Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nog ’n geheue ‘verfris’ voor Zondo-kommissie

Geheime opnames van telefoonoproepe wat by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping ingedien is, het nou ’n tweede persoon se geheue verbeter oor wat sy aandeel werklik was om die omstrede Gupta-vliegtuig op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria te laat land.

Maj. Thabo Ntshisi, wat in 2013 by die Waterkloof-lugmagbevelspos die klaringsnommer gegee het sodat die Guptas se privaat gehuurde Jet Airways-vliegtuig vol trougaste mag land, is Donderdag teruggeroep om weer voor die kommissie in Johannesburg te getuig nadat hy in Junie in sy getuienis ontken het hy het sekere woorde oor die vlug gesê.

Adjunkhoofregter Raymond ZondoFoto: Skermgreep

Ntshisi se skielike verbeterde geheue volg nadat Bruce Koloane, oudhoof van staatsprotokol en nou ambassadeur in Nederland, ook verlede week onverwags onthou het wat werklik sy aandeel daarin was om die klaring te verkry vir die vliegtuig om te land. Koloane se geheue is ook opgekikker toe die einste geheime opnames van telefoonoproepe by die kommissie ingedien is en die inhoud daarvan openbaar geword het.

In die geval van Ntshisi het adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, Donderdag dit aan hom gestel dat dit dus wel so is dat hy en Koloane asook ander amptenare telefoongesprekke oor die klaring vir die vlug gehad het.

Zondo, wat Ntshisi teruggeroep het, het gevra hoekom hy nou kan onthou wat hy gesê het, maar hy kon dit nie in sy vorige getuienis onthou nie.

Ntshisi het geantwoord toe die opname van die oproepe voor die kommissie gespeel is, het hy onthou wat hy gesê het.

Zondo was nie tevrede met sy antwoord nie en het gesê Ntshisi was baie duidelik daaroor dat hy nie die woorde gesê het nie – hy het nie gesê dat hy dit nie kan onthou nie. Ntshisi het gesê dit is waar.

Die een kwessie wat met die geheime oproepe ter sprake gekom het, is dat Koloane druk op amptenare toegepas het en dit self ook voor die kommissie erken het.

Ntshisi het egter volgehou hy het nie sy besluit geneem omdat Koloane se getuienis druk op hom geplaas het nie.

Ntshisi is ook gevra oor die opname van ’n telefoongesprek wat hy met lt.kol. Christine Anderson, voorheen adjunkbevelvoerder van die Waterkloof-lugmagbasis se verplasingsentrale, gehad het.

’n Ander opname waarin Ntshisi gehoor kan word waar hy die woord “guns” gebruik, is ook by die kommissie ingedien.

Ntshisi het getuig toe hy met Anderson gepraat het, wou hy weet of Waterkloof 217 mense sou kon hanteer.

Anderson het gesê die president (oudpres. Jacob Zuma) weet van die vlug.

Dit is na dié gesprek dat Ntshisi blykbaar besluit het om die klaringsnommer vir die vlug te gee.

Zondo het dit aan Ntshisi gestel hy het dan getuig hy het nie sy besluit geneem omdat hy onder enige druk was nie, maar nou sê hy dat hy besluit het om die klaring te gee oor die druk wat daar was omdat die president se naam genoem is?

Ntshisi het geantwoord toe hy met Anderson gepraat het, is die president se naam genoem.

“Dit beteken nie sy plaas my onder druk nie. Wat sy gesê het, is die president weet daarvan,” getuig Ntshisi.

Ntshisi het getuig selfs toe Anderson dit aan hom verduidelik het, het sy bloot gesê dit kan wees dat die vliegtuig met ’n president of adjunkpresident daarop sal land. Of dit sal mense wees wat deur die president (Zuma) goedgekeur is.

’n Ander opname waarin Ntshisi gehoor kan word waar hy die woord “guns” gebruik, is ook by die kommissie ingedien.

’n Transkripsie van die telefoongesprek lui onder meer: “So ek werk met (’n) klaring, so daar is ’n guns wat ek nou doen . . . oor ’n Indiese vliegtuig wat die 29ste land.”

Ntshisi het erken hy het dit gesê, maar hy het nie bedoel dat hy ’n guns doen en daarvoor ’n guns terug verwag nie.

Hy het wel erken dat hy verwys het na die moontlikheid om ’n pos te kry by die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.