Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Nie net ANC se beursie kry seer – sy beeld en aansien ook’ – kenner


Dit is nie net die ANC se beursie wat seergekry het nie, dit is ook sy beeld en aansien.

Só sê dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke ontleder van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth, nadat die ANC sy appèl verloor het teen ’n uitspraak van die hooggeregshof in Johannesburg dat hy meer as R100 miljoen aan ’n maatskappy moet opdok wat vir hom 30 000 verkiesingsplakkate gedruk het.

Die plakkate is voor verlede jaar se algemene verkiesing gebruik om kiesers na die stembus te lok.

“Die beslissing is nie net ’n finansiële slag vir die ANC nie, maar dit sal ook ’n invloed hê op die ANC as handelsnaam,” het Breakfast Woensdag gesê.

Die handelsnaam het die laaste paar jaar heelwat skade gely.

Lees ook: ANC moet R100 m. opdok vir verkiesingsplakkate

Breakfast sê die feit dat die ANC die appèl verloor het, sal ’n invloed hê op die ANC se verkiesingsveldtog voor volgende jaar se plaaslike verkiesing.

Dié verkiesing sal waarskynlik tussen Augustus en November plaasvind.

“Onthou net verkiesings is geldgedrewe. Die uitspraak sal dus ’n invloed hê op die party se beplanning,” sê Breakfast.

Dr. Ralph Mathekga, ook ’n politieke ontleder, meen ook die ANC is onder groot finansiële druk. Hy het die laaste ruk gesukkel met die betaling van sy personeel se salarisse.

“Dit sal ’n groot poging van hom verg om die geld op ’n wettige wyse in te samel.

“Die geldkraantjie is vinnig besig om toe te maak. Dit is waarom die ANC daarop aandring dat die openbare befondsing aan politieke partye verhoog moet word,” sê Mathekga.

“Wie weet, dalk skenk China die geld.”

Theo Venter, politieke kenner van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, meen egter dié terugslag sal nie ’n te groot invloed op die ANC hê nie.

“As Ace Magashule (sekretaris-generaal van die ANC) 20 busse vol ANC-ondersteuners Bloemfontein toe (waar hy twee weke gelede op klagte van bedrog, korrupsie en geldwassery verskyn het) kon stuur om hom te ondersteun, moet hy die vermoë hê om uit ’n groep ‘tenderpreneurs’ die geld te kry.

“Die ANC sal waarskynlik iewers die geld as skenkings kry,” sê Venter.

“Daar het genoeg mense rondom die ANC geld verdien wat nou help.”

Die ANC het onlangs ook gehoor hy moet sowat R260 000 opdok omdat ’n senior afvaardiging van die party onwettig op ’n amptelike vlug van die lugmag Harare toe gereis het.

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het Woensdag nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.