Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NMB: Oudamptenaar saam met stiefkinders in hof vir bedrog

’n Voormalige direkteur van die Nelson Mandelabaai-metro se afdeling vir fasiliteitbestuur, het Vrydag saam met sy stiefseun en -dogter vir beweerde tenderbedrog van R16 miljoen in die handelshof in Port Elizabeth verskyn.

Patrick Keble, Seth Terblanche en Roxane Bowers (namens Mandela Bay Electrical CC) staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Die Valke het Keble en sy stiefkinders Vrydagoggend in hegtenis geneem, waarna hulle by die beskuldigdebank in die handelshof ingeskuif het.

Roxane Bowers en Seth Terblanche. Foto: Facebook

Die staat beweer Keble het vir die toekenning van ’n kontrak vir tussen Februarie 2010 en Junie 2013 aan die metro se bodkomitee voorgegee dat hy niks het om te verklaar wat familie- of sakeondernemings betref nie.

Dié kontrak was vir ’n tender wat deur die metro geadverteer is vir herstelwerk aan verskeie geboue onder die metro se bestuur.

Luidens die klagstaat was Keble direkteur vir fasiliteitbestuur, en dus verantwoordelik vir die herstelwerk en instandhouding van munisipale geboue en gereedskap.

As deel van sy amp het Keble ook die tendervereistes vir die betrokke kontrak opgestel.

Altesaam 59 persone of entiteite het aansoek gedoen, maar Keble en sy span het luidens die klagstaat versuim om die aansoekers se dokumente binne die vereiste 90 dae te evalueer. Dit het daartoe gelei dat die tender verval het.

Patrick KebleFoto: Facebook

Die tenderdokumente van dié wat aansoek gedoen het, is by die metro se afdeling wat kontrakte hanteer, gestoor. Keble het op 21 Augustus 2009 die dokumente in sy besit geneem.

Bowers en Terblanche het die beslote korporasie Mandela Bay Electrical CC op 24 November 2009 in die drie beskuldigdes name geregistreer. Op 24 Februarie 2010 het Keble die bogenoemde tender weer geadverteer.

Altesaam 62 persone het aansoek gedoen, insluitende Mandela Bay Electrical CC, wat aansoek gedoen het vir die elektriese komponent van die kontrak.

Die staat beweer Keble het hierna aan die bod-evalueringskomitee gesê Mandela Bay Electrical CC is die geskikte maatskappy vir die kontrak, en hulle het dit so aanvaar.

Luidens die klagstaat het die verslag wat Keble vir Mandela Bay Electrical CC geskryf het, die deurslag gegee sodat hulle die tender van drie jaar kon kry.

Vir die volgende drie jaar het die munisipaliteit meer as R16 miljoen aan Mandela Bay Electrical CC betaal vir sy dienste.

Terblanche, wat die tenderdokumente namens Mandela Bay Electrical CC ingevul het, het versuim om te verklaar dat hy en sy suster iemand ken wat in diens van die munisipaliteit is (hul stiefpa).

Die staat beweer ook dat Keble gunste in die vorm van groot bedrae kontant van sy stiefkinders ontvang het en dat R150 000 oorgeplaas is in die rekening van The Lord our Righteousness Ministry (dié rekening is in die naam van Keble se vrou, Hellen.)

Die beskuldigdes is Vrydag op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

Hulle moet weer op 28 November in die hof verskyn.

Die beskuldigdes het Vrydag hul eerste verskyning in die handelshof gemaak.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.