Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NGV sal 'ongelykheid in gesondheidstelsel uitwis'
Dr. Zweli Mkhize Donderdagmiddag tydens ’n mediakonferensie in die Mamelodi-hospitaal, oos van Pretoria.Foto: Deaan Vivier

In die verlede het apartheid besluit aan watter siektes jy doodgaan, vandag kan ons nie ’n situasie hê waar jou ekonomiese status bepaal aan watter siekte jy ly nie. Daarom moet Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) so gou moontlik ingestel word, sê dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Mkhize het Donderdagmiddag sy eerste mediakonferensie as nuwe minister van gesondheid in die Mamelodi-hospitaal, oos van Pretoria, gehou.

Hy sê die NGV sal die ongelykheid in die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel uitwis.

Mkhize sê Suid-Afrika is een van die lande waar ongelykheid in die gesondheidstelsel van die grootste ter wêreld is.

“Suid-Afrika benodig ’n gesondheidstelsel waar mense behandel word op grond van die ernstigheid van hul siektes, en nie of hulle ’n mediese fonds of geld het nie.”

Hy sê die NGV is iets wat definitief ingestel sal word. “Dit is nie ’n kwessie van óf die NGV ingestel gaan word nie, dis ’n kwessie van wanneer.”

Dr. Aaron Motsoaledi, voormalige minister van gesondheid, het ’n witskrif en die wetsontwerp oor die NGV uitgereik, maar pogings om dit in te stel, was nie suksesvol nie.

Mkhize sê dit “gaan ’n rukkie neem” om die NGV in te stel.

Buiten die implementering van die NGV, sê Mkhize daar is talle kwessies binne die gesondheidstelsel wat dringend aandag verg.

“Daar is talle kwessies wat ons moet aanpak, onder meer die groot tekort aan personeel, infrastruktuur wat opgeknap moet word, die behoefte om medikasie aan hospitale en klinieke te verskaf en die opleiding van dokters en verpleegsters.”

Hy sê die departement gaan sy begroting hersien om meer geld te bestee aan dringende kwessies.

Hy sê al die kwessies binne die gesondheidsdepartement hoef nie opgelos te word voordat die NGV ingestel word nie.

Hy sê al die kwessies binne die gesondheidsdepartement hoef nie opgelos te word voordat die NGV ingestel word nie.

“Ons kan aan die kwessies aandag gee terwyl die NGV ingestel word. Ons moet alles gelyktydig doen en net aanhou vorentoe beweeg.”

Mkhize se besoek aan die Mamelodi-hospitaal is deel van die jaarlikse Kinderbeskermingsweek.

Dit is dieselfde hospitaal waar Martha Marais (76) van Eersterust op die vloer van die hospitaal met haar hande agter haar rug vasgemaak was. Sy het sowat agt uur lank so gelê voordat haar familie haar gekry het.

Mkhize sê die voorval het die gesondheidsdepartement in die verleentheid gebring en dat dit deeglik ondersoek word.

Hy verduidelik egter dat die voorval gesien moet word in die konteks dat hospitale in die algemeen min hulpbronne het weens die land se algehele finansiële probleme.

“ ’n Mens moet ook besef dat daar sommige mense is wat pasiënte nie reg behandel nie, maar jy kan nie almal in die hospitaal daarvoor blameer nie.”

Hy sê daar is baie goeie dokters en verpleegsters wat hard werk om duisende mense daagliks te help.

Volgens Mkhize is dié hospitaal ook onlangs van ’n distrikshospitaal na ’n streekshospitaal verander.

“Die hospitaal sien dus om na meer mense, maar hulle het nie meer hulpbronne gekry nie.”

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Ngv  |  Gesondheidsorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.