Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Niebetaling was goed in apartheid, nie nou nie – Cyril
Pres. Cyril Ramaphosa

Die kultuur van niebetaling was in die apartheidsjare doeltreffend om gemeenskappe teen ’n onregverdige stelsel te mobiliseer.

Maar in die huidige Suid-Afrika is daar nie plek hiervoor nie omdat nutsdienste soos Eskom nie kan oorleef as die gebruikers nie hul rekeninge betaal nie, sê pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief.

Hy wys daarop dat munisipale skuld aan Eskom beloop sowat R23,5 miljard en styg vinnig.

Hy het erken dat staatsdepartemente Eskom ook baie skuld en dat dit verhaal moet word – so ook dié van private gebruikers. Hy skryf dit is tyd dat dié mense hul rekeninge betaal.

Hy het ook nie doekies omgedraai oor die probleme by Eskom nie.

“Die skade wat kragonderbrekings die ekonomie berokken, is beduidend. Dit dra by tot ’n ongerustheid onder beleggers in ’n tyd waarin ons probeer om meer binnelandse en buitelandse kapitaal te lok en dit makliker probeer maak om hier sake te doen,” sê Ramaphosa.

“Dit is ook verstaanbaar dat Suid-Afrikaners kwaad en gefrustreerd word.”

Die voorkoms van beurtkrag die laaste week wys hoekom dit dringend noodsaaklik is dat iets gedoen moet word om ons energievoorsiening te beskerm.

Ramaphosa skryf die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat onlangs bekend gestel is, is die regering se langtermynplan vir energievoorsiening. Intussen moet alles moontlik gedoen word om die ligte in die land aan te hou.

“Dit beteken ons moet Eskom op ’n gesonde finansiële en bedryfsvlak terugkry.

“Hoewel daar vordering is met die inwerkingstelling van ’n negepuntplan vir Eskom, bly Eskom se finansiële posisie onhoudbaar en sy bestaande bedryfsmodel moeilik.”

Hy het weer gesê ’n nuwe uitvoerende hoof vir Eskom sal binnekort aangestel word, wie se taak dit te same met ’n versterkte raad sal wees om Eskom om te draai.

Hulle sal gelei word deur ’n witskrif oor Eskom wat ook binnekort bekend gestel sal word.

Die herstrukturering van Eskom in drie entiteite – kragopwekking, transmissie en verspreiding – is baie belangrik as hy die uitdagings wat die energiebedryf wêreldwyd in die gesig staar, wil oorkom.

“Eskom se skuld is angswekkend. Nóg hulppakkette sal net nóg groter druk op die staatskas plaas wat reeds beperk is. Die jongste hulppakket aan Eskom sluit baie streng voorwaardes in. Vrugtelose en verkwiste uitgawes moet gestaak word,” skryf Ramaphosa.

Meer oor:  Eskom  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Niebetaling  |  Nuusbrief  |  Beurtkrag  |  Politiek  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.