Daar was nóg ’n terugslag vir adv. Busisiwe Mkhwebane, die beleërde openbare beskermer (OB).
Regter Ronel Tolmay van die hooggeregshof in Pretoria het Donderdagoggend beslis Mkhwebane moet persoonlik opdok vir ’n groot gedeelte van die regskoste van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) en die DA in die saak oor haar ondersoek na die Estina-suiwelprojek.
Sy moet 85% van die koste in haar amptelike hoedanigheid as OB betaal en 7,5% in haar persoonlike hoedanigheid.
Tolmay het in Mei beslis Mkhwebane het haar plig versuim om die Etsina-projek te ondersoek en daaroor verslag te doen.

Regter Ronel Tolmay besig om die kostebevel in die hooggeregshof in Pretoria te maak. Foto: Sarel van der Walt
Die verslag was volgens Tolmay ongrondwetlik en ongeldig en sy het dit tersyde gestel.
Die DA en Casac het verlede jaar die aansoek ingedien dat Mkhwebane se verslag ongrondwetlik verklaar en tersyde gestel moet word.
“Sy (die OB) het die mense van Suid-Afrika met die saak in die steek gelaat. Sy het gefaal in haar grondwetlike plig.
Sy het die onverdedigbare probeer verdedig,” het Tolmay Donderdagoggend gesê.
* Die konstitusionele hof het onlangs beslis Mkhwebane moet in haar persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word vir die regskoste van die Reserwebank wat hy aangegaan het om die bevindinge in haar Absa/Bankorp-verslag om te keer.
Die OB het die laaste ruk ook in sewe ander sake in die hof slae gekry.
Oupa Segalwe, Mhwebane se woordvoerder, het buite die hof gesê die OB is teleurgesteld met die uitspraak en sal appelleer.