Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nkandla in VBS-likwidateurs se visier
’n Deel van die hofdokumente waarin Nkandla ter sprake kom.Foto: News24

Oudpres. Jacob Zuma moet die lening van R7,3 miljoen wat hy by VBS Mutual Bank gekry het, dadelik terugbetaal anders kan hy Nkandla verloor.

Die bank se likwidateur, Anoosh Rooplal, het volgens News24 ’n aansoek by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien vir ’n bevel wat Zuma sal dwing om te betaal, alternatiewelik ’n bevel dat op die eiendom beslag gelê mag word.

Nkandla is op die plaas Nxamalala wat deur die Ingonyama-trust in KwaZulu-Natal besit word.

Zuma het die lening by VBS aangegaan toe hy drie jaar gelede gedwing is om R7,8 miljoen aan die Reserwebank te betaal. Dit was sy deel van die uitgawes aan die uitgebreide verbeterings aan Nkandla, wat in totaal R250 miljoen gekos het.

Die konstitusionele hof het in Maart 2016 beslis die destydse openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, se voorskrif vir regstellende optrede – dat Zuma self moet betaal vir sekere aanbouings – is geldig.

Hierdie aanbouings is aanvanklik afgemaak as veiligheidsverbeterings, maar dit het ’n swembad, amfiteater, hoenderhok en veekraal ingesluit.

Volgens hofstukke wat Rooplal ingedien het, het hy en VBS die eerste keer in Augustus verlede jaar aanmaningsbriewe aan Zuma gestuur. Hy was toe R109 568 agterstallig.

Zuma het daarna “sporadies betaal, maar die betalings was almal minder as die ooreengekome maandelikse paaiement”, lui die hofstukke.

Sy paaiement is R69 000 per maand wat oor ’n tydperk van 240 maande (20 jaar) terugbetaal moes word. Die totale leningsbedrag was net minder as R8 miljoen.

Indien hy alles terugbetaal, sal die bedrag – rente ingesluit – op R16 miljoen te staan kom.

Die agterstallige bedrag het intussen tot meer as R550 000 gegroei en daarom eis die bank nou die volle uitstaande bedrag van R7,3 miljoen.

Volgens die leningsooreenkoms kon VBS reeds binne 20 dae nadat hy ’n enkele paaiement gemis het, op die volle terugbetaling aangedring het. Die bank het dit nooit gedoen nie.

Rooplal het wel gereeld met Zuma se regsverteenwoordigers kontak gemaak in ’n poging om die agterstallige geld by hom te kry. Dit was elke keer onsuksesvol.

Zuma moet nou voor Saterdag aandui of hy die aansoek gaan teenstaan. Indien wel, moet hy sy beantwoordende verklaring binne 20 dae daarna indien.

VBS is verlede jaar gelikwideer en dit het daarna aan die lig gekom dat die bank se bestuurslede sowat R1,8 miljard by die instelling geplunder het.

’n Woordvoerder van die oudpresident het nie Dinsdag op geskrewe navrae oor die saak gereageer nie. - News24

Meer oor:  Anoosh Rooplal  |  Jacob Zuma  |  Vbs-Likwidateurs  |  Nkandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.