Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NGV: Regsmening ís ingewin, sê minister

Verskeie Grondwet-kenners sowel as die staatsregsadviseur het die hersiene Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) onder oë gehad en het die grondwetlikheid daarvan bevestig.

Dr. Zweli Mkhize
Dr. Zweli Mkhize Foto: GCIS

Dit was Woensdag die antwoord van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, nadat Mmusi Maimane, DA-leier, aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, geskryf en gevra het dat ’n regsmening dringend deur die parlementêre regsdienste ingewin geword oor die grondwetlikheid van dié wetsontwerp.

“Ek wil die publiek gerusstel dat die wetsontwerp aan noukeurige ondersoek deur Grondwet-kenners en die staatsregsadviseur onderwerp is. Die staatsregsadviseur het ook ’n sertifikasie uitgereik om die grondwetlikheid daarvan te bevestig. Die regsmening wat die DA wil inwin, is dus reeds ingewin,” sê die minister in ’n verklaring.

Die DA het ook sy kommer daaroor uitgespreek dat die wetsontwerp moontlik die magte van provinsies sal ondermyn.

Maimane het daarop gewys dat gesondheidsorg ingevolge die Grondwet ’n gedeelde funksie is wat saam deur die nasionale en provinsiale regerings gelewer moet word. Besluitneming word dus tussen die nasionale en provinsiale regering gedeel. Hy sê dit blyk dat die wetsontwerp dié grondwetlik gedeelde mag aktief beperk.

Mkhize verskil egter met hom hieroor. Volgens hom is dit nie die oogmerk van die wetsontwerp om die gedeelde magte wat in die Grondwet verskans is weg te neem nie.

Provinsies se magte 

“Provinsies sal steeds gedeelde mag in die bestuur van gesondheidsdienste onder die NGV hê. Dié magte en rolle sal deur die nasionale en provinsiale regerings bespreek word in ooreenstemming met die gesondheidshervorming.”

Oor die kostegevolge van die NGV sê Mkhize weens die verskillende veranderlikes sal sommige toekomstige koste openbaar gemaak word wanneer dit beskikbaar is. Die NGV sal egter bedryf word “op ’n verantwoordelike manier wat die land sal kan bekostig”.

In reaksie op Maimane se mening dat die NGV op die “nasionalisering” van gesondheidsdienste neerkom, die keuse van gesondheidsverskaffers van landburgers sal wegneem en sal bydra tot die belastinglas van Suid-Afrikaners, sê Mkhize Maimane het duidelik nie die wetsontwerp behoorlik bestudeer nie.

'Rampspoedige gevolge'

“Pasiënte sal steeds in staat wees om hul gesondheidsorgverskaffer van voorkeur onder die NGV te registreer. Private praktyke, apteke en hospitale sal nie genasionaliseer word nie. Dié wat as verskaffers vir die NGV wil dien, sal aansoek doen vir akkreditasie en die NGV sal hom die reg voorbehou om die dienste te bekom van private verskaffers sowel as geriewe in die openbare sektor,” lui die verklaring.

Siviwe Gwarube, DA-LP, sê in reaksie hierop Mkhize se verklaring is daarop gemik om die “rampspoedige gevolge” van die wetsontwerp te onderspeel.

Sy beskuldig Mkhize daarvan dat hy duidelik die “rol van die parlement misverstaan om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou”.

“Die parlement is nie hier om bloot ’n rubberstempel te wees vir ’n problematiese en rampspoedige stuk wetgewing nie,” sê sy.

Dit is waarom die DA die parlement gevra het om sy werk te doen om te bepaal of die wetsontwerp nie strydig is met die Grondwet nie.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Dr. Zweli Mkhize  |  Ngv  |  Mediese Fondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.