Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NGV: Huidige situasie nié aanvaarbaar, sê Cyril

Een van die tragiese werklikhede van ons tyd is dat toegang tot ordentlike en gehalte-gesondheidsdienste bepaal word deur iemand se vermoë om daarvoor te kan betaal, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Argief

Die president sê in sy weeklikse nuusbrief een van die vernaamste redes waarom die gesondheidsorgstelsel in die land hervorm moet word, is sodat alle Suid-Afrikaners gelyke toegang tot mediese dienste het.

Ramaphosa sê die land het tans twee parallelle gesondheidsorgstelsels. Sowat R250 miljard word jaarliks bestee aan die eerste, om mediese dienste aan minder as 20% van die bevolking te lewer.

Dit is die private mediesedienstesektor.

Vir die res van die bevolking word R200 miljard bestee. Dit is die openbare mediesedienstesektor.

“Dit druis in teen die Grondwet wat bepaal dat alle Suid-Afrikaners ongeag hul maatskaplike en ekonomiese situasie op gesondheidsdienste geregtig is.

“Dit is ’n situasie wat ons nie meer kan bekostig nie. Dit is ondoeltreffend en nie volhoubaar nie.

“Dit is ook nie regverdig nie,” skryf die president.

Hy sê die inwerkingstelling van die nasionale gesondheidsversekering (NGV) sal onder die verreikendste maatskaplike verandering wees wat die land sedert 1994 ondergaan.

“Ons het genoeg bronne in die land om aan elke man, vrou en kind mediese dienste te lewer wat aan die standaarde en gehalte voldoen.

“Ons verlede wys vir ons dat ons nie ’n land kan wees waar die belange van ’n klein deeltjie (van die bevolking) ten koste van dié van die meerderheid gestel kan word nie.

“In 1713, toe daar ’n uitbreking van masels in die Kaap was, het die Nederlandse koloniste medisyne uit Batavia ingevoer.

“Hulle het die medisyne net aan hul eie mense beskikbaar gestel en die Khoi-San-inboorlinge toegelaat om deur die siekte uitgedun te word,” sê Ramaphosa.

“Die skeiding van gesondheidsdienste bring verdrietige herinneringe. In die 18de eeu was dit op grond van die koloniste se setlaar-status, en onder apartheid is dit bepaal deur jou velkleur.

“Vandag geskied dit op die grondslag van wie dit kan bekostig.”

Ons kan nie ’n voorspoedige en ekonomies vooruitstrewende nasie word as ’n klein minderheid van ons werkmag gesond is en die meerderheid vir swak gesondheid en siekte kwesbaar is nie.

Die vernaamste beginsels van die NGV is “gelykheid, solidariteit en die aanvaarding, erkenning en reg van die belangrikheid van elke individu om koste-effektiewe mediese dienste te ontvang”.

Die stygende koste van mediese dienste raak alle Suid-Afrikaners. ’n Onlangse ondersoek wys private mediese dienste gaan ook gebuk onder swaar druk omdat premies styg en voordele verminder word. Boonop moet pasiënte al hoe meer uit hul eie sak betaal.

“Ons as ’n land bestee ’n groot deel van ons begroting aan gesondheidsdienste. Tog is daar ’n fundamentele wanbalans tussen wat ons bestee en die gesondheid van die land se burgers. Net soos ons aanspraak maak op mediese dienste van gehalte vir onsself en ons familie, moet ons dit ook vir ander hê.”

Die president het Suid-Afrikaners gevra om die NGV – wat teen 2025 gereed moet wees – aan te gryp en deel te neem aan die openbare gesprekke wat landwyd hieroor sal plaasvind.

“Ons kan nie ’n voorspoedige en ekonomies vooruitstrewende nasie word as ’n klein minderheid van ons werkmag gesond is en die meerderheid vir swak gesondheid en siekte kwesbaar is nie.

“In dié verband is die NGV nie net ’n gesondheidskwessie nie, maar ook deel van die stryd vir maatskaplike geregtigheid,” skryf die president.

Meer oor:  Ngv  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.