Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nkosazana wys ’n vinger vir LP’s

Parlementslede wat voorheen gedink het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma weet gewoon nie wat in haar departement aangaan nie, het pas vasgestel wat die eintlike probleem is: Sy gee nie ’n duiwel om nie.

Want Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se onlangse lagwekkende antwoord in die parlement op ’n LP se vraag is maar net die jongste in ’n lang en beskamende reeks.

Om te toets of die agbare minister haar hoegenaamd aan die inhoud van parlementêre vrae steur, en of sy eerder net ’n pro forma-antwoord spoeg-en-plak, het die jong DA-LP George Michalakis haar gevra: “Watter munisipaliteit word beskou as die hoofstad van Suid-Afrika?”

Haar antwoord het Dinsdag gevolg: “Die inligting wat deur die agbare lid versoek word, sal voorgelê word wanneer dit beskikbaar is.”

‘Die inligting is nie nou beskikbaar nie.’

Rapport het vasgestel dit was nie ’n blaps van ’n geringe amptenaar nie. Sedert Dlamini-Zuma in Mei verlede jaar in dié senior portefeulje aangestel is, wat haar die mag gee om al die regulasies in die ramptoestand uit te vaardig, het sy die meeste LP’s se vrae ontduik – selfs dié uit haar eie party.

Verlede jaar het Geordin Hill-Lewis, die DA se sweep belas met parlementêre vrae, in ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa daarop gewys het dat DA-LP’s verlede jaar 110 vrae aan Dlamini-Zuma gestel het. Sy het 108 daarvan met ’n pro forma-antwoord weggeklap, soos nou met die vraag oor die hoofstad.

Rapport het gegewens aangevra van al 55 vrae wat tot dusver vanjaar in die Nasionale Vergadering aan Dlamini-Zuma gevra is. Sy het 47 op dieselfde manier beantwoord. Soms is daar geringe verskille, soos: “Die inligting is nie nou beskikbaar nie, maar sal voorgelê word wanneer dit ingesamel is.” Die 55 vrae vanjaar het nie besondere eise gestel wat betref navorsing nie.

Mirriam Kibi, ’n ANC-lid uit die Noord-Kaap, wou in Maart weet of Dlamini-Zuma se departement munisipaliteite help om na slimtegnologie of omgewingsvriendelike tegnologie om te skakel.

“Die inligting wat die agbare lid versoek, is nie geredelik beskikbaar nie…”

Gordon Mpumza, ’n ANC-lid uit die Oos-Kaap, wou weet of die omstrede gemeenskapswerkprogram nie dalk eerder vaardighede kan help ontwikkel sodat deelnemers makliker kan werk kry nie. Geen inligting was beskikbaar nie . . .

Maggie Tlou, nog ’n ANC-LP en voormalige lid van die Gautengse wetgewer, het gevra waarom daar nie beter stormwatervoorsiening gemaak word in munisipaliteite wat vroeër vanjaar deur oorstromings getref is nie.

Inligting moes eers ingesamel word, moes Tlou hoor.

Nog teleurgestelde ANC-vraestellers was Faith Muthambi, voormalige minister in die portefeulje wat Dlamini-Zuma nou beklee en staatmaker van oudpres. Jacob Zuma, wat nou voorsitter van die portefeuljekomitee vir samewerkende regering is en self op haar dag graag vrae ontduik het.

Muthambi wou weet of Dlamini-Zuma se departement ondersteuning gee aan sukkelende, wanfunksionele munisipaliteite soos Maluti-a-Phofung.

Antwoord: “Die inligting is nie nou in die departement beskikbaar nie . . .”

Nie eens die EFF het enige geluk nie.

Khanya Ceza, EFF-LP uit Mpumalanga, wou weet of Dlamini-Zuma se departement kan help sorg dat die Steve Tshwete-munisipaliteit water aanlê na die L.D. Moetanalo Secondary School.

Die inligting was “nie beskikbaar” nie.

Michalakis sê hy het lankal vermoed ’n amptenaar skryf die antwoorde.

“Dat my vraag oor die hoofstad so beantwoord word, wys dat Dlamini-Zuma die meeste van die skriftelike vrae aan haar nie eens lees nie. Wat my dronkslaan, is hoe besluit word watter vrae wel beantwoord gaan word,” sê hy.

Die enkele vrae wat die afgelope maande wel beantwoord is, het verband gehou met die Covid-19-rampregulasies.

Hill-Lewis sê in sy brief aan Ramaphosa Dlamini-Zuma se optrede laat kommerwekkende vrae ontstaan oor haar toesig oor die uitvoerende gesag.

Hy kla ook oor 14 ander ministers wat vrae laat beantwoord en stel voor dat Ramaphosa vir adj.pres. David Mabuza as hoof van regeringsake meer magte gee om teen ministers op te tree wat vrae minag.

Dlamini-Zuma se houding vereis egter dat Ramaphosa ingryp en tugstappe teen haar oorweeg, lui sy brief.

Thandi Modise, speaker van die parlement, moet volgens die parlement se reëls sorg dat alle parlementêre vrae beantwoord word. Sy doen dit in oorleg met die parlement se reëlskomitee, wat uit die hoofswepe van al die partye bestaan.

Maar tegnies het Dlamini-Zuma wel die vrae beantwoord. Die speaker se hande is derhalwe afgekap – sy kan niks daaraan doen nie, al is dit bloot tegniese antwoorde.

“Daar kan nie toegelaat word dat ’n minister so teenoor die parlement optree nie,” het ’n onberispelike bron in die ANC-koukus Saterdag aan Rapport gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.