SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Politiek
Nieamptelik bevestig Zuma is herroep ná nag van drama
Lede van die NUK verlaat die hotel in Irene ná 'n vergadering wat 13 uur geduur het. Foto: Felix Dlangamandla

Daar was Dinsdag in die vroeë oggendure nog nie amptelike bevestiging dat pres. Jacob Zuma ná ’n nag van hoë politieke drama in Centurion deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) herroep is nie.

Die SAUK het kort nadat die NUK se marathonvergadering van 13 uur omstreeks 03:00 geëindig het, berig Zuma is volgens SAUK-bronne in die NUK herroep.

News24 se bronne in die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam tussen nasionale konferensies, het ook so gesê. ’n Senior bron het dit ook aan die nuusagentskap Reuters gesê.

Die ANC het dit egter nog nie bevestig of ontken nie. Die party het deur die loop van die dag en nag geen inligting oor die vergadering bekend gemaak nie.

'n Mediakonferensie sou aanvanklik om 12:00 by Luthuli-huis in Johannesburg plaasvind, maar die NUK se besluit sal nou eers om 14:00 amptelik bekend gemaak word.

’n Brief sou glo Dinsdag aan Zuma gestuur word om hom oor die NUK se besluit in te lig. Daar sou dan op sy antwoord gewag word.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, vergesel van die ander lede van die ANC se nasionale topses, het omstreeks 23:00 Maandagaand die Saint George-hotel in Irene buite Pretoria in ’n baie groot konvooi verlaat om Zuma by sy ampswoning in Pretoria te gaan sien.

Zuma het ’n groot rol gespeel toe oudpres. Thabo Mbeki tien jaar gelede ook as president herroep is.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, vergesel van die ander lede van die ANC se nasionale topses, het Maandag omstreeks 23:00 die Saint George-hotel in Irene buite Pretoria in ’n baie groot konvooi verlaat om Zuma by sy ampswoning in Pretoria te gaan sien. Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, is saam om 'n onderneming te kry dat hy sou bedank

Volgens bronne was daar 'n lang bespreking waarin Zuma se ondersteuners, insluitende dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, sy eksvrou, vir meer tyd vir Zuma gevra het om sy sake af te handel, berig Netwerk24 se Philda Essop.

Meer as 60% van die sprekers het egter aangevoer dat hy skadelik is vir die ANC en dadelik moet gaan.

Magashule het egter terug by die hotel Zuma se weiering om te bedank (hy het glo gevra om nog drie maande aan te bly) aan die vergadering gekommunikeer. Zuma het blykbaar gedreig: "You will see what I'm capable of." Dit het glo tot die eenparige besluit gelei om hom dadelik te herroep.

Zuma sal na verwagting na Luthuli-huis ontbied word om die kommunikasie van die NUK se besluit Dindagoggend te ontvang. As hy nie dadelik bedank nie, sal die ANC dadelik vra vir 'n mosie van wantroue, berig Essop.

Die ontmoeting met Zuma het net sowat 20 minute geduur. Ramaphosa-hulle het na die NUK-vergadering teruggekeer en hulle was reeds voor middernag terug.

Drie uur later het die vergadering ten einde geloop en dit het by sekere bronne bekend geword die 75-jarige Zuma is ná nege jaar as staatshoof herroep. Sy versoek om drie maande langer staatshoof te wees, is nie deur die NUK aanvaar nie.

Zuma se termyn sou aanvanklik eers ná die algemene verkiesing in 2019 tot ’n einde gekom het.

Waarnemers het deur die loop van die nag gesê die feit dat die vergadering so lank geduur het, dui moontlik daarop dat Zuma meer ondersteuning in die NUK het as wat vermoed is.

Die konvooi met die motor waarin adj.pres. Cyril Ramaphosa ry, verlaat die hotel in die vroeë oggendure ná die vergadering. Foto: Felix Dlangamandla

Dit kan ook dui op groot die tweespalt in die regerende party.

Die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, het Dinsdagoggend in sy reaksie gesê die verloop van Ramaphosa se komende presidentskap was baie nou verweef met Zuma se vroeë uittrede.

“Die afgelope twee weke was mespuntpolitiek wat vergelykbaar is met die deelname al dan nie van die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) voor die 1994-verkiesing.

“Die land het angstig toegekyk terwyl die ANC feitlik in koalisiepolitiek met homself was,” sê Venter.

Hou Netwerk24 dop vir meer inligting.

Meer oor:  Herroep  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.