Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
NMB se 1ste burger oorleef 2de mosie van wantroue

Mogameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap, het Dinsdagmiddag ’n tweede mosie van wantroue oorleef.

Die ANC, EFF, PA, AIC en drie DA-raadslede het teen die mosie gestem.

Gemeenskapslede wat die raadsvergadering in die Nangoza Jebe-gemeenskapsaal in New Brighton in Port Elizabeth bygewoon het, het luidrugtig begin sing en dans toe Bobani sy amp as burgemeester behou het.

Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro.

Dié mosie is deur Lance Grootboom van die African Christian Democratic Party (ACDP) ter tafel gelê. Nqaba Bhanga, ’n DA-raadslid, het die mosie om Bobani te ontsetel, ondersteun.

Grootboom het Dinsdag gesê dit sal ’n groot verleentheid vir die stad wees indien Bobani in hegtenis geneem word terwyl hy die stad se eerste burger is. Grootboom het bewerings van korrupsie met die IPTS-busdiens en die Valke se beweerde forensiese ondersoek daarna as redes gegee hoekom daar van Bobani ontslae geraak moet word, voordat die ondersoek tot sy inhegtenisneming lei.

Bhanga, wat op soortgelyke gronde ’n mosie van wantroue teen Bobani ingedien het, het sy mosie teruggetrek om die mosie van Grootboom te ondersteun. “Sedert die dag dat raadslid Bobani (as burgemeester) oorgeneem het, het hy die stad dag na dag afgebreek. Onstabiliteit in die metro is aan die orde van die dag,” het Bhanga aangevoer.

Marlon Daniels, PA-raadslid wat voorheen tussen die tóé regerende DA-koalisie en ANC rondgespring het, het Dinsdag teen die DA gestem. Sy rede hiervoor was omdat Bobani nog net van bewerings rondom korrupsie beskuldig word. “Dit is steeds net aantygings. Gee hom en die regering ’n kans om hul werk te doen.

“Die regering is soos ’n ou Datsun, dit neem ’n tydjie om op te warm. Hulle het maar pas begin, hulle verdien ’n kans om te wys wat hulle kan doen.”

Bobani, ’n UDM-raadslid, is einde Augustus as nuwe burgemeester ingestem nadat Athol Trollip en sy DA-koalisieregering deur middel van ’n wantrouemosie uit die kussings gelig is.

Andile Lungisa, ANC-raadslid, het Dinsdag gesê die ANC sal nie die mosie ondersteun nie. Lungisa het volgehou dat daar “nog nie ’n enkele aanklag” teen Bobani is nie, en in dieselfde asem het hy Trollip van korrupsie beskuldig.

Drie van die DA se raadslede, Mbulelo Manyati, Trevor Louw en Neville Higgins, het ook teen die ACDP en DA gestem. Ná die wantrouemosie teen Trollip het die DA die hof genader om dié drie lede uit die DA te verwyder.

Vroeër Dinsdagmiddag het Buyelwa Mafaya, speaker, en Bicks Ndoni, hoofsweep, ook mosies van wantroue oorleef, wat onderskeidelik deur die DA-raadslede Retief Odendaal en Rano Kayser ingedien is.

Hierdie mosie het geen gronde nie en hoef nie aangehoor te word nie.
Andile Mfunda, ANC-raadslid.

Odendaal het vroeër die dag nóg ’n ronde verloor toe die meerderheid van die raad ook gestem het teen ’n versoek dat daar ondersoek ingestel word na Bobani vir sy beweerde inmenging by die metro se administrasie.

Onlangse mediaberigte oor onwettige inmenging by die administrasie van die Nelson Mandelabaai-metro, asook beweerde aantygings van korrupsie teen Bobani, is deur Odendaal voorgelees en as rede vir sy voorstel vir ’n ondersoek voorgehou.

Die saak is nou onder die aandag van Mafaya gebring en Odendaal meen die wet vereis van haar om die saak te ondersoek en terugvoering te gee.

“Sedert die aantygings het die burgemeester nog nie een keer die raad of die gemeenskap in sy vertroue geneem om sy kant van die saak te stel nie. Die stad se inwoners het die reg om te weet of hul burgemeester ’n skelm is.”

Odendaal het egter sy stelling teruggetrek nadat Mafaya hom daaroor aangespreek het.

Andile Mfunda, ANC-raadslid, het in reaksie gesê hulle kan nie gerugte van die media in die raad debatteer nie.

“Hierdie mosie het geen gronde nie en hoef nie aangehoor te word nie.”

Hoewel die raad teen die versoek van ’n ondersoek gestem het, het Odendaal volgehou dat dié ondersoek na die reëls-en-gedragskomitee en/of die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in die Oos-Kaap (Cogta) verwys word.

*Ander items waaroor tydens Dinsdag se raadsvergadering gestem is, was die verhoging van die IPTS-busdiens se kaartjieprys. Hoewel die DA, ACDP en PA teen die verhoging van R5 na R8 per kaartjie besluit het, het slegs die DA daarteen gestem en gevolglik verloor.

  • Die raad het ook besluit om ’n afslag van 30% vir alle boetes meer as R300 tussen 1 Desember en 28 Februarie vir inwoners van die metro goed te keur.
  • Lukhanyo Mrara, EFF-raadslid, is as die nuwe voorsitter van die reëls-en-gedragskomitee verkies, nadat Andy Jordan, DA-raadslid, deur die meerderheid van die raadslede uit die posisie gestem is.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.