Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nog ’n terugslag vir Mokopane-burgemeester
Andrina Matsemela, burgemeester van die Mogalakwena-munisipaliteit in Limpopo. Foto: Verskaf

Die beleerde burgemeester van die Mogalakwena-munisipaliteit in Mokopane (Potgietersrus) word deur ’n mosie van wantroue in die gesig gestaar.

Korny Dekker, DA-raadslid in die Mogalakwena-munisipaliteit, saam met Mmusi Maimane, DA-leier. Foto: Verskaf

Dit is die jongste terugslag vir Andrina Matsemela, wat glo boonop vir haar lewe vrees nadat twee ANC-hoës twee weke gelede koelbloedig in Mokopane doodgeskiet is. Sy skuil glo in ’n onbekende plek.

Korny Dekker, DA-raadslid in Mokopane, sê dié party gaan op die volgende raadsvergadering, wat binne die volgende twee weke gehou gaan word, ’n mosie van wantroue teen haar indien.

“Dit is tyd dat die burgemeester gaan. Sy gee niks om vir die gemeenskap nie en haar onbevoegdheid veroorsaak erge diensleweringsprobleme,” sê Dekker.

Die dorp is verlede Donderdag en Vrydag verlam toe honderde betogers opgeruk het na die Mogalakwena-munisipaliteitsgebou en haar bedanking geëis het.

Winkels en sakeondernemings moes hul deure sluit en skole is ook gesluit uit vrees dat die betogers daar amok sou maak. Geen voorvalle van geweld is aangemeld nie.

“Sy het niks gedoen om die situasie te beredder nie. Mense is kwaad omdat hulle geld verloor het omdat hul winkels en ondernemings twee dae nie kon oopmaak nie,” sê Dekker.

Winkels, skole en ondernemings was Maandag oop.

* Intussen is niemand nog in hegtenis geneem weens die moorde op Vaaltyn Kekana (54), ’n ANC-raadslid wat die voorsitter van die munisipale rekeningekomitee was, en Ralph Kanyane (32), ANC-takvoorsitter in wyk 10 van die Mogalakwena-streek, nie.

Die twee mans het op Dinsdag 23 Julie omstreeks 14:00 in ’n motor in die dorp gesit en gesels toe hulle koelbloedig doodgeskiet is. Die twee het skaars twee uur tevore op ’n raadsvergadering gevra dat ’n forensiese ondersoek na beweerde tenderbedrog in die munisipaliteit gedoen word.

Matsemela en Soviet Lekganyane, sekretaris-generaal van die ANC in Limpopo, het die moorde veroordeel.

In ’n verdere terugslag vir Matsemela het AfriForum verlede week ’n strafregtelike klag teen haar ingedien omdat sy glo verlede jaar meer as ’n R1 miljoen se munisipale geld vir haar verjaardagpartytjie gebruik het.

Die DA het onlangs ook beswaar aangeteken omdat die munisipaliteit glo R625 000 wil spandeer om amptenare in September na die Suider-Afrikaanse Internasionale Munisipale Sportspele in Lusaka in Zambië te stuur.

Die VF Plus en die DA het ook die nasionale regering gevra om in te gryp by die munisipaliteit se benarde finansiële situasie nadat ’n verslag van die ouditeur-generaal (OG) daarop gedui het dat die munisipaliteit die afgelope drie jaar meer as R1 miljard onregmatig uitgegee het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.