Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril: ‘Daar’s niks fout!’

Pres. Cyril Ramaphosa weier om te aanvaar dat daar iets onbehoorliks was aan die R440 miljoen wat weldoeners geskenk het aan sy veldtog om ANC-president te word.

Pres. Cyril Ramaphosa toe hy in Desember 2017 verkies is tot ANC-president. Foto: Alet Pretorius

Hy wil daarom die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, se verslag oor die aangeleentheid deur die howe laat hersien.

Mkhwebane het die afgelope week ’n verslag bekend gemaak waarin sy bevind dat Ramaphosa moontlik “gekaap is” deur maatskappye en individue wat miljoene aan sy veldtog geskenk het. Sy sê ook dat die president die parlement mislei het oor ’n skenking van R500 000 van Gavin Watson en dat ander skenkings van R440 miljoen aan die sogenaamde CR17-veldtog om hom tot ANC-president verkies te kry, op geldwassery kan neerkom.

Sy het bevind daar is “meriete” in bewerings dat Ramaphosa ’n reeks trustrekeninge en komplekse finansiële transaksies gebruik het om die oorsprong van miljoene rande se skenkings aan sy veldtog weg te steek.

Baie van die skenkergeld is in die trustrekening van die regsfirma Edelstein, Faber en Grobler (wat sy in die verslag as die “EFG2-rekening” identifiseer) betaal vanwaar dit blykbaar na verskeie ander entiteite, insluitende die Ria Tenda Trust, Linked Environmental Services en die Cyril Ramaphosa Stigting, gevloei het.

Die OB-verslag wys ook watter verstommende bedrae geld ter sprake was in Ramaphosa se pogings om ANC-president te word.

DA loop deur oor sy klag teen Cyril.

Luidens die verslag is R191,5 miljoen tussen 6 Desember 2017 en 1 Januarie 2018 in die EFG2-trustrekening betaal terwyl R190 miljoen weer uitbetaal is aan ander entiteite.

Ander entiteite waardeur CR17-geld gevloei het sluit in:

* R388,5 miljoen wat tussen 1 Januarie 2017 en 20 Februarie 2019 in die Ria Tenda-trustrekening inbetaal is. R388,5 miljoen is uitbetaal.

* R441,2 miljoen wat tussen 15 Desember 2016 en 13 Februarie 2019 gedeponeer is in die FNB-rekening van Linked Environmental Services. R441,1 miljoen is uitbetaal.

 * R336 000 wat tussen 20 Julie 2017 en 26 Maart 2018 van Linked Environmental Services aan die Cyril Rama­phosa-stigting betaal is.

Uit die verslag blyk dit dat een enkele skenker R121,1 miljoen aan Ramaphosa se veldtog geskenk het. Die skenker word nie geïdentifiseer nie. Hierdie geld is blykbaar in drie paaiemente betaal: R30 miljoen op 9 Maart 2017, nege maande voor die ANC se verkiesingskonferensie by Nasrec, en twee verdere bedrae van R39,6 miljoen en R51,5 miljoen, albei op 29 September 2017.

Ramaphosa self het R37,2 miljoen van sy eie geld in sy veldtog gestoot. Hiervan was R31 miljoen as lening en R6 miljoen is geskenk.

Mkhwebane skryf dat in die lig van die groot bedrae geld wat betrokke is sy “voorlopig die siening toegedaan (is) dat so ’n scenario, as ’n mens versigtig daarna kyk, ...die risiko skep van ’n tipe staatskaping deur diegene wat geld aan die veldtog geskenk het”.

Ramaphosa se betoog is egter dat hy self geen voordeel uit die geld getrek het nie en dat parlementêre reëls nie van toepassing is op skenkings aan sy veldtog nie.

In ’n voorlegging deur sy regsfirma, Harris Nupen Molebatsi Attorneys (HNM), het Ramaphosa gesê hy moes tot in Mei 2016 sy eie veldtog finansier en dat hy daarna nooit bewus was wie die skenkers was nie.

“Die finansieskomitee (van die CR17-veldtog) het al die veldtog se geldsake hanteer en moes seker maak dit word versigtig bestee en vir die regte doel, wat die betaling van uitgawes gedurende die veldtog was,” het Ramaphosa betoog.

’n Bondgenoot van die president het aan City Press gesê hy sal die hof waarskynlik vra vir ’n interdik om die implementering te stuit van Mkhwebane se aanbevelings dat die kwessie na ’n parlementêre komitee verwys moet word, sowel as haar opdrag dat hy die identiteit van sy skenkers bekend moet maak. Dít kan korporatiewe Suid-Afrika met rooi gesigte laat. Dit is welbekend dat Ramaphosa en sy teenstander, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, sakelui vir ruim skenkings gesmeek het.

“Die president is nie verplig om skenkings aan sy veldtog te verklaar nie omdat dit nie skenkings aan hom direk was nie, maar aan sy veldtog,” het die regsfirma HNM gesê.

Mkhwebane hou in haar verslag vol dat alle skenkings aan sy veldtog tot Ramaphosa se voordeel was – en dat hy daarvan bewus was. Haar vermoedens oor geldwassery spruit daaruit dat skenkings, onder meer deur Watson se African Global Operations (AGO), voorheen Bosasa, deur verskeie bankrekeninge gestuur is.

Haar ondersoek het gevolg op klagtes deur die DA-leier, Mmusi Maimane, dat Ramaphosa die gedragskode vir lede van die uitvoerende gesag oortree het.

Die ANC het Ramaphosa se besluit verwelkom om die OB se verslag te bestudeer en dan ’n besluit te neem, wat ’n hersieningsaansoek sou kon insluit.

Ramaphosa se besluit volg kort op die hakke van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, om ook die OB se negatiewe bevindinge teen hom in hersiening te neem.

Mkhwebane se jongste bevinding plaas diegene wat haar wil verwyder as OB weens haar vorige regsblapse (soos in haar ondersoek na die Reserwebank) in ’n netelige situasie.

Die DA, een van haar felste kritici, bevind hul nou in ’n posisie waar hulle die OB wil verwyder pas nadat sy hul klagte teen Ramaphosa gehandhaaf het en hulle vermoedens oor sy veldtogfinansiering reg bewys het. Die ANC is ook verdeeld of Mkhwebane nou herroep moet word.

Drie lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het aan Rapport se susterskoerant City Press gesê dit sal ’n fout wees vir Ramaphosa om gesien te word dat hy teen die OB veg.

“Ons sal nie by die NUK vra dat Mkhwebane verwyder word nie, al is ek seker daar is dié wat dit graag wil doen. Hulle het goeie bedoelings, maar dit sal nie goed wees vir die president as dit lyk of hy haar teiken nadat sy ’n bevinding teen hom gemaak het nie.

“Dié ding vereis politieke volwassenheid en ’n langtermynstrategie. Die president het dit korrek hanteer sonder om te probeer om die OB te diskrediteer, so hy sal nie ’n versoek dat sy verwyder word in sy naam ondersteun nie.”

Nog ’n Ramaphosa-bondgenoot in die nasionale uitvoerende komitee sê: “Die NUK-vergadering gaan intens wees, want ons moet die kwessie aanpak en uiteraard sal die ander kant dit gebruik om teen Ramaphosa te veg.

“Die probleem is dat as jy sê hy moet nie verdedig word nie, dan sê jy eintlik dat die ander kant aan die bewind moet kom (’n verwysing na adj.pres. David Mabuza).

“Dit sal ’n ramp wees en ons almal weet dit. Ons moet dinge maar laat uitwerk met hierdie ou.”

’n NUK-lid wat ontevrede is met Ramaphosa se hantering van die OB  se bevindinge teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het ook gesê daar is geen sprake dat die ANC sal kies om Mkhwebane te verwyder nie.

“Die NUK sal verdeel wees oor die kwessie. Ons stem nie daaroor saam nie. Die meeste mense sal nie saamstem nie. Daar is diegene wat sê sy moet waai, maar dit sal nie werk nie.

“Ons sal dit nie toelaat nie.”

’n Vierde NUK-lid sê die besteding van selfs R300 miljoen aan ’n interne ANC-leiersveldtog is te veel.

Maimane sê Ramaphosa moet sy saak in die parlement kom stel.

In ’n onderhoud met Sizwe Mpofu-Walsh, die seun van die EFF-grootkop Dali Mpofu, het Mkhwebane gesê  sy het in ’n stadium geglo dat Ramaphosa werklik nie geweet het van die skenkings aan sy veldtog nie. “Maar nou, met al my bewyse wat ek het, wys dit my dat hy geweet het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.