Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NK-premier sê hoe hy kwelpunte gaan regstel

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, het Donderdag in sy eerste begrotingstoespraak gesê hy het die afgelope drie maande kwelpunte in sy regering geïdentifiseer wat hy met ingrypingsplanne gaan regstel.

Saul wil hiermee die “vertrapte meerderheid” se lot verlig.

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, op sy eerste begrotingstoespraak. Foto: Facebook/ANC

Hy meen sy planne is ’n paradigmaskuif van vorige begrotings omdat hy self die ontwikkeling van die provinsie sal behartig, en hom nie deur “afpersing en weerstand” sal laat afsit nie.

“Die moeilikste taak, soos die komende leefstyloudits op my, alle uitvoerende lede en hoëvlak-amptenare, is die regte taak.”

Hy het die opposisiepartye vir hul kritiek bedank en gesê dit is ’n “waardevolle instrument om te groei en te leer”.

Die premier se kantoor gaan voortaan die beheersentrum word wat ’n moderne, groeiende en suksesvolle provinsie moet skep.

Hulle sal deur leierskap strategiese inisiatiewe instel wat beplanning, monitering en evaluasie behels. Die regering gaan herorganiseer word om meer vaartbelyn te word en duplisering te verminder.

Saul sê sy grootste kwelpunte is: korrupsie by aankoopprosesse; afgesonderde burokratiese prosesse wat dienslewering benadeel (die silo-benadering); ’n raamwerk wat op onafhanklike sfere eerder as samewerking fokus; gebrek aan vaardighede en openbare deelname; gebrek aan samewerking tussen die regering, private sektor en akademiese instellings; swak beplanning en beperkte integrasie van projekte; stadige inwerkingstelling weens beperkte begrotings; gemeenskappe wat nie by infrastruktuurontwikkeling baat vind nie; afgeleefde infrastruktuur; en swak inwerkingstelling van projekte.

Hoewel die Noord-Kaap se begroting van R273 miljard sowat R25 miljoen meer is as in die vorige geldjaar, besef hy dat begrotings later besnoei gaan word.

“Ons moet meer met minder geld vermag.

“Ek wil ’n pro-armoede-beleid volg met ’n mensgedrewe stelsel sonder ’n hinderlike hiërargie. My fokus is op samewerkende regering. Ek wil spesialisvaardighede vir die vierde nywerheidsrevolusie gebruik sodat ons professionele dienste lewer.”

Hy het selfs by die Wes-Kaapse regering kers opgesteek om elektroniese pasiëntlêers in werking te stel.

“Die provinsiale ontwikkelings- en groeiplan wat op die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk gegrond is, moet gefinaliseer en die begroting moet saamgestel word. Dit is ook aan die nasionale ontwikkelingsplan gekoppel.”

Saul gaan ’n provinsiale groei-en-beleggingsberaad hou om armoede, ongelykheid en werkloosheid te takel. Sy planne moet veral jeugdiges, vroue en gestremde mense bevoordeel.

Hiervoor sal hy sy nuwe beursfonds gebruik en met akademiese instellings saamwerk om meer opleidingsgeleenthede vir jeugdiges te verskaf.

Sy planne om ’n staatsbeheerde konstruksiemaatskappy en myn, asook ’n provinsiale sokkerspan te skep, is op dreef.

Meer oor:  Dr. Zamani Saul  |  Noord-Kaap  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.