Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nog 'n hofsaak oor OB se Gordhan-verslag

Die derde geïmpliseerde in adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), se verslag teen Pravin Gordhan gaan die verslag ook dringend deur ’n hof laat hersien.

Oupa Magashula.

Oupa Magashula, destydse kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het dit Saterdag bekend gemaak nadat die OB haar skokverslag Vrydag uitgereik het. Sy het onder meer bevind dat Gordhan onbehoorlik en ongrondwetlik opgetree het met die vervroegde aftrede van Ivan Pillay, voormalige SAID-adjunkkommissaris.

Gordhan, minister van openbare ondernemings, was destyds die minister van finansies.

Mkhwebane se verslag se tydsberekening is Vrydag ook deur Gordhan bevraagteken, veral omdat dit uitgereik is enkele dae voordat pres. Cyril Ramaphosa sy nuwe kabinet moet bekend stel.

Gordhan en Pillay het reeds Vrydag aangedui dat hulle die verslag deur ’n hof sal laat hersien omdat dit “feitelik en wettiglik” verkeerd is.

Magashula het Saterdag deur sy regsverteenwoordiger, PF Viljoen van die regsfirma Savage Jooste & Adams, in ’n verklaring gesê hy gaan Mkhwebane se verslag onmiddellik in ’n hof laat hersien.

Volgens hom is hy einde Maart 2019 gedagvaar om getuienis voor die OB af te lê en het hy einde April die OB se voorlopige bevindinge in haar verslag ontvang. Hy is daarin ook uitgenooi om binne 21 dae skriftelik op die aanbevelings daarin te reageer. Hy het sy voorlegging op 21 Mei aan die OB besorg.

“Die onbehoorlike haas waarmee die OB haar bevindings op 24 Mei openbaar gemaak het, is na ons kliënt se mening ’n aanduiding van die feit dat sy baie min of geen ag op die getuienis of aanvullende voorleggings geslaan het nie. Haar bevindings spruit volgens ons uit die foutiewe toepassing van die feite en foutiewe begrip van die reg.”

Intussen het Nicole Fritz, uitvoerende hoof van Freedom Under Law (FUL), Saterdag in ’n verklaring gesê dat die organisasie ontsteld, maar nie verras is deur Mkhwebane se verslag nie.

Volgens haar is die kwessies wat in die OB-verslag hanteer word, presies dieselfde as wat die nasionale vervolgingsgesag gebruik het om Gordhan, Pillay en Magashula eers aan te kla en toe uiteindelik weer die skandalige klagte terug te trek.

“Hierdie poging om dit weer op te rakel as bewys van wandade en aan die publiek voor te hou, is opsig self ontstellend. Maar die OB, wat haar verslag skaars twee dae later uitreik nadat sy reaksie van Gordhan, Pillay en Magashula op haar voorlopige bevindinge ontvang het, maak ’n bespotting van die mees basiese beginsels van geregtigheid.”

Volgens FUL het Mkhwebane ook haar verslag uitgereik in dieselfde week waarin ’n hof oor haar Estina-suiwelprojek-verslag bevind het dat sy haar plig versuim het om die projek deeglik te ondersoek. Die hof het bevind haar verslag is ongrondwetlik en ongeldig en het dit tersyde gestel.

* Intussen het Julius Malema, EFF-leier, Saterdag by Ramaphosa se inhuldiging op Loftus Versfeld in Pretoria gesê as “Ramaphosa respek het vir die OB-kantoor en die konstitusionele hof, sal hy Gordhan nie heraanstel (in sy nuwe kabinet) nie”.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Oupa Magashula  |  Ob  |  Hof  |  Verslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.