om oor Eskom-sake met die “Sakeman” te kommunikeer, waarop hy geantwoord het dat hy ’n “toestel” by sy rekenaar ingedruk het wat sy Eskom- en Gmail-e-posadresse met mekaar verbind het.

Die e-posse het gehandel oor die inhoud van mediaverklarings wat deur Ngubane uitgereik is.

In een van die mediaverklarings, op 11 Junie 2016, het hy die lof besing van die Gupta-beheerde Tegeta Exploration & Resources, wat die Optimum-steenkoolmyn in 2016 teen R2,5 miljard van Glencore gekoop het.

Ngubane het in die mediaverklaring gesê hy het daarvan bewus geword dat die media vrae het oor Eskom se steenkoolkontrakte en die bewerings dat daar nie behoorlike tenderprosedures daarmee gevolg is nie.

“Ek is tevrede dat die regte proses gevolg is,” sê hy in die verklaring.

Hy het daarin ook besonderhede oor Eskom se kontrak met Tegeta gegee en gesê Tegeta voorsien minder as 5% van die steenkool wat Eskom benodig.

“Die mark wat steenkool voorsien, het grootskaalse transformasie nodig omdat dit voortgaan om ’n klein monopolie van maatskappye te bevoordeel,” volgens die verklaring.

Die verklaring verwys ook spesifiek na Tegeta en sê dat die Exxaro-mineralemaatskappy teen einde 2015 steenkool aan die Arnot-kragstasie teen R1 132 per ton verskaf het, en dat Tegeta die steenkool teen R500 per ton verskaf.

Ngubane sê in die verklaring dat Tegeta een van die verskaffers aan Eskom was “wat ’n krisis by die Hendrina-kragstasie gekeer het” deur aan te bied om die Optimum-steenkoolmyn by Glencore oor te koop as deel van ’n sakereddingsplan wat duisende werksgeleenthede gespaar het.

Ngubane se weergawe is dat die “Sakeman” wat dié inhoud van die mediaverklaring gedikteer het, nié Essa was nie, maar wel die DG van die departement van openbare ondernemings. Volgens Ngubane het hy vir Daniels gevra wie die mediaverklaring saamgestel het, en sy het geantwoord dit was die DG.

Adv. Pule Seleka SC, ondervraer van die kommissie, het na ’n vroeëre e-pos verwys met die datum 28 September 2015 en genoem in daardie stadium was Seleke nie die DG van die departement van openbare ondernemings nie – hy is eers op 27 November 2015 aangestel. Die e-posse wat Ngubane aanvoer vanaf die DG is, kan daarom nié so wees nie.

Ngubane het geantwoord hy het nie na die datums van die e-posse gekyk nie.

Hierop het adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, aan Ngubane gevra of hy bereid is om te aanvaar dat Seleke nie in September 2015 die DG van die departement was nie.

“Ek het nie daaraan gedink nie, maar ek is bereid om dit te aanvaar,” was Ngubane se antwoord.

Zondo het gevra is dit moontlik dat die dokumente nie van Seleke af gekom het nie as hy nié toe die DG van die departement was nie, waarop Ngubane geantwoord het dit is moontlik.

Dit is aan Ngubane gestel dat in Daniels se tugverhoor is daar uitgewys dat Essa die sogenaamde “Sakeman” is, en nie Seleke nie. Ngubane het hierna getuig dat Daniels aan hom gesê het die DG is die persoon wat die e-posse gestuur het.

Dit is aan Ngubane gestel Daniels het op haar beurt egter aangevoer Ngubane het eerste aan haar gesê die e-posse se oorsprong is die DG. Hierop het Ngubane geantwoord sy regsverteenwoordiger wat hom by die kommissie verteenwoordig, sal die saak verder neem.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Ben Ngubane  |  Guptas  |  Besigheid  |  Oudvoorsitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.