Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Niehaus kla topleiers van ANC by polisie aan
Carl Niehaus nadat hy Woensdag strafregtelike klagte teen die ANC by die Sentraal-polisiekantoor in Johannesburg ingedien het. Foto: Melinda Stuurman

Pres. Cyril Ramaphosa, ander ANC-topleiers én die regerende party is strafregtelik by die polisie aangekla dat hulle oor die jare heen na bewering “honderdmiljoene rand” van ANC-werknemers se werkgewerbydraes “gesteel” het.

Carl Niehaus, wat verlede Donderdag deur die ANC in die pad gesteek is, het Woensdag dié klagte van diefstal, bedrog en korrupsie “namens ANC-werknemers” by die Sentraal-polisiekantoor in Johannesburg ingedien.

Ramaphosa in sy hoedanigheid as ANC-president saam met adj.pres. David Mabuza, Gwede Mantashe, voorsitter, Paul Mashatile, tesourier-generaal, en Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, asook die ANC self, is die aangeklaagdes.

Die meeste ANC-werkers het hulle egter Woensdagaand “onvoorwaardelik” van Niehaus en die klagte gedistansieer. “Hy (Niehaus) het geen mandaat om ANC-werknemers te verteenwoordig nie. Dit is sy klagte,” het Mvusi Mdala Woensdagaand namens die komitee gesê wat ANC-werknemers amptelik verteenwoordig.

Volgens Mdala onderhandel hulle steeds met die ANC-bestuur oor veral hul uitstaande salarisse en ander werkgewerbydraes.

ANC-werknemers is sedert Augustus op ’n onbepaalde staking weens dié kwessie.

Dit ruik ook na politieke opportunisme omdat hy wettige griewe van werknemers vir faksie-doeleindes aanwend.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke ontleder by die Nelson Mandela-Universiteit, het Niehaus se klagte egter beskryf as “deel van die breër faksie-binnegevegte in die ANC”.

“Dit ruik ook na politieke opportunisme omdat hy wettige griewe van werknemers vir faksie-doeleindes aanwend.”

Niehaus is ’n stoere ondersteuner van Ace Magashule, geskorste ANC-sekretaris-generaal, én oudpres. Jacob Zuma.

Op ’n vraag oor hoekom Magashule nie saam met die ander topses-leiers aangekla is vir die beweerde wandade wat van voor sy skorsing spruit nie, het Niehaus gesê dat hy nie tans deel van die ANC-topses-leierskap is nie en dat dit “agterbaks sal wees om sy naam by te voeg”.

“Dit het niks te make met ons vriendskap nie.”

McDonald Mathabe, ’n “ANC-werknemer” wat die klagte saam met Niehaus ingedien het, ontken dit het iets met faksies te doen.

Hy sê die senior ANC-amptenare moet “weens hul onbevoegdheid en selfsugtigheid pa staan vir hul foute”.

Intussen het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, Woensdag op ’n nuuskonferensie gesê die ANC sal sy samewerking met die polisie-ondersoek na die klagte gee. Hy meen egter Niehaus, “wat die ANC gereeld beledig”, moet bewyse lewer dat hy ’n ANC-werknemer is omdat “ons hom net op televisie sien en nie in Luthuli-huis nie”.

Dr. Llewelyn Curlewis, ’n strafregkenner van die Universiteit van Pretoria, het in reaksie gesê hoewel die klagte ingedien is, beteken dit nie dat daar vervolging sal wees nie.

Volgens hom sal die polisie die klagte ondersoek, waarna die nasionale vervolgingsgesag sal besluit of daar vervolging gaan wees of nie.

Die aangeklaagdes het bogenoemde optrede beken en onder meer by die klaers gepleit om dit nie na die polisie te verwys nie.

Niehaus en Mathabe het in ’n verklaring aan die polisie onder meer aangevoer dat hulle as ANC-werknemers van 2018 tot op hede ’n ooreenkoms gehad het met die ANC dat verskeie aftrekkings vir belastingdoeleindes, asook vir die Werkloosheidsversekerings-, mediese en aftreefonds, van hulle en ander werknemers se salarisse gedoen word.

Die twee beweer daardie geld is egter nooit aan die relevante instellings oorbetaal nie en dat die aangeklaagdes dit “vir hul voordeel en/of die voordeel van die ANC aangewend” het. Hulle beweer dit duur voort.

Hulle eis dat die aangeklaagdes ook van statutêre misdade aangekla word weens die oortreding van relevante wetgewing.

“Die aangeklaagdes het bogenoemde optrede beken en onder meer by die klaers gepleit om dit nie na die polisie te verwys nie.

“Die praktyke waarna verwys word, is wydverspreid en het op ’n massiewe en nasionale skaal oor ’n aansienlike tydperk plaasgevind wat honderdmiljoene rand, indien nie meer nie, beloop.”

Daar is glo “honderde of duisende” slagoffers, maar Niehaus en Mathabe voer aan dat hulle die klagte ingedien het om ander teen “viktimisering, intimidasie en teistering” te beskerm.

Meer oor:  Carl Niehaus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.