Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nog skok-uitslae tref DA voor hul nuwe leier kies

John Steenhuisen sal na verwagting Sondag as die DA se tussentydse federale leier aangewys word.

John Steenhuisen

Die afgelope Woensdag se tussenverkiesingsuitslae wys egter watter steil bult enige DA-leier het om te klim.

Hoewel dié party se steun gedaal het in twee wyke in die stad Kaapstad, was dit veral die verlies van ’n wyk in Vredendal-Noord wat die party geskok het.

Die DA het net 39% van die stemme behaal in die Matzikama-munisipaliteit se wyk 4 (Vredendal-Noord) – ’n daling van 11 persentasiepunte sedert die vorige verkiesing daar. Die ANC (51%, +15) het die wyk afgeneem.

In Kaapstad het die DA twee wyke behou, maar steun verloor. In Tafelsig (Mitchells Plain) was die DA-steun 64% (-20) en in Wesbank (by Kuilsrivier en Blue Downs) was dit 49% (-17). In Wesbank het Good 21% gekry.

Betroubare bronne in die DA sê hul interne peilings het nie gedui op probleme in Vredendal-Noord nie, wat beteken daar was ’n groot liegstem – glo die eerste keer dat die party dit ervaar.

Makashule Gana

Die nuwe tussentydse DA-leier se eerste vuurdoop wag dalk op 27 November in wyk 2 van Thabazimbi in Limpopo wanneer die DA die opmars van die VF Plus gaan probeer stuit.

Die DA het die wyk in 2016 met 57% gewen, maar in die Mei-verkiesing tot sowat 50% geval terwyl die VF Plus se steun toegeneem het van 199 wykstemme in 2016 tot 892 op 8 Mei.

Makashule Gana, Steenhuisen se enigste teenstander in die verkiesing vandag, het intussen Vrydag onverwags die steun gekry van Mike Moriarty, DA-voorsitter in Gauteng en die party se hoofsweep in die Gautengse wetgewer. Volgens Moriarty moet die DA ’n “omgee-benadering toon vir die miljoene mede-burgers wat in armoede verkeer, baie hiervan steeds ’n nalatenskap van ons apartheidsverlede”.

Hy sê hy glo Gana het die intellek en visie om die party te lei totdat ’n permanente leier volgende jaar verkies word. By dié kongres, waarskynlik in Meimaand, sal “ons ’n finale kans hê om te wys wie ons in die DA is, waarvoor ons staan en hoe ons die land kan red”.

Gana sê die nalatenskap van apartheid “is steeds met ons” en dat ras steeds ’n aanduider van benadeling is.

“Om eerlik oor die verlede te praat, gaan nie die organisasie breek nie. Versoening in Suid-Afrika is nie moontlik sonder om die verlede se ongeregtigheid te erken nie.”

Die DA-leierspos is vakant nadat Mmusi Maimane drie weke gelede bedank het kort nadat Helen Zille tot voorsitter van die DA se federale raad verkies is. Steenhuisen se profiel as DA-hoofsweep in die nasionale vergadering en koukusleier in die parlement maak hom die gunsteling.

Ná die leiersverkiesing vandag sal die naam van die burgemeesterskandidaat vir Johannesburg ook bekend gemaak word. Herman Mashaba is tot 27 November in dié pos.

Rapport verneem onderhoude is die afgelope week met drie kandidate gevoer en aanbevelings is aan die federale uitvoerende bestuur (Fedex) gemaak.

Meer oor:  Makashule Gana  |  John Steenhuisen  |  Tussenverkiesings  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.