Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nóg Cyril nóg Nkosazana wil tweede viool speel

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het pres. Jacob Zuma se voorstel dat die verloor-kandidaat in die ANC se leierskaps­resies ter wille van eenheid outomaties die adjunk word, afgeskiet.

Die party se leierskapsverkiesing begin Saterdag by Nasrec buite Johannesburg. Die twee kampe beplan om tot kort voor die konferensie nog marathon-vergaderings met afgevaardigdes te hou om koppe te tel.

Albei kampe hoop om ’n deel van Mpumalanga se “eenheid”-stemme te kry – mits die Suid-Gautengse hooggeregshof dié stemme nie Dinsdag onwettig verklaar soos sommige ANC-lede in die provinsie vra nie.

Adj.pres. Cyril RamaphosaFoto: deon raath

Zuma het die meer as 3 700 ANC-afgevaardigdes by die party se beleidskonferensie in Junie gevra om te oorweeg dat die verloorder in die stryd om die toppos die eerste adjunk van die party word. ’n Tweede adjunkpos sou geskep word vir die kandidate wat vir die pos benoem is.

Ramaphosa het Vrydag in ’n onderhoud met City Press gesê Zuma se voorstel is nie goed ontvang nie.

“Die gevoel was dit alles moet gelaat word in die hande van die takke, wat die draers van demokrasie in die ANC is. As jy glo die takke is die lewensbloed in die ANC, moet jy toelaat dat hulle besluit.

“Ek voel sterk hieroor,” het Rama­phosa gesê.

Zuma het twee weke gelede die sewe presidensiële kandidate ontmoet “maar hy het nie probeer om ’n ooreenkoms te bevorder nie”, sê hy.

“Hy was van die begin af duidelik daaroor dat ons as kandidate ons ondersteuners moet aanmoedig om te help om ’n sukses van die konferensie te maak.” Kandidate mag mekaar nie aanval nie en geen verdelende liedere en klere wat ’n voorkeur vir ’n kandidaat uitspreek, sal toegelaat word nie.

Bronne sê Zuma het ’n ultimatum gestel aan die sewe kandidate om met mekaar te praat oor die moontlikheid om ’n “eenheid”-kandidatelys te hê.

“Hy het hulle twee weke gegee. Hy het hulle blykbaar vertel ‘ons gaan na die konferensie sonder om te kompeteer’ en dat hulle moet instem.”

Ramaphosa sê hy glo nie iemand “sal so mal wees” om die konferensie te laat misluk nie. “Dis die een oomblik in vyf jaar waar die ANC-familie byeenkom en waar kameraderie en kollegialiteit na vore tree, en ons moenie dat enigiemand ons van hierdie oomblik beroof nie.

“So ek dink nie enigiemand met verstand sal die sowat 1 miljoen ANC-lede en bykans 10 miljoen ondersteuners van dié grootse beweging beroof van ’n geleentheid om te soek na hernuwing en nuwe stukrag nie.”

Intussen het die voorsitters van die provinsies mekaar in die afgelope sewe dae twee keer ontmoet om mededinging te voorkom. Vroeë aanduidings is dat die gesprekke misluk het. Sommige het gevoel dis te laat omdat die takke reeds besluit het.

Hulle het saamgestem om Ramaphosa en Dlamini-Zuma na die tafel te bring in ’n poging om ’n kompromie te bereik.

Dit was Sihle Zikalala, voorsitter in KwaZulu-Natal, wat die behoefte aan buigsaamheid en kompromie beklemtoon het, maar aan die einde het hy gesê nie alles behoort oor Ramaphosa te gaan nie.

Na verneem word, was die argument oor senioriteit op die tafel en dat “NDZ meer senior is as CR”. Aan die ander kant is kommer uitgespreek oor die vooruitsigte vir die 2019-verkiesing.

Die vergadering tussen Ramaphosa en Dlamini-Zuma het toe nooit geskied nie; nie een was gewillig om die adjunk van die ander te wees nie.

Ramaphosa het gewaarsku dat die demokratiese regte van die takke om hul eie kandidate te kies onder beleg is, met sy kamp wat verneem het van talle pogings om afgevaardigdes wat hom steun om te koop. Hy is bekommerd daaroor.

“Ons kry gedurig boodskappe van mense wat geld aangebied word, asook talle on­reëlmatighede in takke. Dit moet verwerp word, en behoort te stop,” sê hy.

Carl Niehaus, ’n woordvoerder in die Dlamini-Zuma-kamp, het aan Jacob Rooigesê Dlamini-Zuma het onderneem om die uitslag te aanvaar, wat dit ook al gaan wees. Op ’n vraag of sy haar beskikbaar gaan stel as adjunkpresident indien Ramaphosa wen, sê hy “daar sal gesien moet word hoe die situasie hom uitspeel”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.