Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Noodskuiling: Kaapstad moet hoes nadat hy MRK in hof wil takel

Regter Siraj Desai het die Kaapstad-metro Woensdag beveel om die koste te dek van ’n hofaansoek wat hulle gebring het teen die Menseregtekommissie (MRK), alhoewel dié hofgeding nooit aangehoor is nie.

Die stad het die MRK verlede jaar op vlak 5 van die nasionale ramptoestand voor die hof gedaag, toe die MRK afgevaardigdes aangestel het om ondersoek in te stel by die Strandfontein-noodskuiling, wat gebruik is om hawelose mense tydens die pandemie te huisves.

Die MRK se monitering is deur die Kaapstad-metro as onwettig bestempel en hulle word daarvan beskuldig dat hulle “politiese opportuniste” aangestel het om leuens te vertel oor een van Suid-Afrika se grootste inisiatiewe om mense wat op die strate woon te help.

Volgens die metro het monitors gewelddadig opgetree en het hulle gekeer dat kos en mediese voorraad afgelewer word.

Desai het egter Woensdag gelas die MRK het binne hul konstitusionele mandaat opgetree om persone aan te stel om die situasie by sentrums vir die haweloses te monitor.

Volgens Desai het die Kaapstad-metro hoofstuk nege-instellings ondermyn.

Greg Wagner, woordvoerder vir burgemeester Dan Plato, sê in ’n verklaring hulle stem nie noodwendig saam met Desai se uitspraak rakende koste nie.

Daar gaan verder besin word oor die stad se posisie sodra die skriftelike weergawe van die uitspraak beskikbaar is.

Eerw. Chris Nissen, kommissaris van die MRK, word daarvan beskuldig dat hy nou nie verantwoordelikheid hoef te neem vir die “onwaarhede” van die “sogenaamde monitors” nie.

Die ingang van een van die persele in Strandfontein waar hawelose mense op vlak 5 van die nasionale ramptoestand gehuisves was. Foto: Jaco Marais

Daar heers vrae oor hoekom hy nooit ’n formele verslag namens die MRK uitgereik het oor die sage nie.

“Mnr. Nissen se MRK kon nie politiek opsy skuif om amptelik te erken (soos wat die nasionale regering gedoen het) dat daar baie moeite gedoen is om na mense wat op straat woon om te sien nie, soos wat die regulasies vereis.

“Ons neem kennis van hul amper eksklusiewe fokus op Kaapstad, en nie elders in die land nie.”

Die Kaapstad-metro hou vol dat dit noodsaaklik was om hul werkers te beskerm van intimidasie en hulle moes keer dat die monitors hulself soos politieke rampokkers gedra.

Nissen sê 550 mense is tydens vlak 5 van die inperking aangestel om die situasie by sentrums landwyd te monitor, en om terugvoering te gee aan die MRK.

Diegene wat aangestel is om plekke te monitor is geakkrediteerde en gerespekteerde persone van instansies soos Doctors without Borders en die Community Chest, sê Nissen.

Hy sê ’n rits probleme en oortredings is by die Strandfontein-noodskuiling opgemerk.

Volgens Nissen het hy vele versoeke gerig aan Plato se kantoor om met hom te vergader, maar die versoeke het geen gehoor gevind nie.

Nissen bestempel die kostebevel teen die metro as ’n verkwistende uitgawe.

“Dit is so verkeerd om ’n persoonlike aanval teen my te loods en dit maak seer.

“Dit is glad nie ’n politieke sage nie. Dit is laag van die stad om dit nou as politiek af te maak.

“Hulle kan maar probeer om my te diskrediteer. Ek gaan my mandaat uitvoer en aanhou om die stem te wees vir arm en kwesbare mense.”

Die metro sê hulle het soos volg gevaar by die skuiling:

• Meer as 1 350 hawelose mense is voorsien van kroniese medisyne en behandeling vir siektes soos tuberkulose, MIV, suikersiekte, hipertensie en epilepsie.

• Meer as 120 mense is herintegreer met hul families.

• Altesame 4 500 maaltye is daagliks verskaf.

• 2 000 matrasse en komberse is aan mense uitgedeel.

• Psigososiale dienste is gebied aan verslaafdes as deel van die rehabilitasieproses.

Luidens die stad se verklaring is alles moontlik gemaak omdat hulle die stad se beperkte hulpmiddele gefokus het op die sentrale Strandfontein-fasiliteit en as gevolg van die hulp van die nieregeringsorganisasies Haven Night Shelter en Ubuntu.

Meer oor:  Ramptoestand  |  Haweloses  |  Hof  |  Skuiling  |  Menseregtekommissie  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.