SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Politiek
‘Nie links genoeg’ vir Skriflesing

Die spogskool in Johannesburg waar Helen Zille in 1968 gematrikuleer het, het op die nippertjie besluit Zille mag nie meer uit die Bybel voorlees by die viering van die skool se 130ste bestaansjaar en Zille se 50-jaar-klasreünie nie.

Helen Zille se alma mater, die St Mary’s School in Johannesburg.

Zille, premier van die Wes-Kaap, sê sy was “aangenaam verras” toe sy onlangs ’n oproep kry van die St Mary’s School, Waverley, se hoof wat haar teenwoordigheid by die reünie laas naweek wou bevestig.

Die hoof het gesê sy hoor Zille is deur die oudleerlinge-bond gevra om as deel van die vieringe die Skriflesing te behartig.

“Sy het toe verduidelik dat die skool deur ’n moeilike jaar is, en dat rassespanning toeneem oor kwessies soos ‘kulturele toe-eiening’,” het Zille op Daily Maverick geskryf.

“Ek het uiteindelik besef sy vra my om nie meer die Skriflesing waar te neem nie. Die hoof het my vinnig probeer gerusstel dat die herroeping van my uitnodiging nie persoonlik was nie – dit sou van toepassing wees op alle politici, hoewel daar, sover ek weet, geen ander politici in die 1968-klas was nie. As sy my sou toelaat om die voorlesing te doen, sou sy politici van elke ander party moet toelaat om by die skool te praat, wat veral ongewens sal wees in die aanloop tot die 2019-verkiesing.”

’n Oudklasmaat van Zille het op voorwaarde van anonimiteit aan Rapport gesê die uitnodiging is teruggetrek weens leerlinge wat voel Zille is “nie links genoeg” nie.

“Die kinders het ander idees oor wat links en wat regs is. Al stem ons nie daarmee saam nie, moet ons hul mening eerbiedig,” het die vrou Vrydagmiddag gesê.

St Mary’s is ’n Anglikaanse private skool wat in 1888 tot stand gekom het en daarop aanspraak maak dat dit Johannesburg se oudste skool is.

Zille, ’n gerespekteerde anti-apartheidstryder wat destyds lid van die Black Sash was, later DA-leier en burgemeester geword het en in 2008 deur St Mary’s vereer is, skryf die “sensuur” toe aan ’n nuwe “kultuur van slagofferskap” teenoor ’n “kultuur van waardigheid” waarmee sy grootgeword het.

“Die paar ontevrede leerlinge glo hulle het die reg om my te verhoed om as deel van die dag se verrigtinge uit die Bybel voor te lees. Hierdie houding is heeltemal onverstaanbaar vir iemand wat aanneem ons lewe in ’n kultuur van waardigheid en wat nie die oorgang na ’n kultuur van slagofferskap verstaan nie.”

Sy glo dié oorgang word dikwels uitgedruk in wat bekend staan as identiteitspolitiek.

“Vir volgelinge van hierdie denkrigting, wat insluit ’n klein groepie meisies by een van die mees bevoorregte skole in Johannesburg, moet enige persoon wat hul analise van die wêreld verwerp, nie die ruimte gegee word om te praat nie, nie eens om in ’n kerk uit die Bybel te lees nie,” sê Zille aan Rapport.

Die skool se bemarkingshoof, Kathy Mittendorf, sê sy is nie by magte om medianavrae te beantwoord nie. “Die hoof is uitstedig en keer ná die naweek terug.”

Meer oor:  Helen Zille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.