Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Niemand is bo die reg verhewe – Mabuza

Niemand in die samelewing óf die ANC is bo die reg verhewe nie en daarom moet wetstoepassingsagentskappe enigiemand, “ongeag hul status”, weens beweerde korrupsie en ander misdade in hegtenis neem, sê adj.pres. David Mabuza.

Dit was Donderdagmiddag sy antwoord in ’n mondelingse vraag-en-antwoordsessie in die parlement nadat Siviwe Gwarube, ’n DA-LP, dit aan hom gestel het dat individue met politieke bande en ANC-leiers soos “Ace Magashule, Nomvula Mokonyane, Bandile Masuku en Khusela Diko” die ware vyande van dienslewering in Suid-Afrika is omdat hulle geïdentifiseer is “as mense wat na bewering regstreeks of deur familielede bevoordeel is deur staatskontrakte met miljoene rande se belastingsbetalersgeld”.

Adj.pres. David Mabuza Foto: City Press

Sy wou weet of hy as ANC-adjunkpresident die verwydering van sulke individue uit hul staats- of partyposte ondersteun terwyl hulle ondersoek word.

Mabuza het gesê Suid-Afrikaners moet vertroue in wetstoepassingsagentskappe hê en hulle die ruimte, ondersteuning en respek gun om hul werk sonder enige politieke inmenging te kan doen.

“Ons noem van tyd tot tyd name, maar laat hulle hul werk sonder politieke inmenging doen sodat daar nie môre as iets gebeur gesê kan word dat hierdie ding en name in die parlement bespreek is nie.”

Hy het dit egter duidelik gemaak niemand is bo die reg verhewe nie.

“Daar moet verstaan word dat wetstoepassingsagentskappe sonder vrees of begunstiging enigiemand kan arresteer.”

Heloïse Denner, VF Plus-LP, wou by hom weet hoe die ANC-regering staatsamptenare se moraal en etiek sal kan hernu soos pres. Cyril Ramaphosa beloof het “as die ANC self nie sy eie personeel se salarisse kan betaal én die skelmste en mees korrupte persoon in hierdie land in die vorm van Magashule, huisves en beskerm nie”.

Mabuza het gesê hy gaan nie namens die ANC vrae oor die party beantwoord nie.

“Al wat ek kan sê is, al is jy ’n ANC-, DA- of EFF-lid, gaan die wetstoepassingsagentskappe nie geïntimideer word nie. As ons enigiets verkeerd gedoen het en of ek nou die adjunkpresident of die sekretaris-generaal is, is ons nie verhewe bo die reg van hierdie land nie.

“As die ANC moet ons voorbeeldig wees omdat ons die regering lei. Die ANC gaan nie korrupsie in sy midde duld nie. Ongeag die persoon se status. Ons moet almal die Grondwet en landswette respekteer. Niemand kan bo dit verhewe wees as ons steeds ’n geloofwaardige en baie voorspoedig land wil hê nie.”

Mabuza het ook ’n duidelike waarskuwing gestuur aan staatsamptenare wat hulle deur politieke ampsdraers laat beïnvloed of intimideer om onwettige opdragte uit te voer.

“Selfs al kom daardie opdragte van ’n LUR of ’n minister, as jy dit uitvoer, is jy net so aandadig daaraan en kan jy ook gearresteer word.”

Volgens Mabuza moet staatsamptenare onmiddellik onwettige aktiwiteite by wetstoepassingsagentskappe aanmeld, “al skors hulle jou”.

Mabuza het soos Ramaphosa vroeër ook mense wat Covid-19-verwante korrupsie gepleeg het, beskryf as ’n “pak hiënas wat ’n gewonde prooi omsingel”. Hy het bygevoeg dat dit nie net landsburgers se vertroue in die regering ondermyn nie, maar ook broodnodige beleggers afskrik.

Volgens hom ondersoek die spesiale ondersoekeenheid en ander wetstoepassingsagentskappe reeds maatskappye landwyd weens miljarde rande se Covid-19-korrupsie.

Hy het ook belowe dat die regering die nodige ondersteuning én geld aan wetstoepassingsagentskappe sal verskaf om te verseker dat hulle optimaal funksioneer.

Volgens Mabuza gaan hy ook met Tito Mboweni, minister van finansies, dié se aanstelling van die omstrede joernalis Ranjeni Munusamy as “gemeenskapsuitreik-beampte” in die nasionale tesourie, bespreek.

Hlengiwe Mkhaliphi, EFF-LP, het daarteen kapsie gemaak omdat Munusamy “by die staatskapingskommissie ontbloot is as iemand wat onwettige geld van intelligensiedienste ontvang het”.

‘Geen waarborg oor beurtkrag’

Hoewel Eskom ’n duidelike onderhoudsplan het, kan die regering nie in hierdie stadium waarborg dat daar in die komende maande nie meer beurtkrag in Suid-Afrika sal wees nie.

Adj.pres. David Mabuza het Donderdagmiddag in die parlement gesê dat die land se elektrisiteitsverskaffing steeds “baie beperk” is.

“Eskom het as deel van sy betroubare onderhoud- en herstelplan belangrike verligtingsmeganismes ontwikkel. Dit bied verskeie oplossings wat gaan help om die gaping in die verskaffing van elektrisiteit oor die volgende 18 maande te vul.

“Dit sal die moontlik risiko van beurtkrag versag omdat die inisiatiewe alle kragopwekkingsingrypings deur sowel Eskom as onafhanklike energie-produsente in ag neem.”

Mabuza het gesê dat langtermynbeleggings in die energiesektor noodsaaklik is vir volhoubare elektrisiteitsverskaffing en om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat groei. “Voldoende en betroubare energieverskaffing om die industrialiseringsprogram te ondersteun, is kritiek vir die sukses van die ekonomiese herbou- en herstelplan,” het Mabuza gesê.



Meer oor:  Beurtkrag  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.