Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Noodplan moet SAL in die lug hou

Die staking by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die gevolglike kansellasie van besprekings deur honderde passasiers het die lugdiens se finan­siële posisie “skielik laat agteruitgaan”, het die departement van openbare ondernemings Woensdagmiddag in ’n verklaring gesê.

Die SAL het ook volgens ’n brief aan werknemers Woensdag die helfte van hul salarisse betaal.

Die departement van openbare werke sê hy werk saam met die SAL om “dringend onmiddellike optrede te formuleer” wat dit vir die lugdiens moontlik sal maak om sy sake voort te sit.

“Die SAL kan egter nie soos nou voortgaan nie.”

Volgens die verklaring lei Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, die proses om te verseker dat:

  • die lugdiens op kort termyn gestabiliseer word;
  • probleme met leierskap en korporatiewe beheer getakel word; en
  • die lugdiens op medium tot lang termyn op ’n “gesonder finansiële voet” geplaas word.

Die agt dae lange staking van die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) is Vrydag beëindig nadat vakbonde vir ’n verhoging van 5,9% geskik het, met die belofte dat ’n taakspan sou ondersoek hoe die verskil tussen dié styging en die 8% wat hulle geëis het, bekostig kan word.

Die SAL het begin om bestuurspersoneel af te lê, maar het die aflegging van ander personeel tot Januarie opgeskort.

Luidens die SAL se brief aan werknemers, wat Netwerk24 gesien het, het werknemers wat vir ’n 13de tjek kwalifiseer, dit ook Woensdag as deel van hul betaling ontvang. Die oorblywende helfte van salarisse sal op 2 Desember betaal word.

“Ten tyde van die uitreiking van dié brief is die finansiering wat die SAL nodig het om salarisse te betaal, nog nie gefinaliseer nie,” het Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, in die brief gesê.

“Die SAL verstaan egter dat werknemers hul finansiële verpligtinge moet nakom. Ons kontantposisie het intussen verbeter en ons kan die salarisse betaal soos aangedui,” sê sy.

Ramasia het herhaal dat die SAL met sy aandeelhouer (die staat) en banke vergader om finansiering vir sy kontantvloeikrisis te probeer reël.

Geen aanduiding word egter gegee of daar in Desember óók probleme gaan wees om salarisse te kan betaal nie.

Te midde hiervan het die SAL se direksie en bestuur Woensdag aan Skoor (die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge) geskryf om te sê hulle kan nie die geskeduleerde vergadering met dié komitee bywoon nie. Mkhuleko Hlengwa, Skoor-voorsitter, sê regsadvies word nou ingewin hoe om die nodige inligting uit die SAL te kry.

Skoor het aanvanklik met die SAL-direksie gereël dat hulle Woensdag om 18:30 in die parlement sou vergader sodat die SAL kan verduidelik waarom hy nou nog nie die afgelope twee boekjare se finansiële state kon indien nie.

Skoor wag ook nog vir inligting wat hy twee weke gelede van die lugdiens versoek het.

Volgens Hlengwa het die komitee besluit om die SAL te vra om die inligting wat hy versoek, teen 3 Desember te verskaf.

Skoor gaan ook op 5 Desember na Johannesburg om met die direksie van die lugdiens, asook met die nasionale tesourie, die departement van openbare ondernemings en die kantoor van die ouditeur-generaal, te vergader.

Die komitee gaan intussen met Gordhan skakel om te help om die proses in die regte rigting te stuur, het Hlengwa gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.