Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nóg ’n Ace-saak in Vrystaat op die spits gedryf

Die Vrystaat se ‘vrot’ HOP-behuisingskandaal waarby meer as R1 miljard betrokke is en wat volgens ingeligtes by die R2,4 miljard kan draai, gaan dalk die grootste korrupsie-bom uit die Ace Magashule-era in die provinsie word.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA ? SEPTEMBER 11: African
Ace Magashule Foto: Gallo Images

Die Valke se finale ondersoeke is in ’n gevorderde stadium.

Indien inhegtenisnemings volg, kan die saak nog gelyklopend met die verhoor oor die Vrystaatse asbesdakskandaal van R255 miljoen in Bloemfontein aangehoor word.

Intussen is ’n senior amptenaar van die departement van openbare vervolging (NVG) in Bloemfontein geskors. Na bewering hou dit verband met die HOP-behuisingskandaal en ’n dossier hieroor.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die NVG, sê NVG-beleid verbied hom om oor skorsing van amptenare te praat.

“Die saak word intern hanteer.”

Persele soos dié een in Bloemfontein is volop in die Vrystaat waar die kontrakteur met die geld weg is sonder om die HOP-huis klaar te bou. Dit was nadat geld onder die premierskap van Ace Magashule onregmatig vooruit uitbetaal is. Hier is net ’n fondament gelê. Foto: Mlungisi Louw

’n Wavrag lêers is vandeesweek van die Zondo-kommissie in Pretoria na die Vrystaat gebring vir finale ondersoeke na die HOP-behuisingskandaal wat groter as die Vrede-suiwelskandaal (R380 miljoen) en die asbesdak-skandaal (R255 miljoen) saam is.

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het in 2020 in die Vrystaatse wetgewer op ’n vraag deur die DA verwys na die “oordrag van sowat R630 miljoen aan materiaalverskaffers” en gesê dat ’n aantal ondersoeke geloods en ’n klomp amptenare ná tugverhore ontslaan is”.

Met verwysing hierna het sy gesê ’n klag is by die Parkweg-polisiekantoor ingedien en dat dit deur die Valke ondersoek word.

Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, se vraag was of sy haar belofte in 2016 as destydse Vrystaatse LUR vir behuising gestand gedoen het om te sorg dat die omstrede behuisingskontrakte van R1 miljard wat in die Magashule-era in 2010 en daarna gesluit is, ondersoek word.

Jankielsohn sê hy het telkens in die wetgewer gewaarsku dat “Magashule ’n netwerk van misdaadsindikate geskep het.”

Ná sy onlangse tweede hofverskyning (in die asbesdak-saak in Bloemfontein), het Magashule op ’n nuuskonferensie gesê hy is onskuldig, dat hy niks verkeerds gedoen het nie en nie as sekretaris-generaal van die ANC sal bedank nie.

Jankielsohn het in dokumente aan die Zondo-kommissie gesê verskeie kontrakteurs en mense met politieke konneksies word geïmpliseer by massiewe korrupsie met behuisingstenders in die Vrystaat. Die 14 000 gevalle ter sprake is onvoltooide huise en ongeboude huise, nadat geld uitbetaal is.

Een van die HOP-huise in Batho buite Bloemfontein wat wel voltooi is. Foto: Mlungisi Louw.
Nog 'n foto wat die HOP-behuising in Batho by Bloemfontein wys. Dit is onder die huise wat wel voltooi is. Foto: Mlungisi Louw

“Mosebenzi Zwane, was die LUR vir behuising toe die skandaal in 2010 plaasgevind het, wyl Hlaudi Motsoeneng en die vrou van min. Fikile Mbalula, Nozuko Mbalula, wat albei gelyste trustees van die Mbuma Trust en MM Ontwikkelingstrusts is, waarskynlik miljoene rande in provinsiale finansiering ontvang het vir die bou van die maatskaplike behuising in Virginia sonder dat hulle ’n enkele eenheid gelewer het,” het Jankielsohn aan die Zondo-kommissie gesê.

Mxolisi Dukwana, wat in 2010 LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme was, het ook oor die behuisingsbedrog voor die kommissie getuig het. Hy het gesê ongeveer R600 miljoen is aan materiaalverskaffers uitbetaal, maar dat die kontrak altesaam meer as R1 miljard was.

Volgens Dukwana was dit in 2010 toe Tokyo Sexwale, minister van behuising was en Magashule gevrees het die nasionale departement sou geld terugvat omdat die Vrystaat nie vinnig genoeg HOP-huise bou nie. Hy het besluit om al die geld aan maatskappye en beslote korporasies te laat uitbetaal sodat HOP-huise gebou kon word. Later is in 2011 en 2012 nog kontrakte aangegaan.

Dukwana het voor die Zondo-kommisie getuig dat Magashule ’n “toksiese omgewing” geskep het waarin die een skandaal na die ander gevolg het. Oortreders het straffeloos gebly.

Dat die provinsiale regering en munisipaliteite onder Magashule in duie gestort het, sal egter sy grootste skandaal bly, meen Dukwana.

* Die Vogelfontein-behuisingsprojek van R150 miljoen by Bethlehem waarby Magashule se dogter, Thoko Malembe, betrokke is, word deur die openbare beskermer ondersoek.

age magashule

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.