Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Niemand gaan plase of eiendom vat,’ sê Ace
Ace Magashule in Khayelitsha.Foto: Adrian de Kock

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het die vrese van sommige mense dat hul plase en ander eiendom as deel van die grondhervormingsproses gevat sal word, probeer besweer en gesê daar bestaan nie so iets nie.

“Wie gaan hul plase vat? Daar is nie so iets nie. Die ANC het herhaaldelik gesê die grondkwessie is sensitief en moet op ’n verantwoordelike manier hanteer word.

“Dit moet ons nooit terugneem nie, maar daar moet radikale transformasie en die onteiening van grond sonder vergoeding wees waar dit noodsaaklik is,” het hy Dinsdag in Khayelitsha gesê, waar hy stemme gewerf het.

Die ANC het volgens hom nog altyd verantwoordelik opgetree. “Ons het verantwoordelik opgetree toe almal gedink het ons gaan kwaad wees en die wit mense die see in dryf. Dit is nie waaroor die ANC gaan nie. Die ANC gaan oor ’n nierassige, nieseksistiese, verenigde en demokratiese Suid-Afrika. Nie almal geniet egter voorspoed en waardigheid nie. Dit is waarvoor ons kragtens die Grondwet moet veg.

“Mense wat eiendom besit, hoef dus nie bang te wees nie, dit is net propaganda. Ons bestuur ’n land, ons wil nie stemme hê deur wilde beloftes te maak nie.”

Faiez Jacobs, die ANC se provinsiale sekretaris, Andile Lili, ANC-raadslid, en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, met ’n stuk van ’n mobiele toilet. Foto: Adrian de Kock

Hy het reënweer getrotseer en sy sjarme van deur tot deur ingespan om mense te oortuig om hul kruisies op 8 Mei vir die ANC te trek, terwyl hy geel ANC-T-hemde, doeke en CD’s uitgedeel het.

Oor Julius Malema, EFF-leier, se stelling dat die “ANC dood is” in reaksie op Magashule se uitnodiging dat hy na die ANC moet terugkeer, het hy gesê die ANC lewe.

“Ons gaan met ’n oorweldigende meerderheid in Suid-Afrika wen!”

Mense van alle bevolkingsgroepe behoort volgens hom vir die ANC te stem.

Magashule het klagtes van die gemeenskap aangehoor oor misdaad, huise en sanitasiegeriewe.

By ’n huis wat in ’n gimnasium omskep is, het hy gewigte opgetel en vir die jong mense gesê hy stap baie, drink baie water en rook en drink nie.

Andile Lili, ’n ANC-wyksraadslid, het by een huis ’n gedeelte van ’n mobiele toilet bekend as ’n “porta potty” gekry wat vroeër baie omstrede was in die Kaapstad-metroraad. Lili was deel van ’n groep wat ’n opgeskorte vonnis en gemeenskapsdiens opgelê is nadat hulle ontlasting uit dié toilette by die Kaapstad-lughawe gegooi het.

Magashule het die toilet opgetel en gesê “dit is wat die DA aan die mense gegee het, en hy wil die mense se stemme hê. Waardigheid is nodig vir die mense van Suid-Afrika. Dit is onaanvaarbaar,” het hy opgemerk.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, spreek ’n skare in Khayelitsha toe.Foto: Adrian de Kock

Baie van dié toilette word nie meer gebruik nie nadat buitetoilette geïnstalleer is.

Magashule het by een van die huise ’n besem gevat en begin vee en by ’n ander huis het hy ’n geel ANC-T-hemp tussen die ander wasgoed opgehang. By nog ’n huis waar ’n gesinsmoord die naweek plaasgevind het, het hy saam met die familie gebid.

Op ’n vraag oor wat hy anders sal doen in die gemeenskap, het Magashule geantwoord: “Ek sal welvaart herverdeel. Die rykes moet die armes subsidieer.”

Alan Winde, die DA se premierskandidaat in die Wes-Kaap, het egter Dinsdagoggend op die bekendstelling van die party se reklamebord in die Kaapse middestad gesê dit is belangrik dat Magashule “wat van korrupsie beskuldig word” uit die provinsie gehou word.

“Vandag sê ons: Hou korrupsie uit die Wes-Kaap, hou mense soos Ace Magashule, die ANC en die EFF uit.”

Meer oor:  Ace Magashule  |  Khayelitsha  |  Eiendom  |  Grondbesetting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.