Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nierassigheid as amptelike beleid van DA aanvaar

Die DA sal na verwagting Sondag beleid aanvaar dat jou ras alleen nie behoort te bepaal of jy vir staatshulp in aanmerking moet kom nie.

Gwen Ngwenya, DA-beleidshoof. Foto: Elizabeth Sejake

Ook ras- en geslagskwotas sal volgens alle aanduidings verwerp word. Dit word vervang met ’n skerp fokus op die verligting van nood en armoede.

Meer as 200 DA-lede en -amptenare neem sedert gister aan die party se virtuele beleidskonferensie deel wat in April uitgestel is weens Covid-19.

Mmusi Maimane, destydse DA-leier, het die konferensie in Oktober aangekondig nadat ’n verslag oor die party se vertoning in die 2019-verkiesing gelas het dat die beleid oor regstelling en ras hersien word. Maimane het ’n week later bedank.

Gwen Ngwenya, DA-beleidshoof, het Vrydag op ’n mediakonferensie gesê hoewel ras as ’n maatstaf vir benadeling gebruik kan word, moet daar omsigtiger na die oorsake van armoede, ongelykheid en werkloosheid gekyk word.

Twee konsepbeleidstukke is die naweek oop vir debat: “Ons waardes en beginsels” en “Ekonomiese geregtigheid”.

‘Kyk na kwesbaarheid, nie velkleur.'

In laasgenoemde voer die DA aan die ANC se beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) asook geslags- en rassekwotas moet afgeskaf word.

“Die algemene regverdiging vir die gebruik van demografiese kwotas/teikens is dat ons sosio-ekonomiese stelsel steeds gebreek is,” lui die dokument wat vandag bespreek word.

“In 25 jaar sedert demokrasie is steeds nie genoeg gedoen om die ongeregtighede van die verlede reg te stel wat die speelveld ongelyk hou nie. Ons is toegewyd daaraan om te verseker dat die speelveld gelyk gemaak word sodat elke burger ’n regverdige beginpunt het.

“In praktyk beteken dit ’n fokus om die standaard in basiese onderwys te verbeter, om te verseker dat elke kind voldoende voeding kry en in staat is om vroeë ontwikkelingsmylpale te bereik, klem daarop om ons gemeenskappe veiliger te maak, en om groter geleenthede te skep vir buitemuurse ontwikkeling sodat die jeug nie die prooi word van bendes en ander antisosiale gedrag nie.”

17 mikpunte vir menslike vooruitgang wat in 2015 deur die Verenigde Nasies as universele ontwikkelingsdoelwitte aanvaar is, word as die grondslag vir die DA se maatskaplike ingrypings gebruik. Dit sluit in die uitwissing van armoede, die verbetering van basiese gesondheidsorg, gehalte-opvoeding, geslagsgelykheid, bekostigbare, skoon energie en ekonomiese groei.

En as jy kwesbare mense wil help, moet jy kyk na hul kwesbaarheid pleks van hul velkleur.

“Waar dit nodig is om spesifieke begunstigdes te identifiseer, moet hulle geïdentifiseer word deur ’n middeletoets. Dit sluit aanduiders in soos inkomste, geografiese ligging, skoolkwintiel, netto bates, getal afhanklikes en toegang tot basiese dienste.”

Die DA sê deur beleid wat op hierdie doelwitte toegespits is, kan die kwesbaarste lede van ’n samelewing gehelp word eerder as die elite wat tot ’n begunstigde rassegroep behoort.

Eerder as om deur SEB-wetgewing gereguleer te word, moet maatskappye kan kies watter menslike ontwikkelingsdoelwit hulle die beste geposisioneer is om te help bevorder. Die DA verwag beleggers sal so ’n pragmatiese beleid bo SEB verkies, wat deur baie beleggers as ’n bykomende belasting beskou word.

Toe die waardes en beginsels van die party Saterdag bespreek is, was die eerste voorstel wat aanvaar is dat die party nou onomwonde staan vir nierassigheid.

Dit is ’n verbintenis om rassehaat en rassisme te verwerp en ook om vir die dekonstruksie van ras en die herkonstruksie van ’n nierassige toekoms te veg.

Dr. Ivan Meyer, die DA se federale voorsitter, het gesê die DA het selfs buite die party idees vir sy beleid gaan oes. Die publiek kon ook insae lewer.

Die nuwe beleid oor ras sou na verwagting teenkanting kry uit die geledere van Mbali Ntuli, die charismatiese KwaZulu-Natalse LPW wat John Steenhuisen in Oktober uitdaag om die leierspos.

Ntuli het al by herhaling gesê ras bly ’n hooffaktor in Suid-Afrikaners se lewe en dat beleid dit uitdruklik moet takel.

Die DA en SEB

Gwen Ngwenya, ’n voormalige LP, het in Januarie 2019 as die party se beleidshoof bedank omdat die DA-bestuur volgens haar beleid nie ernstig opgeneem het nie.

Sy is destyds skerp gekritiseer deur die partyleierskorps nadat sy haar teenkanting teen SEB in ’n rubriek in Business Day uitgespreek het omdat dit volgens haar nie werklik arm mense help nie. Maimane het oplaas in Julie 2019 in ’n parlementêre debat vir pres. Cyril Rama­phosa gevra om SEB te skrap.

Hy het ’n kommissie oor groei en regstelling aangestel wat ’n nuwe beleidsvoorstel hieroor moes formuleer wat voor die party se federale raadsvergadering in Oktober 2019 moes dien. Die kommissie het egter nie een keer vergader nie.

Nadat Maimane kort ná verlede jaar se federale raadsvergadering bedank het, is Ngwenya weer in November in haar vorige beleidspos heraangestel.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Gwen Ngwenya  |  Ivan Meyer  |  John Steenhuisen  |  Mbali Ntul  |  Da  |  Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.