Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NMB-raad keur konsepbegroting goed ondanks ontwrigtings

Op ’n munisipale raadsvergadering wat gekenmerk is deur protesoptrede, tegniese en kommunikasieprobleme, het die Nelson Mandelabaai- (NMB) metro se raad die konsepbegroting vir die 2020-’21-boekjaar, asook sy geïntegreerde ontwikkelingsplan, goedgekeur.

Die virtuele raadsvergadering is Maandag, twee dae voor die aanvang van die nuwe boekjaar, gehou met raadslede wat kragtens die Covid-19-regulasies in onderskeie lokale en sommiges tuis gesit het. Die vergadering is deur middel van ’n aanlyn rekenaarprogram gehou, met verskeie tegniese probleme wat vertragings veroorsaak het en sommige raadslede wat oënskynlik nie deur die speaker gehoor is nie.

’n Skermgreep van die virtuele raadsvergadering wat Maandag deur die Nelson Mandelabaai-metro se raad gehou is. Foto: Skermgreep

Volgens Buyelwa Mafaya, speaker van die NMB-raad, was 63 van die 120 raadslede teenwoordig toe daar oor die metro se konsepbegroting van R13,3 miljard gestem is, waarvan 62 raadslede die begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan goedgekeur het.

Hoewel Lance Grootboom van die ACDP teenwoordig was, het hy gesê sy party sal nie die begroting kan ondersteun tensy die voorgestelde verhogings op belastingtariewe vir water, erfbelasting, sanitasie en vullisverwydering tot 5% verlaag word nie.

Die metro se konsepbegroting het aanvanklik tariefverhogings van tussen 6,2% en 8,5% behels, maar is ná verskeie vergaderings met raadslede tot 6% afgebring vir water, sanitasie, vullisverwydering en erfbelasting, terwyl elektrisiteit se verhoging steeds 6,2% is.

Grootboom het verder gesê die metro het die inwoners nie genoegsame tyd vir ’n behoorlike openbaredeelnameproses gebied nie, en eis dat die wyksgegronde begrotings in die begroting moet verskyn.

Ons is in besit van ’n opname van die raadsvergadering en gaan die wettigheid daarvan ondersoek, asook alle besluite wat geneem is.

Marlon Daniels van die Patriotic Alliance (PA) het op sy beurt raadslede aangemoedig om die begroting te ondersteun ter wille van die nakoming van regeringstydlyne, maar met voorwaarde dat sekere veranderings gedurende die aansuiweringsbegroting teen einde Julie aangebring word.

Die DA het egter nog voordat daar oor die konsepbegroting gestem is, sy lokaal verlaat. Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap, sê dit was vir hom duidelik die DA en ander partye sou nie ’n geleentheid gegun word om oor die begroting te debatteer nie.

Hy sê die DA voel die huidige koalisieregering (ANC, AIC en UF) was vasbeslote om die begroting deur te druk sonder dat die wet gehoorsaam word en daarom het hulle besluit om hulself van die verrigtinge te distansieer deur uit te stap.

Benewens die begroting, het ’n meerderheid raadslede ook ten gunste gestem van Thsonono Buyeye, waarnemende burgemeester, se besluit van 8 Junie om Noxolo Nqwazi, waarnemende stadsbestuurder, uit haar pos te onthef en met Mvuleni Mapu te vervang.

Uit die raadslede teenwoordig, het 24 teen die besluit gestem, met 31 raadslede wat dit ondersteun het. Die res van die raadslede het buite stemming gebly.

Bhanga het ook dié besluit gekritiseer deur aan te voer Mapu beskik nie oor die nodige vaardighede, kennis en kwalifikasies wat volgens wet vir die posisie voorgeskryf word nie.

Hy het verder beweer die speaker het nadat die DA die raadsvergadering verlaat het, nie die moeite gedoen om te verseker ’n kworum is teenwoordig nie en meen joernaliste, wat ook deel was van die virtuele raadsvergadering, kon moontlik as raadslede getel word.

“Ons is in besit van ’n opname van die raadsvergadering en gaan die wettigheid daarvan ondersoek, asook alle besluite wat geneem is.

“Die DA sal, indien nodig, regsadvies inwin oor die (prosedure) en onregmatige aard van hierdie raadsvergadering.”

Intussen het ’n groep van sowat 200 mense voor die raadsaal in Govan Mbeki-rylaan saamgedrom terwyl die raadsvergadering onderweg was.

Na wat verneem word, het die groep grootliks bestaan uit tydelike munisipale werkers wat onder meer meterlesings vir elektrisiteit doen. Die werkers eis glo ’n permanente aanstelling.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die polisie se eenheid vir openbare orde het die skare aangeraai om uit mekaar te gaan, aangesien die aantal mense by die protes die Wet op Rampbestuur oortree.

“Die skare het geweier en ’n skokgranaat is afgevuur. ’n 42-jarige vrou en twee mans, onderskeidelik 38 en 55 jaar oud, is in hegtenis geneem,” het Naidu gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.