Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nog ’n mosie van wantroue in De Lille

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, se kop is wéér op die blok.

Die DA-koukus in die Kaapstadse metroraad het Maandag besluit om nog ’n mosie van wantroue – dié keer ’n interne een – teen haar te bring.

Die stap kom minder as ’n week nadat die DA op sy federale kongres ’n herroepingsklousule aanvaar het wat die party die mag gee om ’n openbare verteenwoordiger te dwing om te bedank.

Patricia de LilleFoto: MLUNGISI LOUW

De Lille, wat uit alle aktiwiteite van die party geskors is, word deur twee tugverhore in die gesig gestaar.

JP Smith, ondervoorsitter van die koukus, het Maandag bevestig dat die koukus “ ’n lang bespreking” oor die kwessie gehad het.

“Die meeste koukuslede het ten gunste daarvan besluit om voort te gaan om die federale uitvoerende leierskap se toestemming te vra om ’n mosie van wantroue in die burgemeester te bring.”

Die verhouding tussen De Lille en die koukus het sedert die mislukte laaste mosie van wantroue in haar “daagliks agteruitgegaan”, sê Smith.

“Die burgemeester se uitlatings teen die DA het dié stap genoodsaak,” sê Smith.

Op ’n vraag oor hoeveel vertroue die party het dat die mosie sal slaag, aangesien De Lille die vorige een met net een stem oorleef het, het Smith geantwoord: “Sy het dit toe oorleef omdat sy die ANC se hulp gehad het. Dié keer sal die party ’n interne mosie van wantroue in haar bring,” het hy gesê.

Twee derdes van die koukus het na verneem word ten gunste van die mosie gestem, 10% het buite te stemming gebly en die res was daarteen.

Die herroepingsklousule wat die DA op die federale kongres op 7 en 8 April aanvaar het, bepaal dat die party van enige openbare amptenaar van die party ontslae kan raak in wie hulle vertroue verloor het. Ingevolge dié klousule kan DA-lede uit uitvoerende poste geskop word en hulle sal 48 uur kry om hul pos te ontruim.

Die party het vroeër ten sterkste ontken dat dié klousule aanvaar is met die doelwit om van De Lille ontslae te raak en gesê dit kan nie terugwerkend toegepas word nie.

Smith het Maandag gesê as die federale uitvoerende leierskorps die groen lig daarvoor gee, is die plan om die mosie so gou moontlik in die koukus te bespreek. As dit suksesvol is, is dit in die “federale uitvoerende leiers se hande” om oor die pad vorentoe te besluit.

Mmusi Maimane, DA-leier, het Maandag op ’n mediakonferensie oor die kongres se resolusies gesê as die koukus ’n mosie van wantroue in De Lille wil bring, het hulle die reg om dit te doen. “Dit moet deur ’n proses gaan. Die koukus moet saamstem daaroor en amptelik aan die federale uitvoerende leierskorps skryf om te hoor of dit moontlik is of nie moontlik is nie.”

De Lille het wenkbroue in die DA verlede week laat lig toe sy opgedaag het by ’n gedenkdiens vir Winnie Madikizela-Mandela in Brandfort wat deur die EFF gereël is sonder om die partyleierskorps daaroor in te lig. Sy was ook ’n spreker by die geleentheid.

James Selfe, voorsitter van die federale raad, kon Maandagaand, pas nadat hy in Johannesburg geland het, nie dadelik bevestig of hy die koukus se versoek al per e-pos ontvang het of nie.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Da  |  Mosie Van Wantroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.