Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nog geen besluit van kommissie oor Zuma

Die Zondo-kommissie wil nog nie sê of hy oorweeg om oudpres. Jacob Zuma strafregtelik te laat vervolg nadat hy Donderdag se sitting sonder toestemming verlaat het nie.

Die Jacob Zuma-stigting het Vrydag gesê die oudpresident sal eerder deur tronkstraf in die gesig gestaar word as om toe te laat dat die kommissie hom “boelie”.

Eerw. Mbuyiselo Stemela, woordvoerder van die kommissie, het Vrydag by navraag gesê dat die kommissie nog oor die kwessie dink.

Zuma het Donderdag in die teepouse die kommissie sonder toestemming verlaat nadat hy gedagvaar is om te kom getuig. Hy was ontevrede omdat adjunkhoofregter Raymond Zondo sy aansoek verwerp het om hom as voorsitter van die kommissie te onttrek omdat hy meen Zondo is “partydig”.

Zuma beweer hy en Zondo is vriende en dat dit op ’n belangebotsing neerkom. Zondo het dit egter ontken en gesê as Zuma besware het, moes hy dit lankal geopper het.

Oudpres. Jacob Zuma Donderdag op ’n sitting van die Zondo-kommissie. Foto: Melinda Stuurman

Lawson Naidoo, ’n grondwetkenner, sê Zuma het die Kommissiewet oortree deur skynbaar die dagvaarding te minag. Hy kan dus ’n boete of ses maande tronkstraf opgelê word.

“Soos ek die situasie verstaan, kan enigiemand nou ’n klag teen hom indien en nie net die kommissie nie,” sê Naidoo.

Die Jacob Zuma-stigting het Zuma Vrydag in ’n verklaring geloof dat hy deur sy uitstappery “alles op die spel geplaas het” om nie geloofwaardigheid aan ’n “onreëlmatige proses, verbloem as ’n kommissie” te gee nie.

“Ons weet dat Zuma en sy span die heldhaftige standpunt ingeneem het omdat hulle nie bereid is om geboelie te word nie, en eerder besluit het om hul deelname te beëindig ongeag die risiko van minagting van die verrigtinge,” lui die verklaring.

Die stigting het voorts beweer ’n derde mag is agter die skerms wat die kommissie se toutjies trek, en sê hy hoop dat Zondo hiervan bewus is.

“Hulle kan dit wat gebeur het verdraai nes hulle wil, maar hul bose bedoelinge is gedwarsboom en die bevooroordeling het hulle verblind. Ons staan al die pad agter president Zuma, maak nie saak wie hom wil vernietig nie. Hulle sal misluk.”

Deur uit te loop wys Zuma dat hy nog nooit begryp het wat ’n grondwetlike demokrasie behels nie, hoewel hy die hoogste amp in die land beklee het.

Eric Mabuza, Zuma se prokureur, het op ’n vraag oor die moontlikheid van strafregtelike optrede teen Zuma bloot gesê hulle hanteer nog die kwessie.

Hulle oorweeg steeds om Zondo se uitspraak deur ’n hof op hersiening te laat neem en om ’n klag teen Zondo by die regterlike dienstekommissie in te dien.

Dave Steward, voorsitter van die FW de Klerk-stigting, sê as die Zondo-kommissie nie die nodige stappe teen Zuma doen nie, kan hy op ’n kritieke oomblik sy geloofwaardigheid prysgee.

“Die gevaar is dat mense dan sal dink dat die kommissie ’n klug is omdat dit nie die magte tot sy beskikking gebruik om sy mandaat uit te voer deur staatskaping bloot te lê nie.”

Hoewel die kommissie volgens hom steeds in sy verslag sterk bevindinge sal maak wanneer hy sy werk teen Maart afhandel, sê Steward dat Zuma se getuienis sentraal is om te verstaan hoe die land miljarde en miljarde rande in sy termyn as president weens korrupsie verloor het.

Francis Antonie van die Helen Suzman-stigting sê die kommissie sou binne die reg optree deur strafregtelike klagte teen Zuma in te dien.

“Deur uit te loop wys Zuma dat hy nog nooit begryp het wat ’n grondwetlike demokrasie behels nie, hoewel hy die hoogste amp in die land beklee het,” sê hy.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma  |  Oorweeg  |  Besluit  |  Uitstap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.