Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NGV-sittings nie ‘misleidend’

Beweringe van die DA dat die openbare sittings gekaap is wat tot dusver oor die Wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gehou is, en dat Suid-Afrikaners daartydens mislei word, is net “politieke pronkery”.

So het dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die portefeuljekomitee oor gesondheid, gesê.

Dr. Sibongiseni DhlomoFoto: IAN CARBUTT

“Dit skep ook die indruk dat sommige politieke partye gedink het dat hierdie verhore ’n mislukking sou wees. Nou dat hulle verkeerd bewys is, gryp hulle na strooihalms.”

Dhlomo het in ’n verklaring gereageer nadat die DA Maandag tydens ’n nuuskonferensie by die parlement gesê het dat die party ’n klag by die parlement ingedien het oor “bedrieglike pamflette met waninligting daarop wat (by van die verhore) uitgedeel is om die publiek te mislei”.

Die DA het verder beweer dat Suid-Afrikaners nie behoorlik ingelig is oor die inhoud van die “gebrekkige” NGV-wetsontwerp nie omdat hulle dink dat die NGV die sukkelende openbare gesondheidstelsel onmiddellik sal regruk.

Die party het ook beweer dat die sittings – wat reeds in Mpumalanga, die Noord-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal gehou is – in politieke saamtrekke ontaard het soos sekere partye hul ondersteuners met taxi’s in politieke gewaad daarheen aangery het.

Volgens Dhlomo laat die beweringe van die DA hom glo dat dit “pure politieke pronkery is wat ’n mens die indruk gee dat sommige partye gedink het dat hierdie sittings ’n mislukking sou wees”.

Dhlomo sê dit is onwaar dat die openbaredeelnameproses tot dusver gebrekkig was of dat landsburgers nie weet waaroor dit gaan nie.

“Daar was ’n wye spektrum van menings. Mense met verskillende agtergronde het hul sê oor die wetsontwerp gesê. As die beweringe waar was, sou ons sekerlik nie verneem het van die kommer wat mense geopper het nie, soos dat die strukturele en infrastruktuurprobleme in die openbare gesondheidstelsel eers opgelos moet word. Alle insae sou dan net positief gewees het.”

Oor politieke saamtrekke het Dhlomo gesê hy het voor die sittings aan alle politieke partye in die parlement geskryf oor die datums en tye van die sittings.

“Ek het hulle ingelig om asseblief hul lede, kiesers en ondersteuners daaroor in te lig. Dit is dus oneerlik van enige party om te beweer dat dit politieke saamtrekke is.”

Dhlomo wou ook weet waarom die DA ook nie in groot getalle met hul ondersteuners opgedaag het om hul menings te lug nie.

“As een party sy ondersteuners bring, weerhou dit nie ’n ander om dieselfde te doen nie.”

Hy het die publiek daaraan herinner dat hulle tot Vrydag het om steeds geskrewe voorleggings oor die NGV-wetsontwerp by die parlement in te dien.

Die portefeuljekomitee se openbare sittings begin Vrydag in die Oos-Kaap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.