Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nog ’n hekkie uit Ramaphosa se pad verwyder

Malusi Gigaba se onttrekking Dinsdag van die ANC se lys van parlementslede, het die weg gebaan vir pres. Cyril Ramphosa om ’n “skoon regering” te skep.

Só sê prof. Bheki Mngomezulu van die Universiteit van die Wes-Kaap se departement politieke wetenskap. Mngomezulu het Gigaba se bedanking as ’n verrassing beskryf. Hy sê daar is ander ANC-lede wat betrek word by beweerde korrupsie, maar volhou dat hulle onskuldig is tot hulle skuldig bewys word.

Malusi GigabeFoto:

Gigaba, wat onder meer die minister van binnelandse sake was in die tyd toe lede van die Gupta-familie Suid-Afrikaanse burgerskap gekry het, het hom gister as aangewese parlementslid onttrek.

’n Wolk van omstredenheid hang oor Gigaba weens sy noue verbintenis met die Guptas na ’n bevinding van die hooggeregshof in Pretoria, dat hy onder eed gelieg het in ’n hofsaak rondom Fireblade Aviation.

Ook Baleka Mbete, voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, het Dinsdag aangekondig dat sy nie meer as ANC-LP beskikbaar is nie.

Maar Mosebenzi Zwane het terselfdertyd bevestig dat hy Woensdag by die parlement sal wees om as LP ingesweer te word.

Toe Zwane om kommentaar genader is, wou hy weet waarom mense wonder of hy wel as LP beskikbaar is. “Is dit ’n kwessie? Ek het dit aanvaar. Ek het dit nog altyd aanvaar as die ANC met my praat.”

Baleka MbeteFoto:

Zwane bevind homself ook in die middelpunt van bewerings oor staatskaping. Hy sal na verwagting voor die Zondo-kommissie moet verskyn om te verduidelik watter rol hy gespeel het in die Gupta-beheerde Tegeta se verkryging van die Optimum-steenkoolmyn van Glencore in 2015.

Hy word verder verbind met die Estina-suiwelplaas in Vrede in die Vrystaat, wat ’n mislukte poging was om opkomende melkboere te bemagtig. Sowat R30 miljoen van dié suiwelprojek is gebruik om die Gupta-troue by Sun City te finansier. Dit het plaasgevind toe Zwane nog LUR vir landbou in die Vrystaat was, terwyl Ace Magashule, deesdae sekretaris-generaal van die ANC, die premier was.

Bathabile Dlamini, voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, word ook Woensdag as LP ingesweer. Sy is vroeër skerp deur die Konstitusionele Hof gekritiseer oor haar onbeholpe hantering van kontrakte van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa).

Nomvula Mokonyane, die ander voormalige minister oor wie vrae rondom staatskaping gevra word, is Maandag deur die ANC herontplooi. Sy is aangewys as die nuwe komiteevoorsitter van die Nasionale Vergadering. Mokonyane is in getuienis voor die Zondo-kommissie in beweerde staatskapingsbedrywighede betrek. Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het getuig dat Mokonyane van 2002 tot 2016 glo maandeliks R50 000 van Bosasa ontvang het weens haar “noue verbintenis” met oudpres. Jacob Zuma.

Die ANC het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy het kennisgewings ontvang van Gigaba en Mbete se onttrekking as LP’s en dat die ANC se parlementêre lys aangevul sal word om dié leemtes te vul. Die party het geen aanduiding gegee wat die toekoms vir Mbete se inhou nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.